Die sesde wonderteken – die genesing van ‘n blindgeborene op die sabbat (9:1-41)
Die sesde wonderteken – die genesing van ‘n blindgeborene op die sabbat (9:1-41) – Francois Malan
9:1 Die 1983-vertaling ‘terwyl Jesus wegstap’ verbind die gebeure met 8:59 toe Jesus die tempel verlaat het. Letterlik staan daar ‘toe Hy verbystap’ – die genesing het blykbaar ‘n hele ruk later geskied, toe Jesus nog in Jerusalem rondgestap het. Die skrywer plaas egter die genesing van die blindgeborene ná die geestelike blindheid van die Jode in hoofstuk 8, as ‘n bewys dat Jesus die Lig vir die wêreld is, soos Hy in 8:12 gesê het. Hy laat blindes sien en siendes sink weg in die blindheid van ongeloof. Jesus sien egter ‘n man wat van sy geboorte blind was, raak.
9:2 Volgens die opvatting van daardie tyd was siekte die straf vir sonde, en kon die oortredings van ouers straf oor hulle kinders en kleinkinders bring (Eks.20:5). Daarom aanvaar die dissipels dat die man se blindheid ‘n straf is, maar was dit sy eie of sy ouers se sonde? [Die rabbi’s het uit die voorgeboortelike stampery van Rebekka se tweeling (Gen 25:22) die moontlikheid van sonde voor geboorte afgelei].
9:3 Jesus wys die vrae na die oorsprong van die siekte af, en wys na die einddoel van die siekte, nl. dat die werke van God deur die blindgeborene aan die lig kom. Die genesing sal ook bewys Jesus is die ‘Ek is’, die God van die voorvaders (8:58). Die Here maak siende of blind (Eks. 4:11).
9:4 ‘Moet ons’: Jesus betrek sy volgelinge saam met Hom in sy huidige sending, soos Hy ook in die toekoms gaan doen (14:12; 20:21) . In 5:17 het Hy Hom verweer teen die klag dat Hy op die Sabbat genees: ‘My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.’ Hy het gekom om die werke te doen wat sy Sender vir Hom en vir ons opgelê het. Die tyd om dit te doen, is beperk tot ‘terwyl dit dag is’. Hy en elke volgeling van Hom het ‘n ‘uur’ wat deur die Vader bepaal word. Dit gee die versekering en dringendheid aan sy en ons diens aan God en aan mense. Die nag kom – die tyd van sy dood en ons dood, die beëindiging van ons werktyd. Sy dood kom al nader met die Jode wat Hom wil doodmaak. Daarom moet ons nie tyd mors met vrae oor waarom dinge met ons gebeur nie (v3), maar lewe met die oë gerig op die einddoel van ons lewe, om die werke te doen wat die Vader vir ons en vir Hom oplê.
9:5 Terwyl Jesus egter nog in die wêreld is, is Hy die Lig vir die wêreld (8:12: ‘wat lewe gee’). Daarvan gaan die wonder van die blindgeborene se genesing ‘n simbool, ‘n teken, ‘n bewys wees. Die man wat tot nou toe in die duister geleef het, ontvang lig vir sy oog en vir sy lewe.
9:6 Jesus spoeg op die grond, maak daarmee klei aan, en smeer dit aan die blindgeborene se oë. Dit verskil van die ander genesings deur aanraking (Mt 20:34), met ‘n enkele woord (Mk 10:52; Lk 18:42), in Mk 7:34 nadat hy sy vingers in die doofstomme se ore gesteek en spoeg aan sy tong gesmeer het om die doofstomme, wat Hom nie kon hoor nie, te laat verstaan (vgl. Mk 8:23,25 met spoeg en handoplegging). Verskillende verklarings word vir die optrede gegee: In die volksgeloof is spoeg soms as ‘n magiese geneesmiddel vir sekere kwale beskou. Die rabbi’s het ‘n verbod daarop geplaas weens die verband met towery. Jesus gebruik dit om die geloof in die man te wek, en so die swakheid van die mens tot hulp te kom. Die hoofsaak is egter geloofs-gehoorsaamheid, daarom kry die blinde die opdrag om hom in die Siloambad te gaan was.
[Die maak van klei is deur die kerkvaders verbind aan die skepping van die mens uit die stof van die aarde (Gen.2:7). Ireneus het daarop gesê: dit wat die Kunstenaar – die Woord – uitgelaat het om in die moederskoot te vorm het Hy in die openbaar voorsien, sodat die werke van God in Hom tot openbaring kom.]
9:7 Siloam is die Griekse spelling vir die Hebreeuse Sjiloach (Jes 8:6), ‘gestuur’ wat verwys na die water wat uit die Gihonfontein met die tonnel deur die berg na die bad gestuur is. Johannes sien Jesus as die ‘Gestuurde’ , die geestelike Siloam. Die blinde kan sien, nadat hy in Siloam gebad het (vgl. Naäman in die Jordaan , 2 Kon 5:10-14), maar hy verkry sy sig eintlik deur God se ‘Gestuurde,’ Die identifisering van Jesus met Sjiloach is moontlik gesuggereer deur Jakob se seën van Juda: ‘jy sal altyd heers, jy sal aanhou regeer totdat Silo kom, die heerser aan wie die volke hulle sal onderwerp’ (Gen 49:10 Silo in Hebreeus: Sjiloh). Jesus se spoeg en klei, en die blinde se gehoorsame was in Siloam was tekens om die blinde se geloof te versterk. Sy ondervraers was oortuig dit is Jesus self wat hom genees het (9:11,15). Die blindgeborene wat Jesus se woord gehoorsaam, kom siende terug. Die ontwyfelbare wonder het geskied.
Skrywer: Prof Francois Malan