Die Tien Gebooie: Is ons pro-lewe?
Were we able to know exactly what our most influencial religious leaders think of God today, we might be able with some precision to foretell where the Church will stand tomorrow (A. W. Tozer)
Die Tien Gebooie: Is ons pro-lewe?
Ons het vanjaar reeds na die Apostoliese Geloofsbelydenis en die Ons Vader-gebed gekyk. Ons gaan nou na die Tien Gebooie kyk. Ek gaan onder andere gebruik maak van Michael S. Horton se The Law of Perfect Freedom.
Jy mag nie moord pleeg nie (Eksodus 20:13)
Op elke mens is die beeld van God gestempel. God het alle dinge gemaak, maar net die mens dra sy beeld – al is dit soms bevlek.
Miskien moet ons breër kyk na ander sake wat die beeld van God raak. Ons is byvoorbeeld anti-aborsie, maar wat van die groot aantal arm kinders wat ondervoed is? Wat van kinders wat steeds sterf aan voorkombare siektes omdat hulle nie toegang tot gesondheidsorg het nie?
Christene se plek in die wêreld is een van diens – hulle is bekommerd oor sake buite hulleself. Martin Luther het geglo dat hierdie gebod oortree word, nie net as ‘n persoon iets boos doen nie, maar as hy iets goed teenoor sy naaste nie doen nie. As jy jou liefde van hom weerhou en jy hom van die diens wat sy lewe kon red, beroof, is jy skuldig. Ons kan nie die wêreld verlaat in ons soeke na heiligheid nie. Ons kan nie in ons evangeliese subkultuur terugtrek nie. Heiligheid beteken immers liefde vir God en ons naaste. Calvyn sê dat die groot gevaar is dat ons so op ons eie verlossing fokus dat die verlossing en welstand van ons naaste nie raakgesien word nie.
Die sesde gebod beteken dat ons nie ‘n ander persoon mag doodmaak nie – ook nie deur gedagtes en woord nie. Net omdat ons nie iemand vermoor het nie, beteken nie dat ons hierdie gebod nagekom het nie. Die gebod vereis dat ons alles in ons vermoë moet doen om die gesondheid en welstand van ons naaste te beskerm.
Die Heidelbergse Kategismus sê: “Deur doodmaak te verbied, leer God ons dat Hy die wortel daarvan, soos afguns, haat, woede en wraaklus verafsku. Dit is alles vir Hom heimlike moord.” Maar waar kom hierdie idees vandaan? In die bergrede sê Jesus: Julle het gehoor dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: ‘Jy mag nie moord pleeg nie; en elkeen wat moord pleeg, is strafbaar voor die regbank.’ Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank. Verder, elkeen wat sy broer uitskel vir ‘n gek, is strafbaar voor die Joodse Raad; en wie hom uitskel vir ‘n idioot, is strafbaar met die helse vuur (Matteus 5:21 – 22”. Later sê Jesus: Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat julle vervolg (vers 43). As ons werklik ons naaste wil liefhê, sal ons ons vyande ook moet liefhê.
Jy mag nie moord pleeg nie, het nie net ‘n negatiewe betekenis nie – ons moet ook die fisiese en geestelike welstand van ons naaste bevorder – al is hy my vyand!
Hoe oortree ons vandag hierdie gebod. Paulus onderskei tussen die praktyke van die sondige natuur en die vrug van die Gees (Galasiërs 5:19 – 23).Hierdie praktyke van die sondige natuur sluit in onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring,, afguns, dronkenskap, uitspattigheid,ens. Hoeveel van hierdie dinge verdra ons nie – ook in die kerk? Hierdie praktyke vernietig verhoudings.
Ons oortree die sesde gebod deur enige gesindheid wat of aktiewe seermaak of passiewe apatie teenoor dit wat vir ons naaste goed is, verdra. Dit sluit dus dinge soos haweloosheid en ondervoeding in. Lees net weer Matteus 25: Jesus identifiseer so met die behoeftiges dat alles wat ons aan hulle doen Hy sien as iets wat aan Hom gedoen is.
Hierdie gebod bring weer ‘n groot waarheid na vore: God is meer bekommerd oor ons verhouding met ander as oor gedragskodes.
Volgende keer kyk ons na die gebod oor egbreuk.