Die tweede gesprek: die nuwe godsdiens vervolg (4:10-21)
Die tweede gesprek: die nuwe godsdiens vervolg (4:10-21) – Francois Malan
4:10 Jesus bied haar egter die ‘gawe van God’ en ‘lewende water’ aan. Hy is die lewende water, en gee ook die lewende water, die water wat ewige lewe gee (vgl. 6:35). Jeremia 2:13 noem God ‘die bron van lewende water’; Jer. 17:13 noem die Here ‘die bron van lewe’; in Jn 7:37-39 word na die Heilige Gees, wat Jesus gee, verwys as die ‘lewende water’. Hiermee stuur Jesus die gesprek in ‘n nuwe rigting en kom daar ‘n geestelike diepte aan die gesprek.
4:11 Die vrou spreek Hom aan met die beleefdheidsvorm, Here. Sy verstaan ‘lewende water’ anders, want enige lopende water, ook syferwater soos onder in die Jakobsput, word as lewend beskou. Jesus het ook geen emmer/skepding om water uit die 32 meter diep Jakobsput te trek nie. Effe spottend vra sy waar Hy dan die ‘lewende water’ vandaan sal haal. Die vrou misverstaan Jesus se woorde letterlik, soos die Jode in 2:20 en Nikodemus in 3:4.
4:12 Die Samaritane beroem hulle daarop dat hulle Jakob ‘ons vader’ kan noem. Hulle woon ook op die stuk grond wat Jakob by Sigem gekoop het, en gebruik die put wat hy 1,670 jaar tevore gegrawe het. Selfs die vee drink sedert die voorvader van die goeie water. Wie is tog die arrogante man, wat dink Hy is beter as ‘ons vader Jakob’ wat ons deur al die eeue so goed versorg!
4:13-14 Oor die water van die Jakobsput, wat sy so hoog ag, sê Jesus dat jy altyd weer sal terugkom om water te trek, omdat dit nie jou dors blywend kan les nie. Maar as jy eenmaal gedrink het van die water wat Jesus sal gee, sal jy nooit weer dors word nie. Fonteinwater wat elke dag opborrel is ‘n simbool vir sy water, die ewige lewe. As die Heilige Gees jou oortuig het, sodat jy glo dat Jesus die Here en Verlosser van jou lewe is, het Hy in jou kom woon om jou elke dag aan die ewige lewe, die nuwe soort lewe, te bind; aan die liefdesgawe van die Vader aan die wêreld, nl. sy enigste Seun (vgl. 3:16; 17:20-23). Met Nikodemus praat Jesus oor ‘van Bo af weer gebore word’ deur die Heilige Gees om in die koninkryk te kom (3:5-8); met die vrou oor lewende water wat Jesus gee (nl. die Heilige Gees) tot die ewige nuwe lewe.
4:15 Hoewel Jesus van die ‘gawe van God’ en die ‘ewige lewe’ praat, begryp die vrou nog nie die geestelike sin van Jesus se gesprek nie. Sy beskou Hom egter as ‘n wonderwerker wat haar sou verlos van haar daaglikse swaar sleurwerk om te kom water trek – as dit tog sou waar wees wat die man belowe!
4:16-18 Die gesprek oor lewende water het nie die vrou tot geestelike insig gelei nie. Nou raak Jesus haar ongelukkige huwelikslewe aan, om na haar deur te dring. As sy sê sy het nie ‘n man nie, weerspreek Jesus dit nie. Hy sê: ‘Dis reg/goed wat jy nou gesê het’ (letterlik: jy het mooi gesê – jou mooi uitgedraai). Jesus openbaar sy goddelike alwetendheid aan die vrou. Hy ken haar verlede, dat vyf mans haar waarskynlik na mekaar geskei het, en die man wat jy nou het, is nie jou man nie. Die implikasie is dat dit iemand anders se man is, wat haar aanhou. In die samelewing, en veral onder die vrouens, het so ‘n vrou ‘n slegte reputasie gehad.
4:19,20 Jesus moet duidelik ‘n profeet wees om haar so deur en deur te ken (vgl. Natanael 1:48,49). Maar sy draai die gesprek dadelik van haarself af weg, met ‘n vraag na die regte godsdiens. ‘Ons voorouers’, van beide Israel en die Samaritane, ‘het op hierdie berg aanbid’ – die put van Jakob lê aan die voet van die berg Gerisim. Volgens Deutr.11:29 moes hulle die seën op Gerisim afkondig en die straf op Ebal (vgl. 27:9-26). Volgens Deutr.27:3 moes hulle op die berg Ebal ‘n altaar bou waar vir Here geoffer moes word – in die Samaritaaanse Bybel, wat net uit die eerste vyf boeke van Moses bestaan, staan daar Gerisim en nie Ebal nie (wat moontlik reg is, en later deur die Jode in hulle Bybel, uit teenstand teen die Samaritane, verander is na Ebal, waar die vervloekings uitgespreek is). Die Samaritane aanvaar nie die profetiese en ander geskrifte van die Ou Testament nie. Daarom aanvaar hulle ook nie die opdrag van die profeet Gad aan Dawid om ‘n altaar vir die Here op die dorsvloer van Arauna van Jebus, dit is Jerusalem, te bou nie (2 Sam.24:18; vgl. 1 Kron.22:1). Dit was die plek waar Salomo in 950 v.C. die tempel vir die Here gebou het (2 Kron.3:1).
Die vrou sê: ‘En julle sê dat Jerusalem die plek is waar aanbid moet word’ – moet, volgens God se bevel. Wat sê die ‘profeet’, wat God se wil bekendmaak, daarvan.
4:21 Jesus, die enigste Seun van God antwoord beleefd: ‘Glo My, Mevrou, die uur is aan die kom dat julle die Vader (van alle volke) nie op hierdie berg of in Jerusalem sal aanbid nie.’ ‘n Nuwe bedeling het aangebreek met die koms van die Messias. Die aanbidding van die Vader is nie langer aan ‘n plek verbind nie (vgl. Openb 21:22).
Skrywer: Prof Francois Malan