Die Here se toorn word vervang met sy troos (51:12-23) – Francois Malan
51:12 Die Here antwoord met ‘n dubbele ‘Ek’ om sy versekering te beklemtoon dat Hyself by hulle gaan optree: Ek, Ek is dit wat jou gaan troos (soos in vers 3 reeds belowe is), nie slegs my arm/mag, soos hulle vra nie (v9).
Maar dan volg die Here se berisping met die vraag aan die ballinge: wie is jy? dat jy bevrees is vir ‘n nietige sterflike mens wat so maklik soos gras vergaan (40:6-7 as die Here sy wind daaroor laat waai). So word Israel telkens verwys na die nietigheid van die mens, om hulle vrees vir mense te oorwin (51:7-8), maar ook om hulle te laat rekenskap gee van hulle identitiet. Aan wie behoort jy?.
51:13 Die rede vir hulle vrees is dat hulle Maker hulle kan vergeet; juis omdat Hy hulle Maker is, sal Hy hulle nie verlaat nie (Deutr 31:6). Hy is die Almagtige Here wat die hemel en die aarde gemaak het (40:22). Om aan Hom te behoort, beteken beskerming teen alle moeilikheid van Babel se kant af. Maar Israel se kleinmoedigheid word beskryf as ‘n aanhoudend bewe van angs. Asof gehipnotiseer deur die toorn van hulle verdrukker wat daarop uit is om hulle te vernietig, doen hulle alles wat Babel sê, in plaas van wat die Here sê, Hy wat die enigste is op wie ‘n mens kan vertrou en behoort te gehoorsaam. Die Here vra spottend waar is die verdrukker se toorn nou, as Kores, die dienaar van die Here, begin optree? In werklikheid bewe Israel van vrees vir ‘n spookgestalte.
51:14 Die wat in kettings sit sal haastig/gou vrygelaat word. Dit verwys na die ballingskap wat sommige wel in die tronk laat beland het (42:7,22), maar baie is vasgevang deur die heidense lewenswyse in die ballingskap in Babel met sy ekonomie wat floreer op slawe-arbeid en geen teenstand duld nie. Hulle word bevry van hulle vrese vir die dood en gebrek aan daaglikse voedsel wat die voorland is van ‘n slaaf wat durf opstaan vir sy regte.
51:15-16 Verse 9-10 het begin met ‘n gebed tot die Here wat die waters van die see beheer. In dié antwoord van die Here verwys Hy ook na sy skepping van die onstuimige see. Hy is die Here (die Ek is, die aktief teenwoordige) God, en sy Naam is die Here van die leërs op die aarde en in die hemel, wat as Almagtige die wêreld beheer en sy volk Israel in sy hand beskerm. Die doel van die Here met Israel is om Palestina weer op te bou as die woonplek van die Here (hemel) en sy volk (aarde), wat ‘n voorafskaduwing is van die nuwe hemel en die nuwe aarde van 65:17 en 66:22.
51:17 In 51:9 het die bidders tot die Here geroep: Word wakker! Word wakker! (1983: Gryp in 2x). Hier roep die Here die ballinge op met dieselfde woorde in die intensiewe refleksiewe vorm: skud julleself wakker! 2x. Jerusalem moet wakker word uit hulle dronkenskap van die beker van die Here se oordeel wat hulle moes drink, en nie meer in selfbejammering vaskyk teen hulle ellende nie. Verse 17 tot 21 beskryf met ryk beelde die Here se oordeelsbeker wat hulle moes leegdrink, die ellende waarin hulle verkeer, as inleiding tot die goeie nuus in verse 22-23.
51:18 Daar was geen leiers vir die volk nie, nie teen die einde van die laaste konings van Juda nie (3:4-7), en ook nie gedurende die ballingskap nie.
51:19 Hulle word verteer deur selfbejammering en selfverwyt. In Jerusalem het hulle slegs verwoesting, vernietiging, hongersnood en bloedvergieting deur Babel gesien. En daar was niemand wat barmhartig teenoor hulle was nie, niemand wat die Here kon gebruik om hulle te troos nie, ook nie in die ballingskap nie.
51:20 Die volk lê magteloos en doelloos op die hoeke van die strate, soos ‘n bok (1983:voël) in ‘n vangnet. Dit is die gevolg van die toorn van die Here. Volgens 51:13 was hulle bang vir die toorn van die verdrukker, maar eintlik is dit die toorn van die Here oor hulle sonde wat hulle in die ellende laat beland het, om hulle deur die verdrukking tot bekering te roep, toe hulle nie na die Here se roep en waarskuwing deur die profete wou luister nie
51:21 Die vers herhaal die beskrywing van Israel in vers 17: dronk, maar nie van wyn nie, dronk van hulle ellende in die Here se oordeelsbeker. Hulle word ná die tyd van ellende, wat die gevolg is van hulle ongehoorsaamheid, opgeroep om nou te luister!
51:22 Om sy innige verhouding tot sy volk uit te druk sê ‘jou Here die HERE jou God’ vir hulle, ook in die ellende van die ballinge, is Hy nog altyd hulle God, die persoonlike teenwoordige aktiewe Ek is – wat sy volk se regssaak behartig: Let op! Ek het die beker wat jou laat strompel het uit jou hand weggeneem, die beker van my toorn, jy sal nie weer daaruit drink nie – die beker is leeg gedrink, die Here se straf oor sy volk is volbring.
51.23 Ten tweede sê die Here: Hy sit die beker van sy toorn nou in die hand van Israel se verdrukkers, wat oor Israel se rug geloop het – sy vroeëre bondgenoot Babel (vgl. Jes 39:7) het Israel eindeloos mishandel en verneder tot ‘n internasionale deurmat wat op getrap word (vgl. 2:11-17). Nou kry Babel die oordeelsbeker om te drink.
Die lang hoofstuk het ‘n reeks versekerings dat wat gewees het, nie meer sal wees nie. Die toorn van God oor Israel word vervang deur sy troos, verlossing en redding. Israel word geroep as dienskneg van die Here om te bou aan die nuwe land en stad en manier van lewe waartoe die Here hulle roep, om sy instrument te wees, om deur dienaars te wees, die wêreld te oortuig dat die Here die ware God is.
Skrywer: Prof Francois Malan