Die Siel
Siel – Francois Malan
Jan vra:
Gen 2: 7 sê: En die Here God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het die mens ‘n lewende SIEL geword. Mens saamgestel uit gees, siel en liggaam. Wanneer die wedergebore mens sterf gaan sy gees na God toe en sy liggaam word stof waaruit dit geneem is. Sy siel behels die mens se wil, intellek en emosies. Wat word van die siel by sodanige afsterwe. Die algemene uitdrukking ” Die Here het my siel gered” het vermoedelik betrekking op ‘n skrif soos 1 Petrus 1: 9: “en die einddoel van julle geloof, die saligheid van julle siele..”. Hoe steek die drie dimensie inmekaar, asb.
Antwoord
Prof Francois Malan antwoord:
Die Hebreeuse woord nefesj (siel) kom 755 maal in die Ou Testament voor. Die woord beteken eerstens ‘keel’ (soos in Jes 5:14: die doderyk maak sy ‘keel’ wyd oop) en dan ‘asem’ wat deur die keel kom (soos in Job 41:12 vir die krokodil, letterlik: Leviatan, se asem wat vure aansteek). Daarnaas dui die woord ook ‘lewe’ aan in Gen 9:4,5; dat die lewe (nefesj) van die dier in sy bloed gesetel is, wat die Here gegee het om vir julle lewens (nefesj) versoening te doen (Lev 17:11).
Soos asem ‘n teken van lewe is, beteken nefesj (siel) ook lewe of lewensgees. In Gen 1:30 word gesê dat die Here aan al die diere, ‘aan alles wat leef (Letterlik: alles wat ‘n ‘lewende siel’ het) die groen plante gee as kos. Job 12:10 se digterlike taal gebruik siel en gees as sinonieme om lewe uit te druk: Hy het al wat lewe (letterlik: die siel van elke lewende ding) in sy mag, die asem (ruach gees) van elke mens. Vgl. Openb 8:9: ‘n derde van alles wat in die see lewe (letterlik: wat in die see siele het). Solank die mens lewe is die lewe (siel) nog in hom: Saul sê in 2 Sam 1:9 ‘…want ek leef wel nog…’ (letterlik: my siel is nog in my). In Hand 20:10 sê Paulus van Eutiges wat by die derde verdieping af geval het: Hy lewe! (letterlik: sy siel is in hom). By die dood verlaat die ‘siel’ die mens, soos Ragel wat sterf volgens Gen 35:18: Maar Ragel was aan die sterf, en terwyl sy haar laaste asem uitblaas… (letterlik: toe haar siel besig was om te vertrek, want sy het gesterf,…
Daarom vertaal die 1983-vertaling Gen 2:7 met: ‘Die Here God het toe die mens gevorm uit die stof van die aarde en lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens ‘n lewende ‘wese’ (nefesj) geword het.’
Toe die Griekse vertaling van die Ou Testament in ongeveer 250 voor Christus begin, het hulle die Griekse woord psuche gebruik om die Hebreeuse woord nefesj te vertaal in 600 van die 755 gevalle. Die Griekse woord psuche beteken ‘lewe’ en word ook gebruik om ‘persoon’ uit te druk, en dan verskeie aspekte van die mens, as die sentrum van emosies, begeertes en gevoelens, word ook gebruik vir die gees van die heelal en van die mens. Maar die Griekse woord het ook die betekenis van die onsterflike siel binne die sterflike liggaam gehad, wat die Hebreeuse psuche nie het nie. Die algemene uitdrukking: die Here het jou siel gered, met die konnotasie wat ons aan die siel begin heg het as die onsterflike siel in onderskeiding van die sterflike liggaam, is eintlik nie ‘n Bybelse gedagte nie, maar kom uit die Griekse filosofie. Daarom is die straf op die sonde van die mens volgens Genesis 3:19: Stof is jy en tot stof sal jy terugkeer. Sonder om bewuste onsterflikheid aan die mens toe te ken. Prediker 12:7 voeg daarby: ‘Die tyd wanneer die stof tot die aarde terugkeer soos dit was, en die gees (ruach, lewensasem) na God terugkeer wat dit gegee het.’ Dit was eers Jesus se opstanding uit die dood wat vir ons bewys het dat daar plek is vir die mens in die ewigheid. Die Psalms is vol klagte by die Here dat die dooies nie meer die Here kan prys nie, en in die vergetelheid versink.
Die Bybel sien die mens as ‘n lewende eenheid. In die Ou Testament sterf die mens se gees en liggaam. Enkele ligpuntjies oor ‘n lewe na die dood blyk uit die profete en veral by Daniël (vgl. 12:2,3). Maar in die Nuwe Testament verander die uitsig op die lewe na die dood. Jesus het nie net die siel kom red nie, maar ook die siek liggame van mense kom genees. Hy het nie slegs met sy gees of siel opgestaan uit die dood nie, maar ook met sy liggaam, wat verander het in ‘n verheerlikte liggaam. So verwag ons ook ‘n verheerlikte liggaam met die opstanding wanneer Jesus weer kom (vgl. 1 Kor 15:20-28 en veral 15:35-57; vgl. ook die ewige heerlikheid wat o.a. in Mat 25:34 geteken word, en die ewige straf in Mat 25:41; Rom. 8:18; Kol.3:4, ens.).
Die Griekse woord psuche (siel) verwys in die Nuwe Testament na die lewe van die mens as denke, wil, en gevoel – jou innerlike self, denke, gedagtes, gevoelens (begeertes), jou hart, jou wese.
In Flp 1:27 vat die 1983-vertaling ‘een gees, een siel’ saam as sinonieme vir versterking:
volkome eensgesindheid, waar dit gaan om die een doel of begeerte in die
geestelike stryd om die geloof.
In Mat 26:38 word ‘my siel’ vertaal met ‘Ek’ is doodsbenoud.
In Hebr.12:3 word ‘in julle siele’ met ‘geestelik’ moeg vertaal.
In Efes. 6:6 word ‘uit die siel’ vertaal met ‘van harte’ die wil van God doen.
In Hand 2:27 word ‘my siel’, soos aangehaal uit Ps 16:10, vertaal met ‘my’: U sal ‘my’
nie aan die doderyk oorlaat nie.
Die woord ‘siel’ word in hierdie onderskeie verbande figuurlik gebruik as aanduiding van die persoon.
In die Nuwe Testament word die woord psuche konkreetgebruik vir lewe (Mat 10:39), ook vir ‘ek’ as persoon (Mat 10:28) vir wie God met siel en liggaam in die hel kan werp. In Hand 2:41 word ‘siele’ gebruik vir die 3,000 mense wat tot bekering gekom het.
Waar die vier woorde hart (kardia), siel (psuche), verstand (dianoia) en krag (ischus) saam gebruik word in Markus 12:28 (vgl. Mat 22:37; Lk 10:27; soos aangehaal uit Deutr.6:5 se ‘hart, siel en krag’) kan ‘siel’ goedskiks met ‘lewe’ vertaal word, jou lewensbeginsel.
So ook met 1 Tes 5:23 se ‘gees (pneuma), siel (psuche) en liggaam (sooma)’ waar Paulus die sinonieme ‘gees’ en ‘siel’ gebruik om soveel moontlik klem te lê op ‘die hele mens’, dat God julle so sal bewaar dat julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom. (let wel: die liggaam word ingesluit vir bewaring deur God tot by die wederkoms).
Ook die woord ‘gees’ (pneuma) kan die innerlike van die mens aandui, sy persoon (vgl. Hand.17:16 waar ‘sy gees’ vertaal word as: ‘hy’ het verontwaardig geword; Gal 1:18 ‘met julle gees’ wat goedskiks ‘met julle’ kan vertaal word, soos in Flp 4:23 se ‘met julle gees’ wat as ‘by julle’ vertaal is, so ook Flm 1:25.
So kan ‘gees, siel en liggaam’ in die drie woorde van 1 Tes 5:23 onderskeidelik die persoon (gees, pneuma) aandui, na sy innerlike persoon (siel) en die uiterlike (liggaam) van die persoon, om daarmee die hele persoon te beklemtoon.
[Gees kan ook verwys na die ingesteldheid of denkwyse van die mens, soos in Gal 6:1 met ‘n gees’ van sagmoedigheid, wat bloot as ‘doen dit in sagmoedigheid’ vertaal kan word.]
1 Petrus 1:9 sê: Deur in Hom (Jesus Christus) te glo, al sien julle Hom nou nie, het ‘julle’ (nefesj) reeds deel aan die saligheid.
Jou opmerking: En die Here God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het die mens ‘n lewende SIEL geword. Mens saamgestel uit gees, siel en liggaam – is nie korrek nie. Die mens is nie saamgestel uit gees, siel en liggaam nie. Dit is woorde waarmee die mens van verskillende kante af beskryf word – van sy uiterlike liggaam, sy innerlike (Jou opmerking: Sy siel behels die mens se wil, intellek en emosies), wat as gees of siel of albei as sinonieme gebruik kan word.
Wat word van die siel by sodanige afsterwe – siel, as sinoniem vir gees word bv. in Openb 20:4 gebruik vir die gelowiges wat aan Christus getrou gebly het en solank op trone gaan sit het om as regters op te tree.
Hoe steek die drie dimensie inmekaar, asb. –
Die gees (pneuma) is die mens se nie-materiële vermoë, wat sensitief kan wees vir God en op God kan reageer in teenstelling met die sarks vleis, liggaam, swak of sondige van die mens, vgl. Hand 17:16 Paulus word verontwaardig (letterlik: sy gees in hom het ontsteld geword) oor die baie afgodsbeelde in Atene; 1 Kor 2:11 watter mens ken die verborge dinge van ‘n mens behalwe die gees van die mens wat in hom is?
Die siel verwys na die mens se lewe, sy innerlike, gevoel, wil, verstand, emosies as sy persoon. Dit is aspekte van sy gees (pneuma), van die persoon, die ‘ek’, wat ook ‘n sinoniem van ‘gees’ kan wees.
Die liggaam verwys na die mens se uiterlike verskyning, wat nie sonder sy gees /siel gedink kan word nie, en sy gees/siel kan ook nie sonder sy liggaam gedink word nie. Met die liggaam pleeg ons gees/siel sonde, vgl. Rom 6:13a Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as ‘n werktuig om goddeloosheid te bedryf nie. Met die liggaam van ons gees/siel dien ons die Here, Rom 6:13b En stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil.. In Rom 12:1 doen Paulus ‘n beroep op die gelowiges om hulleself (letterlik: julle liggame) aan God te gee as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike (Ou vertaling: julle redelike godsdiens) van die godsdiens wat julle moet beoefen.
Skrywer: Prof Francois Malan