DIE VLEUELS VAN GEBED (6)

DIE VLEUELS VAN GEBED (6) – Jan van der Watt

Op my knieë in aanbidding en lof.

Gebed is daar omdat God daar is. Die wonder van alles is dat ons vry met God kan praat. Maar nou is God nie sommer enigiemand nie! Dit is nou nie sommer asof ons met die tuinhulp of met die buurman oor die draad gaan praat nie! Om te bid beteken om te weet met Wie jy praat.

1. Aanbid Hom, kniel voor Hom neer.

Gebed nooi ons in die troonsaal van die lewende God in! Uit Open. 4 kry ons nogal ‘n goeie ideë hoe dit in die troonsaal van God lyk.

In die middel staan ‘n groot troon met Iemand – God self – wat daarop sit. Rondom die troon is daar ouderlinge, verteenwoordigers uit die hele wêreld en baie engele. Dit is egter wat hulle doen wat ‘n mens beïndruk. Nag en dag, sonder rus roep hulle uit:

Heilig, heilig, heilig

is die Here God, die Almagtige,

Hy wat was en wat is en wat kom.

(Open. 4:8)

Hulle aanbid Hom terwyl die ouderlinge hulle krone voor Hom neersit:

Here, ons God, U is waardig

om die heerlikheid

en die eer

en die mag te ontvang

omdat U alles geskep het;

deur u wil het alles ontstaan

en is dit geskep.

(Open. 4:11)

Wie sal sommer net in hierdie troonsaal kan instap asof dit aan hom of haar behoort? Wie regtig besef dat gebed jou na die troonsaal van God voer, sal weet dat om net daar toegelaat te word, eintlik een groot stuk genade is. Dit is juis God wat vir jou sê dat as jy op jou knieë gaan, jy kan weet: Hierdie God aan wie die eer en die heerlikheid en die mag toekom, is JOU GOD! Hy wat op die troon sit het ook vir jou ‘n plekkie voor Hom. JY mag daar staan tussen al die engele en ouderlinge en skares en ook jou stem saam met hulle in AANBIDDING laat hoor.

AANBIDDING is die wegspringblokke vir gebed. Dit is soos die paal vir die paalspringer – dit moet jou help om die hoogte te bereik om oor die dwarslat te kom. Dit is daardie plek waar hemel en aarde ontmoet. Aanbidding help jou om raak te sien Wie God is, maar ook om raak te sien wie jy self is.


Aanbidding laat jou sien Wie God is!

Die Griekse woord wat vir ‘aanbidding’ in die Bybel gebruik word, beteken om op jou knieë te val of om laag te buig. Daar, laag op jou knieë, sê jy eintlik hoe belangrik die een voor wie jy buig vir jou is. Presies dit is wat aanbidding is. Dit is om laag voor God te buig in erkenning vir Wie Hy is! Dit behels die verheerliking en erkenning van God vir Wie Hy is en ook vir wat Hy vir jou doen.

Die eerste stap in jou gebed is dus om jou oë op te slaan en in die verblindende son van God se genade en goedheid te probeer instaar en net te prewel: ‘Dankie Here dat ek hier mag staan! Here, ek maak U groot vir Wie U is. Ek eer en aanbid U as my God.’ In die sin is elke gebed ‘n avontuurlike ontdekkingstog. Elke gebed laat jou opnuut die grootheid, ja, die majesteit van God ontdek en ervaar. Aanbidding is daarom die hoogste vorm van bewondering wat ‘n mens teenoor God kan uitspreek.

Dit is byna soos ‘n klein seuntjie vir wie sy groot sterk pa alles is. Elke beweging van sy pa lok bewondering uit. Elke blik van sy pa in sy rigting laat hom oorweldig van trots en vreugde.

Daar is verskillende maniere waarop jy in aanbidding voor die lewende God kan kniel. Soms mag jy bloot in stille verwondering voor die grootheid van God kniel, sonder om ‘n woord te sê. ‘n Ander keer mag dit wees dat jy die stortvloed van woorde nie kan keer nie. (Die gawe van spreek in tale kan hier selfs aan jou gegee word).

Dit mag ook gebeur dat ‘n mens se gedagtes partymaal so dwaal of deurmekaar is, dat jy sukkel om God met helder oë raak te sien. Maar om die werklike rykdom uit jou gebed te put mag daar geen rookdamp van sonde of bekommernis tussen jou en God kom staan nie. Jy moet God helder raaksien – die Een wat op die troon sit!

Kom ons vra daarom net weer Wie hierdie God is. Hier is dan ook ‘n praktiese wenk. Ons moet dit nou maar een maal erken. Dit kan gebeur dat jy net nie met jou gebed op dreef kom nie. Dit is asof jy jouself net nie kan voorstel dat jy in die troonsaal van God staan nie. Dit is asof jy nie kan sien wat daar aangaan nie. Dan help die Bybel ‘n mens nogal baie. Daar is pragtige Psalms wat ‘n mens kan lees om ‘n mens reg in te stel en jou oë helder op God te fokus (bv. Ps. 121, 125, 145, 146, 147 en so aan). Kom ons kyk hoe stel Jesaja (40:28-31) dit:

Weet jy dan nie, het jy nog nie gehoor nie?

Die Here is die ewige God, Skepper van die hele aarde.

Hy word nie moeg nie, Hy raak nie afgemat nie

en sy insig is ondeurgrondelik.

Hy gee die vermoeides krag,

Hy versterk die wat nie meer kan nie.

Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat,

selfsmanne in hulle fleur struikel en val,

maar die wat op die Here vertrou, kry nuwe krag.

Hulle vlieg op arendsvlerke,

hulle hardloop en word nie moeg nie,

hulle loop en raak nie afgemat nie. 

Dink ‘n paar oomblikke oor hierdie woorde na…

So kan die woorde in die Bybel ‘n mens help om God helderder te sien. Dan kan jy aan Hom die glorie en eer gee wat Hom toekom (Open. 14:7). Dan maak dit vir jou sin om op jou knieë te staan, want dit kan nie anders nie. Voor so ‘n groot God is en bly dit vir jou ‘n genadige eer om wel op jou knieë te mag staan en jou aanbidding deel te maak van die engelekore wat God verheerlik.

 

Aanbidding laat jou ook sien wie jy is!

Daar op jou knieë sien jy jouself ook baie duidelik. As jy in die troonsaal sien dat God aan jou die guns bewys het om een van die groot leërskare te wees wat aan Hom eer toesing, wéét jy ook wie jy is. Jy is die een wat van God afhanklik is. Jy is nie die een wat in trots voor God kan staan asof Hy aan jou iets verskuldig is nie. Soos die sondaar van ouds kan jy maar net op jou bors slaan, oorweldig deur jou eie tekortkominge. Daarom draai aanbidding jou oë maar net weer telkens in bewondering na die God wat jy aanbid. Dit is die God op die troon, maar ook die God wat vir jou ‘n Vader wil wees!

Kom ons val in eerbetoon woor Hom neer,

kom ons buig,

kom ons kniel voor die Here ons Skepper!

Hy is ons God en ons is sy volk,

sy kudde, sy skape,

deur sy hand versorg.

(Ps. 95:6-7) 

 

Gebed groei uit aanbidding.

Dit is nou sekerelik verstaanbaar waarom daar gesê kan word dat gebed uit aanbidding groei. Met die paal van die paalspringer word hy tot by die dwarslat gelig… met die aanbidding word die gelowige tot aan die voete van die lewende God gebring. Daar sien hy nie alleen Wie God is nie, maar ook wie hy of sy self is. Wie kan dan anders as om uit dankbaarheid God te aanbid.

En wie sou dan nie ook verder wou bid nie…

Immers, As jy voor die almagtige God staan…

kan jy dan nog wonder of daar iets is wat vir Hom nie moontlik is nie?

As hierdie God sê dat Hy jou liefhet…

kan jy dan nog wonder of Hy jou in jou nood sal bystaan?

As Hy sê dat Hy elke haar op jou hoof getel het…

kan jy Hom dan nog daarvan verdink dat Hy jou sal vergeet?

As Hy jou uitnooi om in gebed van Hom te kom vra…

sal jy dan in stilte wegdraai?

As Hy beloof om jou trane af te droog…

Kan jy dan ooit voel dat Hy jou met sy troos sal oorslaan?

Aanbidding is inderdaad die bedding waaruit gebed groei. Op jou knieë in verwondering voor die Een op die troon, groei die avontuur van jou saamwees met God.


Kom ons aanbid!

Word ‘n oomblik stil. Fokus nou jou gedagtes op WIE GOD IS.

Vra jouself af wat dit prakties vir jou beteken. Dink ook ‘n oomblik

na oor WIE JY SELF IS in die lig van die grootheid van God.

Aanbid nou vir God vir Wie Hy is en wat Hy vir jou beteken.

Skrywer: Prof Jan van der Watt