Die Verhouding Geloof en Verstand(2) – Bybelse Basis Van Ons “Redelike Geloof”

Die Verhouding Geloof en Verstand(2) – Bybelse Basis Van Ons “Redelike Geloof” – Hermie van Zyl

Die uitgangspunt waarmee ek werk, is dié van die eerste en groot gebod: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, jou hele siel, jou hele verstand, en al jou krag.” Nie net die hart nie, maar ook die verstand behoort aan God. Wanneer ons dus met geloofsoë na die wêreld kyk, is jou verstand/rede deel daarvan. 

Hierdie uitgangspunt van redelikheid en geloof wat hand en hand loop, is ingebed in Bybelse insigte, en soos volg te beredeneer:

Die Wysheidsliteratuur in die Ou Testament (Psalms, Spreuke, Prediker) is versamelde oud-Oosterse wysheid. Dit handel oor die praktiese lewenskuns, oor alledaagse getoetsde ervaring. En die merkwaardige is dat dit in dieselfde Bybel voorkom as sogenaamde bo-natuurlike kennis, soos die 10 gebooie (deur God gegee by Sinai), en die reddings- of wonderdade van God. Dit dui die redelikheid van Bybelse geloof aan. Daar is geen teenstrydigheid tussen algemene kennis en Godskennis nie.

Paulus (Nuwe Testament) maak ook gebruik van die algemene wysheid van sy tyd. Die sogenaamde deugde- en ondeuglyste wat by die moraalfilosowe van die Griekse wêreld voorgekom het, word in Galasiërs 5:19-21,22-23 deur Paulus aangewend as Godskennis: die praktyke van die sondige natuur (onsedelikheid, onreinheid, eens) teenoor die vrug van die Gees (liefde, vreugde, geduld, eens). Wat Paulus hier aanmerk as slegte praktyke en vrug van die Gees, het reeds wye erkenning geniet by die destydse nie-Christelike denkers. Hierdie opvattings het dus ‘n redelike basis. Dit is meer as slegs esoteriese openbaringskennis net vir gelowiges bedoel.

Die Hebreërboek giet die Ou-Testamentiese offerkultus, wat besig was om van die toneel te verdwyn, in nuwe denkkategorieë wat vir denkende Griekse gelowiges verstaanbaar sou wees. Byvoorbeeld, dit stel Jesus voor as ‘n hemelse hoëpriester wat die allerheiligste van die hemelse tempel ingegaan het.

Bostaande belig die organiese karakter van hoe God sy spesiale kennis geopenbaar en in Bybel laat opteken het. Die insigte kom van God, maar is deur gewone menslike denkprosesse oorgelewer. Dit het soms lank gevat vir Goddelike insigte om deur te breek. Neem byvoorbeeld die geloof aan die opstanding van die dooies. Mens vind omtrent niks hiervan in die Ou Testament nie. Deur Israel se ervaring van die lewende God ontstaan egter die gedagte dat mens nie verdwyn na jou dood nie, maar in ewige gemeenskap met God lewe. Binne Israel heers daar egter nog lank ‘n stryd hieroor. In Nuwe-Testamentiese tye was die Sadduseërs en die Fariseërs nog haaks hieroor. Dis eers met Jesus se opstanding dat die volle werklikheid hieroor vir gelowiges deurbreek. Daarna word dit deur betroubare getuies oorgelewer (1 Korintiërs 15:3-8) en word dit deel van ons Christelike geloof. Dus, ‘n kernwaarheid van die Christendom dra die karakter van betroubaarheid (verifikasie deur ooggetuies), toetsing en langdurige bespreking.

Daar is ook kontrole in geloofswaarhede deurdat dit altyd deur die geloofsgemeenskap getoets word. Geloofsinhoud is dus nie maar bloot insidentele en persoonlike opinies nie. Byvoorbeeld, volgens 1 Korintiërs 14:29 moes profete mekaar se uitsprake oor en weer beoordeel of dit werklik van God kom. En in Lukas 1:1-4 lees ons van uitgebreide navorsing wat gedoen is.

Inderdaad die Bybel is Gods woord in mensetaal. Oor tyd heen is hierdie kennis oorgelewer, deur die geloofsgemeenskap getoets, en het dit deel van die Bybelse tradisie geword. Geloof en redelikheid gaan hand aan hand. En dit maak van die Christendom ‘n redelike godsdiens. Dit is nie onlogies en onredelik om in God te glo nie.

Samevatting: Daar is ‘n merkwaardige ooreenkoms tussen Bybelse getuienis en wetenskap. Dit is nie so dat net die wetenskap met getoetsde gegewens werk en die Bybel met ‘n ander soort kennis – kennis wat net van God kom en dus nie getoets kan word nie. Dis ‘n halwe waarheid. In die Bybel kry ons weliswaar openbaringskennis . Maar die wyse waarop hierdie kennis opgeteken is, is ook die neerslag van eeue se getoetsde tradisies. Dis nie bloot insidentele, persoonlike opinies nie. Oor geslagte heen het dit deel geword van mense se werklikheidsbelewing. Daarom daag dit ons uit om dit ook op redelike gronde te aanvaar as ‘n getroue weergawe van wat ons van God kan ken. Net soos wat daar algemene erkenning is vir wetenskaplike insigte wat oor tyd heen deel geword het van ons algemene kennis, behoort daar ook groter erkenning te wees vir die tyd-getoetste Bybelse insigte.

Natuurlik, as ons sê Bybelse geloofswaarhede is redelik, is dit nie die soort logika wat ons in ‘n wiskundesom aantref nie. Mens moet dit nog steeds glo, daardeur oortuig word, dit jou eie maak. Maar as jy dit glo, begin jy verstaan dat dit redelik is om so te glo en te leef. 

 

Outeur: Prof Hermie van Zyl