Die Eerste Brief van Johannes: Die vierde vereiste vir kinders van God – om lief te hê (4:7-5:4) – Francois Malan

Die herkoms uit God al dan nie, bepaal die aard van die liefde. Uit enige ander bron kan dit mensliewend, welwillend en vriendelik wees, maar skiet tog te kort in die weegskaal van God se oordeel.

 

  • Deel van God se liefde (4:7-10)

4:7‘Geliefdes’ – so word die gelowiges ses maal intiem aangespreek in hierdie brief (2:7; 3:2,21; 4:1,7,11). Johannes betoon sy liefde teenoor hulle voordat hy liefde van hulle vra (in die Griekse teks begin die eerste drie woorde met ‘n ‘a’ (agapetoi, agapoomen allelous). Hierdie gedeelte, 4:7-10 is in poësievorm geskryf as ‘n gedig oor die liefde.

‘laat ons mekaar liefhê…’ – 2:10 het reeds gesê: wie sy broer liefhet, bly in die lig; 3:11 dat die boodskap van die begin af was dat ons mekaar moet liefhê, en 3:23: God se gebod is dat ons in sy Seun, Jesus Christus moet glo en mekaar moet liefhê ooreenkomstig die gebod wat Jesus ons gegee het (vgl. Joh 13:14-17,35; 15:12). Die vorm van die opdrag om mekaar lief te hê dui aan dat dit ‘n voortgaande aksie moet wees, jou hele lewe deur.

‘…want die liefde is uit God’ – dit is die basis van die opdrag. Dit is nie net ‘n opdrag van Jesus of van God nie, maar is gegrond op die wese van God wat self liefde is (4:8,16). Hy is die bron van ons liefde (4:19). Liefde is ‘n gawe van God aan ons, ‘n gee van Homself aan ons.

‘en elkeen wat liefhet, is uit God gebore…’ – hierdie tweede sin brei uit op die vorige sin. Die agtergrond van die liefde van die gelowiges is hulle wedergeboorte deur die Gees tot kinders van God (3:24; 4:13; Joh 3:7-8;

vgl. 1 Jn 3:9 God se saad/natuur woon in die gelowige).

Dié wat uit God gebore is ‘…ken God’ – dit druk ‘n voortgaande intieme kennis van God uit (5:20 sê dat die Seun van God aan ons die insig en denkwyse gegee het om die ware God te ken). Die geboorte uit God en kennis van God word hier aan die liefde verbind. Wie liefhet, kan weet dat hy uit God gebore is en die ware God ken.

 

4:8 Die teendeel van vers 7 word hier gestel om die positiewe duidelik in perspektief te stel. Waar vers 7 praat van voortgaande kennis van God by die kinders van God, word hier gesê ‘wie nie liefhet nie, het God nie leer ken nie…’ – vers 7 praat van ‘elkeen wat steeds liefhet;’ vers 8 slegs ‘wie ookal nie vir God liefhet nie…’ en die vorm van die ‘nie’ en verlede tyd van ‘liefhê’ in Grieks veronderstel enigiemand wat nog nie in die verlede liefgehad het nie. So word die deur oopgelaat vir die moontlikheid om God te leer ken deur die werking van die Gees om hom te oortuig (Joh 16:8).

‘want God is liefde.’ – God is nie slegs die bron van liefde nie, maar God is die liefde self. Liefde is nie slegs een van sy werke nie, maar al sy werke is gevul met sy liefde: Hy skep in liefde, Hy regeer en sorg in liefde, Hy oordeel in liefde, alles wat Hy doen is uitdrukking van sy natuur wat bestaan in liefhê, soos dit veral in aksie te sien is in Jesus se optrede op aarde – dit is so verrassend, so nuut, so groots dat dit die mens se verstand te bowe gaan (Ef.3:19). Die Vader se liefde vir die wêreld word gesien in elke aksie van sy Seun wat mens geword het vir ons (1Jn 4:14). Hy trek ons na die gekruisigde Christus toe (Joh 12:32). God is ‘n persoonlike God, ons Vriend, wat Hom aan ons in sy Seun openbaar. Liefde is ‘n verhoudingsterm. Dat God liefde is, verwys dit na die verhouding tussen die Vader en die Seun en die Gees. Liefde is die eenheidsband tussen die Vader en die Seun en die Heilige Gees (Joh 3:35; 14:31; 17:24). In hierdie liefdesverhouding is ons opgeneem deur die inwoning van sy Gees in en by ons (Joh 14:16-17; 15:9-10; 17:26).

 

4:9 ‘Hierin is die liefde van God aan ons geopenbaar:…’ – die liefde wat van God uitstraal is destyds aan mense geopenbaar.’ 1 Jn 3:16 het reeds gesê: Hieraan ken ons die liefde: Jesus het sy lewe vir ons afgelê.

‘…dat God sy enigste Seun na die wêreld gestuur het…’ die vorm van die werkwoord dui ‘n handeling in die verlede aan, waarvan die gevolge voortduur. Die ‘enigste Seun’ is volgens die Ou Testament nie slegs die enigste kind nie (Rigt 11:34), maar ook die geliefde kind (Gen.22:2, soos in Mk 1:11; 9:7).

‘sodat ons deur Hom kan lewe’ – die werkwoordsvorm dui aan dat ons deur Hom kan begin lewe, die begin van ‘n voortgaande proses, waarmee God besig is met ons, waarin ons betrokke is en waarvoor ons self ook verantwoordelik is. ‘Lewe’ is in 1 Jn 1:1-3 verduidelik as ‘n lewe in gemeenskap met die Vader en sy Seun, Jesus Christus (wat self ‘Ewige Lewe’ genoem word). In Joh 6:57 sê Jesus: ‘Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur Hom lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe’ – om deur Hom te lewe is ‘n lewe wat deur Jesus bepaal en gelei word, nie volgens my eie wil en wense nie, maar soos die Seun vrywillig die wil en wense van sy Vader uitgevoer het.

 

4:10   Hierdie vers verduidelik hoe ons die Vader se liefde en ‘n lewe in sy liefde kan beleef ‘deur’ die werk van die Seun.

‘hierin bestaan die liefde…’ – wat die liefde werklik is, word uitgespel: ‘nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het…’ Dit is nie die mens wat God liefgehad het en daarmee voortgaan nie, maar God se ewige liefde vir die mens het vir Jesus op dié bepaalde tydstip in die geskiedenis gestuur. God is die bron wat liefde skep. Dit word beklemtoon deur die negatiewe en die positiewe stelling in hierdie sin. Die mens se liefde vir God het vér tekort geskied. Maar as die liefde van God deur die Heilige Gees in ons kom woon, kan ons begin om God opreg lief te hê.

‘en sy Seun gestuur het as soenoffer vir ons sondes’ – die woord ‘soenoffer’ wys na die middel waardeur sondes vergewe word. Die Seun van God is die enigste soenoffer wat God en mens versoen. Jesus se offer van Homself is deel van die liefde van God. Die stuur van sy enigste/geliefde Seun as ons soenoffer is deel van die Vader se onbaatsugtige liefde. In 2:2 het Johannes reeds gesê: ‘Jesus is die versoening vir ons sondes; en nie net vir ons sondes nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.’ Hy het ons sondeskuld en sondesmet op Hom geneem, en alles opgeruim wat skeiding tussen God en die mens maak. God het ons gerehabilteer en neem ons weer op in sy gemeenskap. Daar kan geen groter bewys van sy liefde wees nie. Voortaan kan sy liefde ons aanraak, opwek, ons insluit en ons meevoer op sy pad.

Skrywer:  Prof Francois Malan