Die tweede Raad/Konsilie van Konstantinopel

We must all suffer one of two things: the pain of discipline or the pain of regret or disappointment – Jim Rohn

Die tweede Raad/Konsilie van Konstantinopel

Hierdie konsilie vergader in wat vandag Istanbul is. Hulle vergader van 5 Mei tot 2 Junie 553. Keiser Justinianus I het die vergadering byeengeroep om te kyk of hy die twee groepe wat ‘n honderd jaar vantevore by Chalcedoon van mekaar verskil het, kan versoen. Tussen 151 en 168 biskoppe woon die vergadering by. Eutychius, die patriarg van Konstantinopel, was die voorsitter. Die belangrikste rolspelers was Keiser Justinianus en die pous, Vigilius.

 

Justinianus was ‘n vroom keiser en hy sien dat die noodsaaklik was om die eenheid van die Christelike geloof te behou. Hy en die pous kon egter nie ooreenkom wie na die vergadering genooi moet word nie. Die pous wou meer biskoppe uit die westelike gedeelte van die Ryk gehad het. Daarom weier hy om die eerste drie weke van die vergadering by te woon.

Die Raad aanvaar die besluite van die eerste vier rade. Op 24 Mei kom die pous daar aan met ‘n nuwe dokument, wat die keiser verwerp. Die keiser beskuldig die pous van ‘n gebrek aan integriteit en ‘n onwilligheid om saam te werk. Die Raad besluit om alle bande met die pous te verbreek – nie met die kerk in Rome nie.

Die vergadering vaardig veertien anatemas (vervloekings) uit oor Christus se aard – wat reeds by vorige vergaderings aanvaar is. ‘n Verdere vyftien anatemas oor die leer van Origenes word ook met die vergadering verbind, maar dit is onseker of dit deel van die amptelike verslag was.

Die pous vra verlof om na Rome terug te keer, maar die keiser weier die versoek – hy moes hom eers aan die besluite van die vergadering onderwerp. Ses maande later gee die pous bes en sê dat slegte raad van sy raadgewers verantwoordelik was vir sy siening. Hy sterf egter voor hy Rome bereik het. Sy opvolger, Pelagius I, aanvaar ook die besluite van die vergadering.