DIE VLEUELS VAN GEBED (13)
DIE VLEUELS VAN GEBED (13) – Jan van der Watt
Die ou slang kry ‘n bloedneus.
Here help, satan wil my seermaak!
Die positiewe pool van sondebelydenis is ‘n pleidooi vir bewaring teen die sonde. Elke gelowige is satan se verklaarde vyand nommer een. Satan wil ons graag skade aandoen, omdat die enigste manier is waarop hy God kan seermaak. Dit is satan se lewensdoel. Jy as gelowige staan ongelukkig in hierdie spervuur. Gelukkig is ons darem gewaarsku! Daarom kan ons voortdurend bid dat die Here ons teen die aanvalle en versoekings van Satan sal beskerm.
Daarom kan ons ook bid:
Laat ons nie in versoeking kom nie,
maar verlos ons van die bose.
(Mat 6:13)
Maar nou moet ons weet waaroor ons bid en waarvoor ons vra as ons vra dat God ons sal verlos van die bose. In Efesiërs 6:12 waarsku Paulus juis sy gemeente:
Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie
maar teen die owerhede, teen die magte,
teen die heersers van hierdie donker wêreld,
teen die bose geeste in die lug.
Daarom pas die raad wat hy gee by die tipe stryd wat gevoer moet word:
Soek julle krag in die Here en in sy groot mag.
Doen dit alles biddend
en smeek God by elke geleentheid deur die Gees.
Wees waaksaam
en bid gedurig vir al die gelowiges.
(Ef. 6:10,18)
In gebed moet ons onsself dus biddend staal teen versoekings en aanslae wat oor ons lewenspad mag kom. In gesprek met God moet ons onsself voorberei om elke slim plan van satan om ons uit te vang, te fnuik. Dit vorm dus ook ‘n belangrike deel van my sondebelydenis. Ek moet dus nie alleen my sondes wat ek reeds gedoen het, bely nie. Ek moet myself ook soos ‘n soldaat voorberei vir die lewenstryd wat voorlê.
Die Here gee my ‘n wapenrusting.
Uit Ef. 6:10-17 (die sogenaamde ‘wapenrusting van God’ – vers 13) is dit meer as duidelik wat dit beteken om jouself vir die lewenstryd teen die magte van die bose gereed te maak. Die gelowige word gevra om op sy pos te bly (verse 13 en 14). Dit beteken bloot maar om naby die Here te leef. Die plek wat die Here vir jou uitgekies het, dáár moet jy bly. En die Here sal nie sy kind in die leeukuil instuur sonder om Self daar te wees en hom of haar te beskerm nie. Maar in hierdie stryd sien die Here ons nie as babatjies nie, maar as soldate. Ons moet dus self tot die stryd toetree. Daarvoor het ons egter nodig om God se wapenrusting aan te trek. Paulus het hier natuurlik die outydse oorlog in gedagte waar die mense mekaar met swaarde, stokke en spiese toegetakel het. Om in so ‘n situasie ‘n behoorlike wapenrusting te hê het jou in ‘n baie sterk posisie geplaas.
As ons nou God se wapenrusting van nader bekyk (verse 14-16), is al die geestelike wapens wat Hy ons gee wapens wat uit ‘n sterk en goeie verhouding met Hom werk. Ons het die ‘waarheid’ as gordel.Wie anders het en is die waarheid as God self. Dieselfde geld vir geregtigheid wat ons as borsharnas moet aantrek. Wie is die groot Regter wat ons regverdig verklaar en ons ook lei om reg op te tree? Ons moet bereid wees om die evangelie van vrede te verkondig. Wie se evangelie is dit? Waarvan vertel hierdie evangelie ons? Geloof en verlossing is ons skild en helm. Hoe sterker ons geloof, hoe beter kan ons die satan se aanvalle stuit; met ander woorde, hoe nader ons aan die Here staan hoe swakker word satan se kans om ons beet te kry. Immers, dit is by die lewende God waar ons ons verlossing gekry het. Hy sal dit nie sommer vir niks tot niet maak nie! En dan gee die Here nog vir ons die swaard van die Gees, die woord van God. Deur die begeleiding van die Gees van God praat ons die woorde van God. Waar die leuens en misleiding van satan opduik, daar moet ons die woorde van God laat weerklink!
Die groot geheim van ons lewenstryd is dus om met ons hand styf in die hand van God te leef. As ons saam met en naby Hom deur die wêreld loop, sal satan se skadu nouliks oor ons val! Satan is sku vir God. Hy is bang vir die Koning van die konings, want God het hom vernietigend verslaan. Daarom waag hy dit nie naby God nie. As jy dus in alles wat jy doen naby God bly, bly jy eintlik tegelykertyd uit die pad van satan! Ons sien hier dus weer dat die hart van gebed – en ons hele geestelike lewe – bly maar ‘n intieme en hegte verhouding met die lewende God.
Dit bring ons dan weer by die rol van gebed. Uit Ef. 6 is dit duidelik dat die beskrywing van die wapenrusting van God (in verse 14-16) eintlik deur ‘n oproep vir ‘n intieme gebedsverhouding met God ‘omarm’ word (verse 10 en 18). In gebed trek jy die wapenrusting van God aan. Daar berei jy jou voor om die versoekings teen te werk.
Tog gebeur daar soms in jou lewe dinge wat jou maar traag maak om jou wapenrusting aan te trek. Dit is net asof jy nie aan die bid kom nie. Soms lyk dit byna asof jy na die vyand oorgestap het…
Sonde: my groot vyand wat ek soms soos ‘n vriend behandel.
‘n Goeie gebedslewe het ook sy vyande, soos ons reeds gesien het.
Ons het reeds gesien dat gebed moontlik is omdat God daar is. Omdat God daar is en dit so wil hê, kan ons in ‘n verhouding met Hom staan. Hierdie verhouding word gevoed en versterk omdat ons met God kan praat. Uit hierdie gesprek met God put ons dan ook ons krag.
Natuurlik sal die duiwel sy mes in hierdie verhouding wil inkry! Hoe swakker die verhouding, hoe beter is die duiwel se kanse om God se werk in jou te laat ontspoor. Hoe meer die duiwel jou gebedslewe kan aftakel hoe beter is sy kanse om jou verhouding met God te bederf.
Nou is daar sulke kraperighede wat die duiwel gebruik om jou gebedslewe uit te kalwe. Kom ons kyk na ‘n paar ‘taktieke’ wat die duiwel gebruik om ons geloofslewe te versteur. So kan ons agterkom hoe hy werk.
* Die duiwel krap dikwels ons verhoudinge wat vir ons die meeste tel deurmekaar. Hy gooi daai saadjie van ontvredenheid en spanning tussen man en vrou in, of tussen ma en kind. So iets maak jou ongelukkig en ontstel jou. As jy dan op jou knieë staan, voel jy net nie reg om te bid nie. Jy voel skuldig of skaam, want jou saak met jou man of kind is nie heeltemal wat dit moet wees nie. Op daardie stadium is dit ook nie sommer moontlik om alles ‘uit te praat’ nie. Wat nou gemaak? Hoe bid jy nou? Huigel jy nie dalk om nou met die Here te praat terwyl alles nie reg is nie? Natuurlik lag satan al die pad. Hierdie taktiek weet hy werk soos ‘n bom!
Daarom sê Petrus dat ons ons verhoudings in die gesin gesond moet hou, want ‘dan sal julle kan bid sonder dat iets julle hinder’ (1 Pet 3:7). Dieselfde soort gedagte kry ons by Mat 5:23-24. Hier val dit jou by dat jou broer iets teen jou het. Eintlik sou ons kon sê dat dit sy probleem is. Die Here redeneer egter nie so nie. As iets van jou jou broer pla, moet jy dit gaan regmaak. En as dit jy is wat iets teen jou broer het, geld dieselfde: vergewe hom (Mk11:25). Gebed funksioneer effektief binne die ruimte van gesonde persoonsverhoudinge. Dit is hoe die Here dit wil hê.
* Geestelike selfversekerdheid en hoogmoed is ook ‘n stok in die wiel van effektiewe gebed. Dit is as jy begin dink dat die Here eintlik ‘gelukkig’ behoort te voel oor jou. Jy is mos nie soos baie ander nie… nee, jy is beter! Jesus het ‘n hele gelykenis daaroor vertel. In Luk 18:9-14 lees ons van die twee mans wat in die tempel gebid het. Die een het sy eie lof voor God besing. ‘n Mens kry byna die gevoel dat daardie man verwag het dat die Here vir hom hande moes klap. Aag nee wat, so werk dit nie. In gebed is jy die een wat op jóú knieë voor God staan en nie andersom nie! Daarom luister God eerder na die tollenaar se gebed wat uit ‘n hart van nederigheid kom.
* Ons motiewe met gebed tel ook baie. Die fokuspunt is kommunikasie met die lewende God. Dit is die manier waarop ons nader en nader aan Hom wil kom. Maar dit is so maklik vir hierdie fokus om te verskuif. So maklik kan ons net oor onsself begin praat. So maklik word EK die middelpunt van die hele gesprek. Ek vergeet dat dit ek is wat voor God staan, maar bid asof dit God is wat voor my staan. Hy moet luister (en maak?) soos ek sê. Geen wonder dat Jakobus (4:3) dit as een van die struikelblokke in ‘n gesonde gebedslewe uitgewys het nie: ‘As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig’.
* Dit kan ook gebeur dat ons dink dat ons sekere sondes vir die Here kan wegsteek. As ons op ons knieë staan, bid ons ten spyte van daardie verkeerde dinge wat nog in ons lewens is. Ons ‘ignoreer’ dit liefs en dink dat dit sommer sal weggaan. Ons praat nie met God daaroor nie en dink dat Hy dit dan nie sal agterkom nie. Jesaja (59:1-2) het die saak mooi gestel:
Die arm van die Here is nie te kort om te help nie
en sy oor nie te doof om te hoor nie.
Dit is julle oortredinge wat skeiding gebring het
tussen julle en julle God,
dit is julle sondes wat maak dat Hy Hom nie aan julle steur nie
en nie na julle wil luister nie.
Ons het geen ander keuse as om eerlik met God te wees nie. Ons kan nie met twee gesigte voor Hom verskyn nie. Ons moet suiwer en opreg voor Hom leef: Laat ons tot God nader met ‘n opregte hart en met volle geloofsekerheid… saam met almal wat die Here met ‘n rein hart aanroep (Heb. 10:22 en 2 Tim2:22). Dit beklemtoon die belangrikheid van sondebelydenis.
* Dikwels met ‘n kaartspel in ‘n film, bring die speler op die laaste sy ‘troefkaart’ uit. Die boef steek natuurlik altyd so ‘n kaart iewers in sy mou weg. Daai kaart wen kaartspelle, eerlik of te nie! Twyfel is die duiwel se troefkaart. Daarmee probeer hy die mat onder die gelowige se voete uitruk. Geen wonder dat die Here vir ons ‘n baie duidelike waarskuwing in sy Woord teen twyfel gegee het nie:
Maar ‘n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie,
want iemand wat twyfel,
is soos ‘n brander in die see wat deur die wind aangejaag
en heen en weer gedryf word.
So ‘n mens wat altyd aan die twyfel is
en onbestendig is in al sy doen en late,
moet nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie.
(Jak. 1:6-8)
Twyfel is eintlik ‘n vreeslike ding. Om te twyfel aan wat jy bid sê eintlik dat jy dink God hoor jou nie of dat Hy nie sy woord gaan hou nie. Twyfel is ‘n direkte refleksie op God. As ‘n mens egter in aanbidding voor God gestaan het en besef het Wie Hy regtig is, kan jy eintlik nie meer twyfel nie.
Die belangrikste manier om twyfel dus teen te werk, is om lank en intens na God te kyk. Kyk weer wat Hy jou beloof het; dink daaraan of Hy werklik sy woord sal breek; oorweeg Wie Hy is. Om dit so te stel; As God by die voordeur in kom, vlug twyfel by die agterdeur uit. God en twyfel kan nie tegelyk in dieselfde ‘huis’ leef nie.
Kom ons oefen…
As ‘n mens ‘n hou sien kom kan jy koets. As jy kan nadink oor versoekings wat jou mag tref kan jy soveel sterker staan as hulle jou die dag wel tref. Ruim daarom tyd in jou gebed in om jou teen versoekings te staal. Trek die wapenrusting van God aan. Kom ons kyk hoe dit prakties gedoen kan word.
Hier moet daar weer tyd vir bepeinsing gemaak word.
* Dink aan môre. Is daar enige situasie wat jy aan kan dink wat jou miskien in die ‘moeilikheid’ kan hê. (Dit kan miskien ‘n gespanne verhouding met jou tienerkind of man wees; dit kan ‘n moeilike situasie by die werk wat jy moet regmaak; of wat ook al). Is daar so iets waaraan jy kan dink? Skryf dit neer……………………………………… …………………………………………………………………………………………………………………. ………………………………………………………………………………………………………………….
* As jy nou aan jouself raad moet gee in die lig van wat jy oor die ‘wapenrusting van God’ weet, wat sou jy sê moet jy doen? Wat dink jy sal vir jou werk as jy môre in die moeilike situasie kom? ……………………………………………………………………….. …………………………………………………………………………………………………………………. ………………………………………………………………………………………………………………….
* Praat nou met die Here daaroor……………………………………………………………………
………………………………………………………………………………………………………………….
* Dink ook af en toe na oor hoe jy bid. Word jy soms deur twyfel uitgevang, bid jy soos die Fariseër, of bid jy soms net vir jouself?
Skrywer: Prof Jan van der Watt