Die Here se dienaar as lig vir die nasies (49:1-13) – Francois Malan

image_pdfimage_print

Hier is die tweede van die vier profesië oor die dienaar van die HERE (die eerste was in Hoofstuk 42). Die Nuwe Testament sien in dié profesieë ‘n heenwysing na Jesus. Wie die dienaar in die tyd van hoofstuk 49 was, is nie duidelik nie. Serubbabel word soms genoem as ‘n moontlike dienaar, maar die dienaar word beskryf as ‘n profeet wat die reg van God moet verkondig. Gewoonlik word Israel beskou as die dienaar van die Here, maar in verse 5-6 het die dienaar ‘n bediening aan Israel. Daarom is dit die beste om te sê dat die HERE ‘n peroon aangewys het vir genesing en bevryding in die wêreld, met spesiale verwysing na Israel.

49:1-2 Die dienaar van die Here is aan die woord om sy mandaat van die Here aan te kondig. Die oproep aan die eilande/kuslande en die veraf volke (soos in 41:1) is waarskynlik ‘n oproep aan alle nasies op die aarde, en spesifiek aan Israel wat deur die twee ballingskappe verspreid bly onder die nasies. Hulle moet luister na die belangrike boodskap van die Here.

Soos Jeremia (1:5) is die dienaar ook deur die Here geroep nog voor sy geboorte, toe hy nog in die moederskoot was (vgl Paulus in Gal 1:15). Toe het die Here hom al op sy naam genoem – dit beteken eintlik dat die Here hom reeds voor sy geboorte persoonlik geken het. Die Here het hom toegerus vir sy taak – sy mond ‘n skerp swaard gemaak om in staat te wees om die wonderlike boodskap van die Here so te gaan verkondig dat dit deurdring tot die bedoelings en gedagtes van die hart (Hebr 4:12), so ook die skerp pyl, die dienaar se peroonlikheid, wat die Here gebruik om mense se harte te tref en te oortuig. Maar hy was in die tyd van sy voorbereiding vir sy taak deur die Here verberg – in die skaduwee van sy hand, soos ‘n pyl in die Here se pylkoker. So was Moses vir 40 jaar lank in Midian voordat die Here hom na die Farao toe gestuur het (Num 12:3; Hand 7:29-30).

49:3 Die dienaar sê dat die Here vir hom gesê het: Jy is my dienaar – deur sy voorbereidingstyd, maar nou dat hy moet begin optree word dit weer duidelik uitgespel dat hy as dienaar van die Here moet optree. Jy is Israel – hy moet ‘n voorbeeld wees van wat Israel as die Here se dienskneg behoort te wees, en hoe hulle die taak as die Here se dienaar moet vervul. Sy taak is dat die Here verheerlik sal word deur sy lewe en werk as instrument van die Here se doeleindes.

49:4 Maar van die begin af gee die dienaar uiting aan sy frustrasie dat sy arbeid vrugteloos lyk. Dit word met drie woorde uitgedruk: tevergeefs, nietig, waardeloos, het ek my krag spandeer  – ‘n kragtige drietal negatiewe om die reaksie van die mense op sy werk te beskryf. Die negatiewe word egter te bowe gekom met die volgende belydenis: Voorwaar my regsaanspraak is by die Here/my opdrag kom van die Here af, die beloning vir my werk is by/kom van my God. Daarom sal hy voortgaan met sy werk ten spyte van sy frustrasies (vgl. Hebr 12:2). Dit geld ook vir almal wat uitsien na die wederkoms van Christus (2 Tim 4:8).

49:5  Nou –verwys na ‘n nuwe situasie, teenoor die oue wat net frustrasie gebring het deur Israel se hardkoppige verwerping van die Here. Die Here, wat aan die dienaar gevorm het vir sy taak van voor sy geboorte af,  moet nou die Here se skape, wat in die Babiloniese ryk verstrooi is, gaan bymekaar maak  en na die Here toe bring. Kores het dit nou moontlik gemaak vir Israel om terug te gaan, en die dienaar van die Here moet nou die verlore skape van Israel, die oorblyfsel, gaan terugbring na die Here toe. Dit behels hulle bekering deur die verkondiging van die boodskappe van oordeel en verlossing wat in Jesaja aangekondig is.

Vir die dienaar beteken hierdie nuwe opdrag ‘n besondere eer wat die Here aan hom bewys. Hy weet nou dat Hy in die oë van die Here geskik is vir die werk, want die Here is sy sterkte en hy hoef nie op sy eie te werk nie. Dit is die Here wat deur hom gaan werk om die oorblyfsel terug te bring na die Here toe.

49:6 Die oproep van die stamme van Israel en die terugbring van ‘die wat bewaar is’ – die oorblyfsel wat die Here deur die hele ballingskapstyd bewaar het – na die Here en na Jerusalem waar hulle Hom in vryheid kan dien, is egter in die oë van die Here ‘n klein opdraggie. Sy opdrag word uitgebrei om ‘n lig te wees vir die ganse mensdom, vir al die nasies, tot aan die einde van die aarde  moet die Here se verlossing verkondig word.

Die eerste groep wat teruggekeer het was onder die leiding van Sesbassar (538 v.C. Esra 1:11; 5:14-15) wat deur Serubbabel opgevolg is en die tempel begin bou het (Esra 2:2; 3:8; Haggai 1:1; Sagaria 4:6). In 458 v.C. neem Esra die tweede groep Jode terug; Nehemia kom in 445 en weer in 430 v.C. na Jersualem. Elkeen van hulle saam met die priester Jesua en ander was dienaars van die Here. Maar die groot vervulling van die profesie kom eers 500 jaar later met Christus se menswording en deur die eeue met die uitbreiding van sy kerk na al die nasies deur die Here wat elke gelowige roep om met sy lewe en woord die lig vir die nasies te wees met die boodskap van die Here se redding.

49:7 Die vers begin en eindig met ‘n beskrywing van die Here as die Heilige van  Israel=toegewy aan Israel, die getroue Verlosser. Hy het Israel as sy dienaar uitgekies: die ‘in die siel (diep) veragde, Israel, verafsku deur die volke, die slaaf van (die heidense) regeerders. Aan die dienaar van die Here belowe die Here sy verhoging wat so heerlik sal wees dat heidense konings en vorste van hulle trone sal opstaan as eerbewys aan hom, en hulle neerbuig in aanbidding voor die Here wat sy verhoging  bewerk het. In dieselfde terme beskryf Paulus Christus se vernedering en verhoging in Filip 2:5-11 as ‘n voorbeeld vir elke gelowige om mekaar in nederigheid hoër te ag as hulleself.

49:8 Met nadruk op wat nou gesê gaan word, word ‘so sê die Here’ herhaal. Op die dag wat die Here sy welgevalle aan sy kneg en aan sy volk betoon, hoor Hy sy dienaar, en op die dag van verlossing help Hy hom. Ek vorm jou (die Griekse vertaling gebruik die woord plasso waar ons woord plastisiteit vandaan kom, Engels: bv. plasticine) en stel jou aan as ‘n verbond van die volk (soos in 42:6)  – met wie die Here sy verbond met sy volk sal bou – om die land op te bou en die verwoeste erfdele toe te ken. Die vervalle land, wat vir 70 jaar braak gelê het in Juda en amper 200 jaar vir die tienstammeryk,  moet weer opgebou word tot ‘n lushof deurdat elkeen weer ‘n eiendom daarin bekom om dit te bewerk en te bou.

49:9-10 Die dienaar ontvang die gesag om aan die ballinge twee opdragte te gee: aan die gevangenes, die ballinge wat slawe geword het, sê die dienaar: kom/gaan uit, soos met die uittog uit Egipte. Aan dié wat in duisternis is en moed opgegee het in die ballingskap, sê die dienaar: wys jouself – dat jy aan die Here behoort en die vryheid wat Hy jou nou gee, om gebruik te maak van Kores se vry om-terug-te-gaan-verklaring. Die werk van die dienaar is om die ballinge met nuwe initiatief en moed op te wek om terug te gaan na hulle land en daar te begin bou.

Soos ‘n trop skape wat rustig huis toe loop en wei, kan hulle rustig terug gaan in die wete dat die Here vir hulle langs die pad sal sorg – selfs op die kaal heuwels sal daar genoeg kos wees. Soos vir Israel se uittog uit Egipte deur die woestyn, sal die Here sorg  vir water en kos en ‘n wolkkolom bedags as beskerming teen die son. Want Hy wat Hom oor hulle ontferm, sal hulle lei – die Here word nie genoem nie, maar veronderstel, as die Goeie Herder wat hulle sal lei, soos in Ps 23, en hulle gids wees na waterbronne langs die pad (na waters waar daar  rusplek is). So is Jesus ook die Goeie Herder (Jn 10) wat die verlore skape soek (Lk 15), hier die verstrooide volk wat die dienaar bymekaar maak (Jes 49:5). Die idilliese prentjie van die Here as hulle herder word vir die bannelinge geskilder om hulle aan te moedig om terug te gaan Israel toe.

49:11 Soos in 35:8 en 40:3 word paaie en ‘n grootpad vir die ballinge gemaak om terug te gaan, as beeld van die Here se bystand op die reis en in hulle nuwe lewe in hulle tuisland. Dat hulle my paaie en my grootpaaie genoem word, verwys waarskynlik ook na die lewe in Palestina, die land  wat die Here aan sy volk gegee het, en die oorkoming van probleme as hulle terug is in hulle land, wat die Here aan Abraham en Jakob en hulle nageslag belowe het (Gen 13:17; 35:12).

49:12 Die oorblyfsel kom terug uit baie lande waarheen hulle vertrooi is; uit die noorde (rondom die ou Nineve van Assirië) en die weste (letterlik: die seë; uit die eilande in die Middellandse see en Klein-Asië) en uit die land van die Siniete, waarskynlik in die suide van Egipte.

49:13 Die vers is ‘n jubellied oor die werk van die Here wat sy volk se terugkoms bewerk het. Die hemelse skare en die aarde se nasies en berge, die hele skepping moet kom sing oor die Here se vertroosting van sy volk en sy barmhartigheid oor sy nederiges/onderdruktes/armes (‘ani); oor die wonderlike wyse waarop die Here hulle verlos, sonder geweld, uit sy vrye genade oor sy uitverkorenes, sy volk.

Skrywer:  Prof Francois Malan

image_pdfimage_print

You may also like...