Die Tien Plae (1)

Die Tien Plae (1) – Coen Slabber

Die plae het in die lente of vroeë somer van ongeveer 1400 vC plaasgevind. (Daar is sekere teoloë wat ‘n heelwat later datum voorstel – ongeveer 1200 vC.). Dit was in die Nyldelta gekonsentreer. Wat ons wel weet, was dat die plae baie erg was. So lees ons van die sewende plaag – hael – so erg soos dit nog nooit was vandat daar mense in Egipte woon nie (Eksodus 9:24). Daar is ook onsekerheid van hoe ver uitmekaar die plae was. Daar mag selfs ‘n paar maande tussen plae verloop het.

Ons lees van die eerste plaag – die water van die Nyl wat bloed geword het – in Eksodus 7:14 en van die laaste plaag – die dood van die eersgeborenes – in Eksodus 13:30. Daarna laat die farao die Israeliete wegtrek uit Egipte. In Psalm 78:44 – 51 lees ons ook van die plae. Net ses plae word daar genoem en die volgorde verskil ook van dié in Eksodus. [Ook in Psalm 105:28 – 36 lees ons van die plae.]

Watter teologiese betekenis het die tien plae? Hoekom nou juis tien plae? Hoekom het God nou juis plae gestuur – God kon mos in sy almag die Israeliete sonder enige ophef verlos het? Die antwoord kry ons in Eksodus 9:15 – 16. Die Here gee aan Moses ‘n opdrag wat hy aan die farao moes oordra: Na regte moes Ek nou al my hand uitgesteek het en jou en jou mense met ‘n pes van die aarde af uitgewis het. Daar is net een rede waarom Ek jou nog laat lewe, en dit is dat Ek jou my mag kan wys en my Naam daardeur oor die hele wêreld geroem kan word. God probeer nie die farao oortuig dat sy teenstand tevergeefs is nie, maar deur ‘n lang proses wys God vir hom dat God se mag sterker is as dié van die farao en al sy gode.

Dit is ook nie ‘n toets van die farao se uithouvermoë nie. Reeds na die tweede plaag was die farao bereid dat die volk kan gaan. (Hy het wel later sy besluit verander.) Na die sesde, agste en negende plae lees ons dat dit die Here is wat die farao steeds koppig laat bly het. Farao is bereid om die handdoek in te gooi, maar God wil voortgaan – Hy wil hê die mense moet besef dat hy nie net die God van die Hebreeuse slawe is nie, maar die God van die hele wêreld – ook van Egipte.

Die godsdienstige betekenis van die tien gebooie weerspieël elemente van die Egiptiese godedom in die sin dat God telkens teenoor een van die Egiptiese gode te staan kom en elke keer seëvier:

  • Die Nyl is verpersoonlik en gesien as ‘n god – Hapi. Deur die water in bloed te verander oorweldig die God van Israel Egipte se god wat lewe bring.
  • Die god Hept word afgebeeld as ‘n padda. Hy was die god van vrugbaarheid  en kindergeboorte. Farao het vroeër probeer om die getal Israeliete te beperk deur die Hebreeuse vroedvroue opdrag te gee om alle seuntjies onmiddellik na geboorte dood te maak. Daarna beveel die farao dat elke pasgebore seuntjie in die Nyl gegooi moet word. Nou gaan die paddas dood!
  • Ra was die songod – ‘n belangrike god in Egipte. Die negende plaag – drie dae donker – was nie net ongemaklik nie, maar ook ‘n bewys dat Israel se God groter as Egipte se songod was.
  • Hat-hot was in die vorm van ‘n vers en Apis in die vorm van ‘n bul. Die vyfde plaag – pes onder die vee – het weereens bewys dat Israel se God groter was as die Egiptiese gode.
  • Die farao is self as ‘n god beskou.

Dit is duidelik dat Israel se God groter was as al die gode van Egipte.

Israel se God kon ook die elemente beheer. Die farao se towenaars kon wel die eerste twee plae nadoen. Hulle kon ook hulle kieries in slange verander – al vreet die slang uit Aäron se kierie hulle slange op. Maar verder as die tweede plaag kom hulle nie. God, daarenteen, het die hele skeppingsorde tot sy beskikking om Israel te verlos.

Ons het reeds gelees dat die farao se hart verhard het. Hoe gebeur dit?

  1. Maar Ek sal die farao hardkoppig maak (7:3) – God maak hom hardkoppig.
  2. Die Here het vir Moses gesê: ‘Die farao bly onversetlik, hy hou aan weier om die volk te laat trek’ (7:14). Ons kan dit as ‘n neutrale stelling sien.
  3. Maar toe die farao sien dat daar verligting gekom het, het hy weer onversetlik geword (8:15). Hier is dit nie God wat hom hardkoppig maak nie – dit is die farao self wat hom verset.

In Romeine 9:18 sê Paulus: Dit is dus inderdaad so dat God Hom ontferm oor wie Hy wil, en dat Hy verhard wie Hy wil.

Die farao se reaksie op die plae is baie interessant – hy probeer met God onderhandel. Julle moet die Here bid dat Hy die paddas van my en my mense af wegvat. Dan sal ek die volk laat gaan dat hulle vir die Here kan gaan offer (8:8). Toe daar verligting kom, word die farao weer hardkoppig. Nou kom ‘n klein toegewing: Julle kan vir julle God gaan offer, maar hier in dié land (8:25). Later maak hy nog ‘n toegewing: Net die mans gaan! (10:11). Na die negende plaag nog verdere onderhandelinge: Julle vrouens en kinders kan saamgaan, maar julle kleinvee en julle grootvee moet hier agterbly (10:24). Na die tiende plaag besef die farao dat jy nie met God kan onderhandel nie: Gee pad onder my mense uit, julle twee en al die ander Israeliete! Gaan dien die Here soos julle gevra het! Vat julle kleinvee en julle grootvee soos julle gevra het, en trek! (12:31 – 32). ‘n Mens, nie eers die farao van op daardie stadium die magtigste land in die wêreld, kan met God onderhandel nie.

As kinders het ons geleer van die tien plae. ‘n Indrukwekkende storie … niks meer nie. Kyk ons egter van nader is daar heelwat lesse wat ons kan leer. In hierdie kort oorsig het ons ‘n paar van hierdie lesse uitgelig:

(a) God gebruik die plae om die farao, en vir ons, te oortuig dat sy mag alle magte op aarde oortref. Hy is sterker as die Egiptiese afgode; Hy is sterker as ons afgode soos geld, besittings, status, ens.

(b) God kan die elemente van die natuur beheer.

(c) Ons kan nie met God onderhandel nie.

Ons sit egter voor ‘n probleem: Daar is baie wetenskaplikes wat die hele idee van wonderwerke verwerp – jy kan alles aan natuurlike oorsake toeskryf. Geld dit ook vir die plae? Is die plae ‘n reeks natuurrampe wat “toevallig” op daardie stadium plaasgevind het? Kan ons die plae met ons rede verduidelik? In ‘n volgende artikel gaan ons daarna kyk

Verwysings:

J. Daniel Hays en J. Scott Duval (redakteurs): The Baker Illustrated Bible Handbook. Baker Books (2011)

Philip W. Comfort en Walter A. Elwell (redakteurs): Tyndale Bible Dictionary . Tyndale House Publishers (2001)

 

Skrywer: Dr Coen Slabber