Die tweede vereiste om in die lig te kan lewe: gehoorsaamheid (vervolg): (b) Bly in God en sy gebod (2:6-8)
2:6 Waar 2:4 gesê het dat ons weet dat ons God ken as ons sy gebooie gehoorsaam, en 2:5 dat ons weet dat ons in Hom is, sê 2:6 ‘wie sê dat hy in Hom bly…’ – dit bou op na die klimaks. ‘Bly’ veronderstel ‘n intieme persoonlike kennis van God, ‘n lewe waar ek, deur die Heilige Gees se inwoning in my, permanent en onafgebroke aan God toegewy leef, soos Jesus op aarde geleef het – ‘… behoort te leef (letterlik: ‘moet wandel’) soos Hy geleef het.’
Die gelowige se lewe is een van toewyding aan God, soos Jesus ons voorgelewe het op aarde. Sy lewe het gedraai om die doen van sy Vader se wil (Jn 4:34; 5:30). Vir die lesers van 1 Johannes beteken dit dat hulle sal lewe soos die lewe van Jesus beskryf is in die Evangelie volgens Johannes, wat aan hulle bekend is. Daarvolgens het Jesus reeds gesê: julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet (13:34; 15:12). Om in die lig te lewe vereis gehoorsaamheid aan God, soos Jesus.
2:7 Waar Johannes in 2:1 die gemeentes in en om Efese aanspreek as ‘my liewe kindertjies’, noem hy hulle hier ‘geliefdes.’ Hierdie gedeelte gaan voort met gehoorsaamheid as vereiste, met klem op die praktiese implikasies van die wet van Christus. Voor hy daarmee begin, beoefen Johannes reeds die liefdesgebod, deur hulle sy geliefdes te noem. Dit is ook ‘n sinspeling op 2:5a dat die liefde van God in ons volkome gemaak word deurdat God die Heilige Gees, die Gees van die liefde, in elke gelowige woon.
Vir dié gemeentes van tweede geslag Christene is Jesus se nuwe wet ‘Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefgehad het,’ nie ‘n nuwe gebod nie, maar ‘n ou gebod waarmee hulle grootgeword het, en wat hulle goed behoort te ken. Maar by die uitvoering daarvan skiet hulle, of party van hulle, skynbaar te kort. Daarom herhaal Johannes die ou bekende liefdesgebod, want dit is die toets vir Christelike toewyding aan God, en ‘n opsomming van die gehoorsaamheid wat van die gelowige volgeling van God, wat in sy lig leef, vereis word. Dit is ook die grondbestanddeel van die evangelie van Jesus, en die primêre verpligting wat van sy volgerlinge vereis word. Dat die liefdeswet ‘n ou wet is, is moontlik ook ‘n teregwysing aan die valse leraars, wat met nuwighede kom, wat op kennis van God en belewenis van God die klem lê, maar by die liefdesgebod verby kyk en verby leef.
2:8 Tog skryf Johannes vir hulle ‘n nuwe gebod – paradoksaal: oud omdat hulle dit ken, nuut omdat die ou wet nuut bly en nie verstar nie – soos die Jode daarvan iets wetties, los van God as persoon, gemaak het (vgl. Mat 5-7 julle het gehoor dat daar vir mense van die ou tyd gesê is….maar Ek sê vir julle, en dan brei Jesus die ou wette uit en wys wat God se doel daarmee is). Jesus het ook ‘n nuwe maatstaf gebring (julle moet mekaar liefhê ‘soos Ek julle liefhet’).
Die Jode het gepraat van die huidige bedeling en die toekomstige bedeling. Met Jesus se koms het die toekomstige bedeling aangebreek. Ons lewe nou reeds in die eindtyd saam met God, al gaan die ou bedeling nog voort. Daarom bly die manier van lewe in liefde vir ander, in die huidige tyd, nuut in ‘n wêreld waar almal vir hulleself lewe. Maar daarvan sê 1 Johannes dat die duisternis aan die verbygaan is, en die ware lig is reeds aan die skyn. Jesus is die ware lig (Jn 3:19) wat alreeds skyn, en besig is om die duisternis te verdryf, veral in ons lewe (die werkwoord ‘aan die verbygaan’ is in die teenwoordige tyd en passief om aan te dui dat God besig is om die duisternis te laat verbygaan, veral in die lewe van elke gelowige).
Johannes sê dat hierdie wet nuut is. Dit is uit sy liefde dat Jesus mens geword het om vir ons te kom sterwe en te wys hoe God wil hê dat ons moet lewe. Ons is geroep om in dié liefde te leef, wat God die Heilige Gees in ons bewerk deur sy inwoning in ons. So sit Jesus sy liefdeswerk in die wêreld voort deur ons woorde en optrede en gesindhede. Dit vra van ons om al meer liefde aan ander te bewys in ons daaglikse omgang met mense by die huis en by die werk en in ons samelewing om die Bose te oorwin met ons liefde, die liefdesmag van Jesus wat almal na Hom toe trek (Jn 12:32-33). .
Skrywer: Prof Francois Malan