Die Tien Gebooie: Gee eer aan wie eer toekom
– Josh Moody
Die Tien Gebooie: Gee eer aan wie eer toekom
(Eksodus 20:12). Waar het ons aan die idee gekom dat ou mense niks het om aan die samelewing te bied nie? Hulle praktiese ondervinding, hulle kennis van gebeure in die verlede, hulle wysheid om probleme te hanteer wat hulle vantevore reeds teengekom het, gee aan bejaardes ‘n spesiale rol in meeste kulture. Maar in ons selfgesentreerde, individualistiese kultuur plaas ons ons ouers in ouetehuise. Wat verwag God van ons in hierdie gebod? “Ek moet my vader en moeder en almal wat oor my gestel is, alle eer, liefde en trou bewys. Aan hulle goeie leer en tug moet ek my met die verskuldigde gehoorsaamheid onderwerp. Ook moet ek met hulle gebreke geduld hê, omdat God ons deur hulle wil regeer.” (Heidelbergse Kategismus: Vraag 104). Die eerste vier gebooie het betrekking op ons verhouding met God. Nou gaan ons aandag gee aan ons plig teenoor God, maar nou indirek. Dit gaan oor ons naaste wat na God se beeld geskep is. Wie is ons naaste? Bo aan die prioriteitslys staan ons familie. Die familie is die fondament van alle verhoudings. Die familie van God is die kerk. Hierdie gebod het ‘n opdrag en ‘n belofte. Diegene wat oor ons gestel is, het twee pligte: om te heers en te beskerm. Maar ‘n heerser mag nooit dink dat dit dieselfde as mag is nie – die sinnelose gebruik van mag. Die plig is om te heers en te verdedig. Heersers moet altyd soek na wat die beste is vir diegene wat hulle dien. Paulus sê: Kinders, wees as gelowiges aan julle ouers gehoorsaam, want dit is wat die wet van God vereis. “Eer jou vader en jou moeder,” is ‘n baie belangrike gebod. En daar is nog ‘n belofte by: “sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag lewe op die aarde.” En Vaders, moenie julle kinders so behandel dat hulle opstandig word nie, maar maak hulle groot met tug en vermaning soos die Here dit wil (Efesiërs 6:1 – 4). Ouers het dus ook ‘n verantwoordelikheid teenoor hulle kinders. Ons moet die vyfde gebod ook wyer lees. As ons nie duidelike gesagslyne het nie, volg anargie. Maar gesag moet altyd getemper word deur die plig van heersers – heers en verdedig. Hoekom word hierdie gebod so ondermyn? Volgende keer die vraag: Is ek pro-lewe?