Die voetwassing deur Jesus (13:1-5)

image_pdfimage_print

Die voetwassing deur Jesus (13:1-5) – Francois Malan

13:1 Die uur waarvoor Jesus na die wêreld toe gekom het, het aangebreek (Jn 12:27). In hierdie uur sal God vir Jesus verheerlik, en Jesus sal die Vader verheerlik deur sy dood vir die redding van die wêreld, met ‘n dood wat van alle heerlikheid ontneem is – ontbloot hang Hy daar  (Jn 12:24-26). Dit is ook die uur vir die oordeel oor die wêreld, die oorwinning oor die duiwel, en die verhoging van Jesus om as God oor die ganse wêreld te regeer (Jn 12:31-32).

Dit is die uur wat Hy weer ‘oorgaan’  na die Vader in die heerlikheid wat Hy vantevore gehad het (Jn 17:5). Op hierdie draaipunt van sy lewe, die doel van sy menswording, wys Hy sy liefde tot die uiterste toe vir sy eie mense. Sy eie mense sluit almal in wat aan Hom behoort, almal wat in Hom glo. Sy liefde tot die einde toe (eis telos tot in die end) druk voltooidheid, die volmaaktheid van sy liefde uit, sy volkome selfverloëning, sy volkome offer vir die sonde van die hele wêreld). Hierdie vers is die inleiding tot die hele lydensweg van Jesus, van hoofstuk 13 tot hfs. 20; 13:1-3 is weer ‘n soort voorspel of overture tot die res van die Evangelie, met temas wat in die res uitgewerk word, soos 1:1-18 die geval was.

 

13.2 ‘En tydens die aandete (deipnon)’ (1983-vertaling: Jesus en sy dissipels was aan tafel). Saam eet is ‘n teken van vriendskap en verbondenheid. En hier sit Judas, in wie se hart die duiwel dit alreeds gelê het om Jesus te verraai (paradidoomi beteken ‘om oor te gee’ hier in die sin van aan die vyand uitlewer, aan die owerheid). Verraad geskied net deur een van die binnekring, wat saam eet. Soos die duiwel dit in die harte van die Jode gelê het om Jesus dood te maak, vir wie Jesus noem ‘kinders van die duiwel,’ ‘n moordernaar van die begin af (8:44), so gebruik die duiwel vir Judas in sy finale aanval op Jesus. Maar soos die Jode verantwoordelik is vir hulle moordplanne, so is Judas self verantwoordelik vir sy besluit om Jesus te verraai. In 13:18-30 word hierop uitgebrei. Judas is die voorbeeld van die mens wat nie van harte in Jesus glo nie.            

 

13:3 Deurdat Jesus en die Vader alles saam bedink, want Hy en die Vader is een (Jn 10:30),  weet Jesus dat Hy na die Vader oorgaan. Dit word hier herhaal uit vers een, met twee betekenisvolle variasies: (i) Hy het van die Vader af gekom – met die Vader se opdrag en gesag, (ii):die Vader het alles in sy hande geplaas (Jn 3:35) – Hy het die gesag om God se soewereine wil in oordeel en verlossing te vervul (5:21-23), die oppermag wat deur die wêreld en die duiwel nie kan oorwin kan word nie. Hulle kan slegs daaronder buig, óf gewilliglik tot verlossing, óf deur te bly onder God se veroordeling (3:36). En wat doen Jesus in die wete van sy oppermag? Hy was die voete van die dissipels, ‘n nederige slawediens, maar ook ‘n simbool van sy selfoorgawe in die dood om sy eie mense te reinig vir die ewige lewe in gemeenskap met God. Sy mag is die mag van die liefde wat vir die wêreld aangebied word (Jn 3:16).

 

13:4-5 Op grond van Levitikus 25:39-46 het die rabbi’s geleer dat Joodse slawe nie so ‘n nederige werk soos voetewas mag doen nie, slegs ‘n slaaf uit ‘n ander volk (die Joodse rabbi’s het Gen.21:14 so verklaar dat Abraham vir Hagar ‘n skeibrief gegee het, haar bokleed uitgetrek het, en dit om haar heupe gebind het as teken dat sy ‘n slavin is). Die voete van gaste by ‘n eetmaal is destyds deur ‘n slaaf gewas, ‘n welkome bewys van gasvryheid aan mense wat te voet deur die stofpaaie en strate geloop het (Lk 7:44; vgl. egter 1 Sam 25:41). Nie een van die dissipels doen dit nie. Tydens die paasmaal redeneer hulle oor wie van hulle die belangrikste is (Lk 22:24-27). Die Seun van God was hulle voete as die lydende dienaar van die Here, wat die gestalte van ‘n dienskneg aangeneem het as voorbeeld vir elkeen wat Hom volg (Mt 20:28; Mk 10:45). Dit word uitgespel in  13:12-17 en  34-35.  Die voetewassing is ook ‘n teken en simbool van Jesus se nederige liefde tot die uiterste toe vir sy eie mense in die wêreld. Dit word verder verduidelik in 13:6-11 en 31-33. 

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...