Die slot van die Ons Vader

image_pdfimage_print

Die slot van die Ons Vader – Francois Malan

Hein vra:

Mattheus 6:13 word die laaste gedeelte van die teks uitgelaat in die 1983 vertaling (want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen) Kan u vir my verduidelik asb. In Openbaring 8:3 lees ons van die engel wat aan hom baie wierook gegee is om saam met die gebede van al die gelowiges voor die troon te offer. Is dit in vandag se tyd verkeerd om wierook aan te steek wanneer jy bid, of is dit heidens? Verstaan ek die teksgedeelte verkeerd?

 Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord

 

1 Slot van die Onse Vader

 

Die oudste Manuskripte van die Nuwe Testament, kodeks Sinaïticus en kodeks Vaticanus, uit die 4e eeu n.C., kodeks Beza vyfde eeu n.C, kodeks Dublin 6e eeu n.C., het nie die slot gehad nie. Die manuskripte wat dit wel bevat, is die manuskripte wat gekry is in Parys 6e eeu n.C, Washington 5e eeu n.C, en in Koridethi 9e eeu n.C. Maar van die kerkvaders en leesroosters sedert die tweede eeu n.C. het die slot by die oorspronklike teks van die Onse Vader bygevoeg vir gebruik in die eredienste. Dit is ‘n samevatting uit die lof aan God in die dankgebed van Dawid in 1 Kronieke 29:11-13. Deur die eeue is daar ‘n verskeidenheid weergawes van die slot ingeskryf soos dit in verskillende gemeentes gebid is.

            Die 1933- en 1953-vertalings van die Afrikaanse Bybel het die teks gebruik wat Erasmus in 1515 gereed gemaak het vir die eerste gedrukte Griekse Nuwe Testament uit manuskripte uit die 12e eeu n.C. wat die slot in gehad het. Die Afrikaanse vertalings van 1983 en 2014 gebruik egter ‘n teks wat op die oudste beskikbare manuskripte uit die 4e eeu n.C.opgestel is, omdat dit waarskynlik die naaste aan die oorspronklike is. Die slot word beskou as ‘n latere invoeging vanuit die gebruik in die kerk om die gebed mee af te sluit in die erediens.

 

2 Wierook

 

Dit word van ouds af deur die voklke van die ou Ooste in hulle tempels gebrand. Die ou Egptiese tekse sê dit is om ‘die neusgate van die gode te behaag.’  

 

In Eksodus 30:34-38 gee die Here aan Moses presiese voorskrifte oor die meng en gebruik van wierook wat aan die Here alleen gewy word as teken van die ware en unieke teenwoordigheid van die Here in Israel, wat ook van hulle ‘n ware en unieke toewyding aan die Here alleen vra.

 

Volgens Levitikus 2:1,16 word wierook bo-op die verskillende offers gesit wat op die altaar verbrand word om die Here goedgunstig te stem. Wierook is in die huise van die Oosterlinge gebrand om ‘n gewyde atmosfeer in die huis te skep (die wyses uit die Ooste bring vir die baba Jesus o.a. wierook as geskenk om Hom eer te bewys, Matteus 2:2,11). Hooglied 4:5 vergelyk die geur van die vrou se borste met ‘n wierookheuwel. Jesaja 60:6 verwys na die nasies wat o.a. wierook na Jerusalem toe bring om die lof van die Here te verkondig. Maar in Jeremia 6:20 verwerp die Here die wierook wat die ongehoorsame Israel vir die Here brand.

 

In Openbarig 8:3 sinspeel die wierook wat met die gebede van die gelowiges gemeng is waarskynlik op die versugtinge van die Heilige Gees waarvan Romeine 8:27-27 praat, dat die Gees self vir ons pleit met versugtinge wat nie met woorde gesê kan word nie, om ons gebede vir God aanneemlik te maak, want Hy bid volgens die wil van God vir die gelowiges.

 

In Openbaring 5:8 is die gebede van die gelowiges self die wierook wat simbolies aandui dat hulle gebede ‘n offer is wat aanneemlik is vir God (vgl. Jesus se versekering in Johannes 16:23: wat julle vir die Vader in my Naam vra, sal Hy aan julle gee). Efesiërs 5:2 verwys na Jesus se liefdesoffer van sy lewe vir ons, dat dit vir God ‘n aangename geur is, en vra dat ons soos Jesus in liefde met mekaar sal leef. In Filippense 4:18 noem Paulus die geldelike bydrae wat die gemeente vir hom gestuur het, ‘n lieflike geur, ‘n aangename offergawe wat God behaag.  

 

Openbaring 18:13 verwys onder andere na wierook wat die lus van die ongelowiges se lewe was, en met God se oordeel daarmee heen sal wees.

 

Wierook sal nie ons gebede versier of aanneemlik vir God maak nie. Jesus het gesê: ‘ware aanbidders sal van nou af die Vader in Gees en waarheid aanbid, want die Vader wil juis sulke aanbidders hê (Johannes 4:23). Daarom moet ons bid dat God die Heilige Gees, wat in ons kom woon het, ons in ons gebede lei om volgens die wil van ons Vader te bid, en sy liefde in ons harte te gee sodat ons in liefde met mekaar sal saam lewe (vgl. Galasiërs 5:22-23 vir die vrug van die werk van die Heilige Gees in ons). In Romeine 12:1 roep Paulus die gemeente op om hulle liggame as ‘n lewende, heilige  en aanneemlike offer vir God aan te bied, en sê dat dit sinvolle godsdiens is

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...