DIE VLEUELS VAN GEBED (15)

DIE VLEUELS VAN GEBED (15) – Jan van der Watt

Gebed doen meer aan jou as aan God?!

As ‘n mens gebed teen hierdie agtergrond sien, kan ons heelwat dinge beter verstaan. Om die waarheid te sê, ons sal by die hart uitkom van wat dit beteken om God iets in jou gebede te vra.

As lede van God se span, sy familie, moet ons die belange van God se ‘span’ op die hart dra. Ons sal mos nie wil hê dinge moet gebeur wat God se ‘span’ benadeel nie. God wil dit ook nie hê nie. In die opsig loop sy wil en my wil op dieselfde spoor. Dit is juis wat God bedoel met: ‘Bid volgens my wil’. Ons belange moet so met God se belange ‘een’ wees, dat ons eintlik vir God niks anders sal wil vra as wat Hy buitendien vir sy familie sou wou gee nie. Dit is dan dinge wat buitendien volgens sy ‘wil’ is en daarom kan ons seker wees dat dit ‘goed’ is.

So gesien doen gebede dus meer aan jou as aan God! In jou versoeke aan God moet jy konstant onthou wie jy is! Jy is ‘n Christen, deel van God se familie. Jy bid dus nie bloot om jou eie sak vol te maak nie. Jy bid in die ‘omgewing’ van die sin wat God aan jou lewe wil gee. Jy is deel van sy ‘span’ wat speel en God wil hê dat jy so goed as moontlik speel. As jy dus bid, moet jy bid met die gesindheid om sinvoller kan leef in die lewe waar God jou geplaas het. En hoe leef jy sinvoller? Deur meer en meer die ‘spel van die lewe’ te speel soos God dit vir jou bedoel het.

Daarom doen jou gebede soveel aan jou. Dit is jy wat in pas met God moet kom en nie anders om nie! Jy moet met elke ding wat jy vra weer seker maak of dit in ooreenstemming is met wat God vir jou lewe wil hê. So op jou knieë voor God moet sy gedagtes jou gedagtes word en sy wil jou wil. Daarom word elke gebed ‘n gebeurtenis waarin jy meer en meer na God en sy wil toe beweeg. Jy moet soos jou Vader leef. Elke versoek is derhalwe ‘n versoek dat God jou ‘n beter ‘spanlid’ vir Hom sal maak. Sy wil moet jou wil word en bly!

Om dus te sê dat ons volgens die Here se wil moet bid, beteken meer as om net oor elke afsonderlike saak te wonder wat die Here hieroor sou sê. Nee, dit beteken meer. Dit beteken om jou hele lewe deur die stroom van God se teenwoordigheid en wil te laat meesleur. Elke ding wat jy vra moet ‘n versugting wees om meer en meer van God in jou lewe gestalte te gee.

Dit maak natuurlik ons ‘vrae’ aan God baie meer as net vrae. Dit is die deelname aan ‘n groter gebeurtenis. Dit is die soeke na God se wil vir jou lewe. In die sin is gebed ook ‘n stuk Gods-diens.


Op die skoot van Abba, Vader.

Eintlik is hierdie manier van bid iets wonderliks! Bloot die feit dat die gebed van die Here met ‘ons Vader’ begin, sê al baie. Paulus sê ook dat ons in gebed vir God kan aanroep as ‘Abba’, wat beteken vader of pappie (Rom 8:15; Gal 4:6). Al beteken die woord nie altyd net ‘pappie’ nie, wil Paulus tog iets uitdruk van die liefde en intimiteit wat met die woord ‘pappie’ saamgaan. En dit is wat met gebed gebeur – ons kom naby ons Pappie; ons klim op sy skoot.

Dink net daaraan! Ons kan op die almagtige, lewende God se skoot klim, ons arms om Hom slaan en vir Hom sê ‘Pappie’! Daar op sy skoot kan ons na sy hartklop luister of ons geheime wense in sy oor fluister. Maar so op sy skoot sal ons nie dinge kan vra of sê wat Hom seermaak of benadeel nie. So teen die bors van ons Vader sal sy wil en ons wil en sy gedagtes en ons gedagtes ineenvloei. So sal die verhouding tussen jou en die Vader net sterker en sterker word omdat jy net nader en nader aan Hom groei.

Ons gaan dus nie net na God se vraebus om ‘n versoek in te gooi en ander kant te gaan staan en wag vir die antwoord nie. Nee, ons gaan op die skoot van ons Pa klim. Daar gaan ons ons idees en vrae met Hom bespreek. Ons sal wil hoor hoe Hy daaroor voel! In sy antwoorde sal ons sy liefde en besorgtheid oor ons hoor, sal ons nader en nader aan Hom groei. As ons wegstap, sal dit vir ons ‘n vreugde wees om sy besluit, sy wil, te aanvaar en te gaan doen.

Ook om vir dinge te vra, is ‘n Godservaring. Daar ontdek jy weer dat jy sy kind is en dat Hy jou liefdevolle Vader is.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt