Die uitdaging vir die sekulêre wêreld (1)
God demands the tithe, deserves the offerings, defends the savings and directs the expenses. —Stephen Olford
Die uitdaging vir die sekulêre wêreld (1)
Tim Keller het pas ‘n belangrike boek – Walking with God through Pain and Suffering (2013) – geskryf waarin hy die vraag waarom daar pyn en lyding is die wêreld is, hanteer. Hierdie is sekerlik ‘n vraag wat almal van ons interesseer en waarop min van ons ‘n goeie antwoord kan gee. Ek glo dat in hierdie boek baie van ons vrae beantwoord sal word. Ek gaan dus ‘n hele aantal blogs hieroor skryf.
You desire to know the art of living, my friend? It is contained in one phrase: make use of suffering – Henri Frederic Amiel
Die sekulêre siening het ‘n probleem om mense vir lyding voor te berei. In Desember 2012 word ‘n aantal kinders in ‘n skool in Newtown in die VSA doodgeskiet. Elke gesin wat ‘n kind verloor het, hou ‘n godsdienstige begrafnis; ‘n swart jeuggroep kom uit die diep suide om Amazing Grace te sing; in President Obama se toespraak haal hy uit 2 Korintiërs 4 en 5 aan. In ‘n toenemend sekulêre wêreld draai die samelewing na God en geloof in hulle tragedie.
Greg M. Epstein, humanis van Harvard, sê dat net godsdiens liefdevolle, ondersteunende verhoudings bied. Hoekom kry ons nie hierdie verhoudings by ateïste nie?
Godsdiens gee ook aan mense wat ly beter verduidelikings om sin van hulle lyding en pyn te maak. Hierdie verduidelikings is teologies en daarom kan moderne sekularisme nie help nie. Hulle kan nie eers gemeenskap aanbied nie. Gelowiges skep gemeenskappe om gesamentlike aanbidding, feeste (soos Nagmaal) en met oproepe vir intieme gemeenskappe gegrond op die Skrif. Sekularisasie kan niks hiervan aanbied nie – hulle het nie die hegte gemeenskappe wat mense kan vertroos in tye van hartseer nie. Hoekom het hulle nie hierdie hegte gemeenskappe nie? Gemeenskappe word net gesmee as daar iets is wat belangriker is as eie belang – almal deel in ‘n hoër trou. Maar daar sukkel die humanisme en sekularisme en ateïsme – as ek die finale gesag is wat bepaal wat reg en verkeerd is, as niks belangriker is as my reg om te leef soos ek goeddink nie, is so ‘n gemeenskap nie moontlik nie.
‘n Meerderheid van mense reik na die geestelike om hulle te help om erge lyding te interpreteer en te oorleef. Viktor Frankl, ‘n Joodse psigiater wat drie jaar in ‘n Duitse konsentrasiekamp oorleef het, sê dat die verskil tussen mense wat dit oorleef het en die wat nie oorleef het nie, betekenis was. Die moderne mens glo dat die lewe ‘n soeke na geluk is. Ons besluit watter omstandighede ons bly sal maak en dan werk ons om hierdie omstandighede teweeg te bring – jy probeer dus iets uit die lewe kry. As lyding dan kom word die voorwaardes vir geluk verwyder en daarom vernietig lyding die rede om te leef. Om te leef vir betekenis beteken egter nie dat ons iets uit die lewe wil kry nie, maar dat die lewe iets van ons verwag. Jy het betekenis slegs as daar iets in die lewe is wat belangriker is as my eie persoonlike vryheid en geluk – iets waarvoor jy met graagte jou eie geluk sal opoffer.
Lyding is nie die onderbreking van ‘n lewensverhaal nie, maar ‘n belangrike deel van ‘n goeie lewe. Hoekom misluk die sekulêre siening om lyding te hanteer? Daarna kyk ons volgende keer.