Die Verhouding Geloof en Verstand(1) – Basiese Opsies

Die Verhouding Geloof en Verstand(1) – Basiese Opsies – Hermie van Zyl

Die verhouding geloof en verstand/wetenskap is ‘n eeuelange debat. Die debat kan uit verskillende hoeke benader word, maar een van die kernvrae is: Is dit redelik (logies) om in die God van die Christendom te glo? 

Agter so ‘n vraag sit die aanname dat God nie bewysbaar is nie, want Hy is mos nie waarneembaar met ons menslike sintuie nie. Daarmee word gesê: Slegs dit wat ons met ons sintuie kan waarneem, is waar, eg en bestaan. Dus, wanneer ons in God glo, glo ons teen alle verstand en redelikheid in; dis ‘n sprong in die duister; ons glo maar, want so is ons van kleinsaf geleer, maar ons kan eintlik nie met sekerheid sê of ons reg is nie. By gebrek aan iets anders/beters, hou ons maar vas aan dit wat ons het. Dis darem beter as om in niks te glo nie.

As dit oor die verhouding tussen geloof en rede/verstand/wetenskap gaan, is daar basies drie opsies:

1. Geloof en rede/verstand staan téénoor mekaar. Geloof en verstand leef nie in dieselfde huis nie, maar in aparte huise/domeine. Dis ook waar die gedagte vandaan kom dat die wetenskap die enigste domein is wat met egte, ware kennis werk, want dis getoetsde, geverifieerde kennis. Jy kan ‘n eksperiment uitvoer en bewys wat jy weet. Maar godsdiens is nie egte kennis nie, dis bloot ongetoetsde, persoonlike opinies. Jy kan dit glo as jy wil, maar moenie verwag almal moet dit erken nie. Ek gun jou om te glo wat jy glo (dis mos demokraties!), maar dit het geen dwingende krag dat dit die waarheid is nie. Dit is ook nie noodwendig ‘n getroue weergawe van die werklikheid nie.

2. ‘n Ander siening van die verhouding (‘n sagter opsie as die vorige): Geloof en rede staan nie teenoor mekaar nie, maar vul mekaar aan. Geloof begin daar waar kennis ophou of te kort skiet. Met ander woorde, geloof se plek word wel erken, maar dis ‘n soort vuller van die leemtes of gapings in ons kennismondering. Die implikasie hiervan is: soos wat kennis uitbrei, word geloof uitgeskuif na die rand van ons bestaan; ons het dit nie meer nodig nie. Daar word dan van God gepraat as The God of the gaps – God opereer net daar waar ons nie self antwoorde op probleme het nie. Ons het God dus nodig vir al die onbeantwoorde vrae van die lewe, maar ook nie meer vir lank nie. Hierdie siening lê ook aan die wortel van ‘n gesekulariseerde Europa: voorheen was God nodig, maar nou het hulle God nie meer nodig nie, want hulle voorsien self in hulle behoeftes.

Ek is bevrees dat baie mense, selfs Christene, met een of beide van bostaande twee sieninge van die verhouding tussen geloof en rede leef. Hulle leef dualisties, dit wil sê,  met verskeurde harte, in twee verskillende wêrelde wat niks met mekaar te doen het nie, en probeer nooit die twee wêrelde met mekaar versoen nie. Dis waar die ding van Sondag- en Maandag-Christene vandaan kom: Sondag dien jy God in die kerk, maar Maandag en die res van die week dien jy Mammon (die geldgod). Dan is jy ‘n harde besigheidsman/vrou waar Christelike beginsels geen rol speel nie.

3. Daarom, derde opsie: Geloof en rede staan nie teenoor mekaar nie; geloof is ook nie ‘n aanvulling van die leemtes in ons kennis nie; maar geloof is die basis van alle kennis, dis die vertrekpunt van ons kennis, dis ‘n manier van kyk na die wêreld. Reeds Anselmus, aartsbiskop van Canterbury in die 12e eeu, het gesê: credo ut intelligam: “ek glo sodat ek kan verstaan.” Ons sê mos: ek soek bewyse, ek wil eers verstaan, dan sal ek glo. Anselmus sê: Dis eers wanneer mens glo in God dat die wêreld vir jou verstand begin sin maak.

Daarom maak ek ‘n saak daarvoor uit dat geloof nie maar net ‘n persoonlike gevoel of opinie is nie, maar dat dit, en daarmee saam die Christelike godsdiens, ‘n redelike basis het. Dis redelik om te glo soos wat Christene glo, dit maak sin om die lewe te benader met geloof in God. Die Bybelse basis vir hierdie standpunt word in die tweede aflewering beredeneer. 

 

Outeur: Prof Hermie van Zyl