DIE VLEUELS VAN GEBED (11)

DIE VLEUELS VAN GEBED (11) – Jan van der Watt

Here, vergewe my sonde!

Dit is mense wat bid, jy en ek. Solank dit mense is wat bid, sal gebed altyd in die kloue van sonde en gebrokenheid vasgevang wees.

Nou kan ons ongelukkig nie rustig aanbid en hierdie saak ignoreer nie. Sonde benadeel gebed en benadeelde of gebrekkige gebed lei weer tot sondigheid. In hierdie bose spiraal wil geen Christen beland nie. En tog is dit ‘n strik wat so moeilik is om te vermy.

Ek het jou dan vertrou?

Wat is sonde? ‘n Mens sou seker vinnig ‘n lysie kan maak, soos vloek, lieg, steel en so aan. Maar die Bybel sal gou vir jou sê dat hierdie dinge net die simptome is van ‘n groter siekte. Die oorsprong van alle sonde lê in ‘n iets wat verkeerd loop met jou verhouding met God. Dit is iets wat maak dat jy so optree dat God ontevrede is. Nou kan daar baie redes voor gegee word, byvoorbeeld dat satan jou verlei, of dat jy ongehoorsaam is of jou eie kop wou volg. Maar die kern van die saak bly steeds dat daar iets verkeerd loop met jou verhouding met God.

Nou weet ons ook almal uit ervaring dat ‘verhoudings’ nie dooie goed is nie. Dit lewe! As jou beste vriend iets doen wat jou seermaak en benadeel, voel dit seer hier binne in jou. Daardie ‘onsigbare’ band tussen jou en hom – vertroue – word aan geknaag en geskuur. Dan moet dit reggemaak word. Die balsem van vergifnis en liefde moet uitgehaal word.

So werk dit ook maar met ons verhouding met God. Sonde, of dit nou vloek of steel is, doen iets aan my verhouding met God. En dit moet reggemaak word!


‘n Kind in die familie van God.

Feitlik al die woorde en beelde wat in die Bybel gebruik word om te verduidelik wat met ‘n mens gebeur as jy verlos word, gaan oor die herstel van die verhouding tussen God en mens: die slawe van die sonde word vry, die dooies in die sonde kry lewe, die aangeklaagtes word vrygespreek.

‘n Christen is dus in die eerste plek iemand aan wie God die voorreg gegee het om in ‘n verhouding met Hom te staan. Nou is dit nie sommer enige verhouding nie. God maak ons kinders in sy gesin (vgl. Rom 8:15-17; Joh 1:12-13). Ons word deel van sy familie.

In die tyd van Bybel was families ook anders gereël as vandag en God wil hê dat ons oor onsself dink in terme van die ou families. Vandag se families is indidvidualisties. Die kinders kan word wat hulle wil, kan hulle eie besluite neem, gaan gou uit die gesin en sit huis op en so aan. Die destydse families was anders. Dit was byna soos in die ou dae op die plaas. Die pa was die hoof van die gesin en het bepaal hoe die lede van die gesin hulle moet gedra. Die kinders was in die eerste plek lede van die gesin. Die band wat die ou gesinne saamgebind het was ‘n sterk groepsband. Gesinslede se persoonlike belange was ondergeskik aan die belange van die groep of gesin. Hulle moes maak soos die pa en die gesin van hulle verwag en lojaal teenoor die gesin wees. Daarvoor het die gesin hulle vertrou. Maar die individuele lid van die gesin kon ook van die gesin verwag om hom of haar te ondersteun en te beskerm. Die groep of gesin was dus ook lojaal teenoor die individu.

Die individuele lid van die gesin moet dus gewillig wees om die spel van die lewe saam met die res van die gesin te speel. Dit moet ‘n basiese lewenshouding wees. As die individuele lid egter iets doen wat die pa en die res van die gesin skade aandoen, raak die verhoudinge versteur. Onsekerheid ontstaan oor die wedersydse lojaliteit. Dan moet sake reggemaak word. Dit gebeur natuurlik net as die vertroue weer herstel word. Die skuldige een moet ten minste vir die ander om verskoning kom vra en weer sy lojaliteit bevestig.

Hierdie inligting oor hoe gesinne in die Bybelse tyd gewerk het, help ons om te verstaan wat met sondebelydenis in die Bybel bedoel word. Die Bybel sê dat die gesin van God vergelyk kan word met die gewone gesinne van daardie tyd.

God vra van sy kinders om in gehoorsaamheid aan Hom op te tree. Hulle wil mos immers Christene oftewel gesinsgenote van God wees. Daarom vertrou die Here dat die gelowige in sy optrede ook sal wees wat hy sê hy wil wees. As die gelowige nou sonde doen, skaad dit hierdie verhouding tussen Pa en kind. En die saak is met God nog baie erger as met ‘n gewone verhouding omdat God nie onreinheid duld nie. Hy sien nie maar foute oor nie. Hy sê nie ‘aag toemaar’ terwyl ons maar aankarring nie. Nee, op hierdie punt is God onverbiddelik. Hy háát sonde en daarom versteur ons sonde ongetwyfeld ons verhouding met God. Dit plaas ‘n vraagteken oor ons lojaliteit teenoor God. En dit kan nie so gelaat word nie.

Hierdie verhouding moet reggemaak word! Die vertroue moet herstal word. Die manier waarop God wil hê dat dit reggemaak moet word, is deur sondebelydenis.


Skrywer: Prof Jan van der Watt