Die tweede gesprek: die nuwe godsdiens vervolg (4:30-42)
Die tweede gesprek: die nuwe godsdiens vervolg (4:30-42) – Francois Malan
4:30 Die inwoners van die dorp stroom na die fontein toe. Die eerste dissipels het enkelinge na Jesus toe gebring, maar die vrou bring ‘n haar hele stadjie na Jesus toe. Nikodemus se gesprek met Jesus dra eers vrug na die dood van Jesus, toe hy kom help om Hom te begrawe (19:39,40); die oorvloedige vrug op die vrou se gesprek met Jesus is dadelik sigbaar. Die dissipels bring brood van die stad af, die vrou bring mense. Jesus open ‘n nuwe lewe vir vroue en Samaritane, oor die vooroordele van die verlede heen.
4:31,32 Terwyl die vrou weg was, dring die dissipels by Jesus aan om te eet van die brood wat hulle,gebring het. Maar Jesus het brood wat hulle nie van weet nie. Soos Jesus met die vrou oor water begin praat het, praat hy nou met die dissipels oor kos, waaraan Hy ‘n geestelike betekenis gee, en die mens se prioriteite regstel (vgl. Mat 6:31-33). Sy het nie verstaan wat Jesus vir haar wil gee nie, en die dissipels nie waarby Hy self lewe nie (vgl. Mat 4:1-4).
4:33,34 Hulle vraag bevestig dat hulle seker is dat niemand vir Hom iets te ete gebring het nie. Hulle verstaan Jesus se antwoord letterlik; vandaar die misverstand (soos die Jode in 2:20). Die volvoering van God se wil is die ‘voedsel’ wat Hom bevredig. Gehoorsaamheid aan die geestelike roeping moet voorrang geniet, bo die behoeftes van die liggaam. Johannes beskryf Jesus se hele bediening as gehoorsaamheid in aksie, wat Hom eindelik lei tot sy oorgawe in die dood – die woord ‘voltooi’ is in Grieks dieselfde as sy kruiswoord ‘dit is volbring’ (19:30). Hy volbring die taak waarvoor die Vader Hom gestuur het (17:4).
4:35 Jesus se onderrig van sy dissipels gaan voort: Julle sê dit is nog vier maande voor die oes, wat in die middel van April kom. Daarom is die besoek aan Sigar waarskynlik middel Desember. Maar Jesus wys hulle na die skare wat van Sigar af kom, die lande is ryp vir die oes. So is dit altyd oestyd vir die oes wat God besig is om voor te berei in die lewens van mense. Die oes waarvan Jesus praat is die insameling van mense vir die ewige lewe.
4:36 Saai en oes in God se diens gaan gelyktydig aan. Dit is die dringende taak van Jesus se volgelinge om mense na die ewige lewe te lei, om voort te gaan met die saai van die woord, en die oes van mense wat ryp is vir geloof in Jesus. Nou reeds word die vreugdeloon aan saaier en maaier uitbetaal wanneer mense die woord van God aanneem deur tot bekering te kom.
4:37 Om deel te hê aan die gesamentlike blydskap moet elkeen getrou bly in die arbeid wat aan hom toegesê is. Hier is nie plek vir onderlinge afguns tussen saaier en maaier nie. Arbeiders in diens van die Here verskil in aanleg en opdrag, maar werk saam vir een groot saak. Elkeen se taak is belangrik vir God se sending in die wêreld.
4:38 Ander het gearbei – dit wys waarskynlik na die Ou-Testamentiese profete, Johannes die Doper, en Jesus se werk self. Vir die Samaritane het Deuteronomium die verwagting van Taheb gewek, en die vrou by die put het die saad in die stad gesaai. Jesus stuur sy dissipels om die oes uit ander se werk in te samel.
4:39 Op haar getuienis glo die Samaritane dat Jesus ‘n profeet is, moontlik die verwagte Messias. Daarom wil die bewoners meer van Hom sien en hoor. Haar ommekeer en vrymoedigheid lei tot die geloof van die stadjie se mense.
4:40,41 Die Samaritane wil meer hoor en sien van hierdie man wat die vrou se lewe omgekeer het, en nooi Hom om by hulle oor te bly. Vir twee dae onderrig Jesus hulle en baie meer van die stadjie glo in Hom op grond van sy woord (logos); Hy wat die Woord (logos 1:1-3) van God is in sy persoon en sy boodskap. Dit is so anders as die Joodse Paasfeesgangers in Jerusalem, wat in sy Naam geglo het toe hulle die wondtekens gesien het wat Hy gedoen het. Later sal die Jode skreeu: ‘nie hierdie man nie, maar Barabbas’ die rower – wat vir hulle losgelaat moet word (18:40); en: ‘as jy hierdie man loslaat, is jy nie die keiser se vriend nie’ (19:12), en toe Pilatus vir die Jode sê: Kyk, julle koning!, skreeu hulle: ‘weg met hom, weg met hom, kruisig hom’ (19:15).
4:42 Die Samaritane sê vir die vrou: Ons glo nie meer op grond van wat jy gepraat het nie, want self het ons gehoor – nl. Homself en sy Woord – en ons weet dat Hy waarlik die Redder van die wêreld is (vgl. God se liefde vir die wêreld 3:16). Die vrou se uiters onvolledige getuienis was die middel om dié mense by Jesus self uit te bring, by hulle Redder wat die Redder van die wêreld is. Die Romeine het die keiser as god aanbid met die titel: Redder van die wêreld, maar in die belydenis van die Samaritane is dit ‘n egte Messiasbelydenis.
Die vrou wys die vreemde man wat dors is eers af, wys haar teenstand teen die Jood, spot met die rabbi, maar word oorwin deur die profeet, en aanbid die Messias. So openbaar hierdie hoofstuk die Christus se optrede teenoor vroue, sondaars en ander volke. Hy openbaar Homself as die verwagte Messias-Verlosser, wat self die ‘Ek is’ wat Hom aan Moses bekendgemaak het, wat sy Heilige Gees as die lewensbron van ons lewe gaan gee aan elkeen wat in Hom glo, om die Vader in Gees en Waarheid te dien.
Skrywer: Prof Francois Malan