Die volksmoord van die Amalekiete

Our best works before we are justified are little better than splendid sins. —J.C. Ryle

 

Die volksmoord van die Amalekiete

Gaan verslaan nou vir Amalek. Jy moet alles wat hy het, om die lewe bring. Jy mag jou oor Hom nie ontferm nie. Jy moet man en vrou doodmaak, kind en suigeling, bees en skaap, kameel en donkie (1 Samuel 15:3).

Die sogenaamde nuwe ateïste sê dat God gewelddadig, wreed en kleinlik is. Hulle is dan baie lief om hierdie vers te gebruik om hulle argument te ondersteun. Ook gelowiges sukkel met verse soos hierdie.

Hoekom het die Here hierdie opdrag deur Samuel aan Saul gestuur? Ek het nie vergeet wat  Amalek Israel aangedoen het nie, hoe hy Israel teengestaan het toe hulle uit Egipte getrek het. Beveel God hier volksmoord aan? Hoe beïnvloed dit ons verstaan van God as ‘n God van liefde?

 

Party mense beweer dit is ‘n onakkurate verslag van hierdie gebeurtenis. Ander sê dat hierdie Samuel se woorde en nie die van God was nie. Maar nou lees ons dat Saul nie Samuel se opdrag uitvoer nie – koning Agag en van die diere word nie doodgemaak nie. Die gevolg is dat God ontsteld is en Saul as koning verwerp.

 

God beveel ‘n volksmoord, maar tog is Hy goed en liefdevol. Hoe op aarde verklaar ons dit? Die standaard antwoord is dat ons hier met God se oppermag en die sonde van die Amalekiete te doen het. Natuurlik kan God beveel wat Hy wil; natuurlik verdien almal van ons dieselfde lot as die Amalekiete as gevolg van ons sonde.

 

Kom ons kyk na ‘n paar sleutelaspekte:

  • Wie was die Amalekiete? Hoekom was hulle so sleg? Hulle was die nakomelinge van Esau. Hulle staan dus buite die verbond wat God met Israel aangegaan het en wat God se mense gedefinieer het. Israel was nie ‘n bedreiging vir hulle nie. Op pad na die beloofde land  vra Israel toestemming om deur hulle land te trek: Ons sal nie deur die lande of wingerde trek nie en ons sal ook nie water uit die putte drink nie (Numeri 20:17). Die koning weier hulle versoek. Maar reeds voor hulle by Sinai aangekom het, kort na hulle uit Egipte weg is en baie kwesbaar was,  het die Amalekiete hulle aangeval. Die Israeliete het hulle verslaan. Daar sê die Here vir Moses: Skryf hierdie woorde op in ‘n boek as ‘n blywende herinnering en lees dit vir Josua voor: Ek wil die Amalekiete heeltemal van die aarde af verdelg. Moses het ‘n altaar gebou en dit genoem: “Die Here gee my die oorwinning.” Verder het Moses gesê: “Dit is die gedenkteken vir die oorwinning wat die Here gee. Die Here voer oorlog teen Amalek van geslag tot geslag.” (Eksodus 17:17 – 18). Die Amalekiete het Israel gereeld aangeval en hulle oeste  vernietig en hulle vee doodgemaak (Sien as voorbeeld Rigters 6:3 – 4). Haman, van wie ons in die boek Ester lees, was waarskynlik ook ‘n Amalekiet. Hulle, meer as enige ander nasie, het Israel probeer vernietig. Hierdie was ‘n konflik wat die Israeliete nie begin het nie en een wat nie deur onderhandeling besleg gaan word nie. Hierdie agtergrond verduidelik nie God se opdrag nie.
  • Die Amalekiete en die verlossingsgeskiedenis. Israel was God se uitverkore volk. Hulle was nie gekies sodat God hulle kon seën en al die ander nasies vervloek nie. God se belofte sluit onder andere in: In jou sal al die volke van die aarde geseën wees (Genesis 12:3). Met hulle teenstand teen Israel  verwerp hulle die manier waarop God hulle wou seën. God moet Israel beskerm, want Israel is die instrument wat Hy gebruik om al die volke van die aarde te seën.
  • Ons kan verstaan waarom God wil hê dat die Israeliete teen die Amalekiet moet veg, maar wat van die kinders. Die Amalekiete  was berug daarvoor dat hulle die vroue en kinders  van die nasies wat hulle verslaan het, doodgemaak het (1 Samuel 15:33). Dit is nie ‘n goeie antwoord nie. Ook die argument dat dit die manier is waarop oorlog gemaak is in die antieke Midde-Ooste is ook nie ‘n aanvaarbare verduideliking nie – God word tog nie beperk deur die moraliteit van  daardie tyd nie.‘n Beter antwoord kry ons in Eksodus 17:16: Die Here voer oorlog teen Amalek van geslag tot geslag. God het geweet dat die Amalekiete altyd Israel se vyande sou wees. God het die Amalekiete geken; Hy besef dat hulle alles in hulle vermoë sou doen om sy plan te dwarsboom. As hulle nie een en vir altyd verslaan word nie, sou hulle elke keer net terugkom.

 

Kon God nie maar genade aan hulle bewys het nie? Ons sien dat Saul  by die woonplek van die Amalekiete aangekom het. Hy val nie dadelik aan nie – hy stuur ‘n boodskap na die Keniete wat tussen die Amalekiete gewoon het om weg te trek. Hy wou hulle nie uitwis nie, want hulle het die Israeliete goed behandel (1 Samuel 15:5 – 6). Daar is niks wat verhoed het dat ‘n Amalekiet wat wou oorleef het, gesê het dat hy ‘n Keniet was nie. Hulle moes net hulle identiteit as Amalekiete ontken het. Maar hulle identiteit het onder ander daaruit bestaan dat hulle teen Israel en teen God se plan om die nasies te seën was.

 

Kom ons kyk na hierdie verhaal deur die lens van die kruis. God se belofte om al die nasies  te seën word in Jesus Christus vervul. Jesus is die Een na wie die nasies kom; in Jesus openbaar God Hom volkome. Die evangelies beskryf Jesus as die ware Israel. God stel Jesus aan as regter oor al die nasies. Soos die Amalekiete probeer elkeen van ons God se planne dwarsboom – ons wil nie deel van sy plan wees nie.

 

Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel, sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees (2 Korintiërs 5:21). Hy moes sterf sodat God die hele wêreld kon seën. Hy het dit vir ons wat Hom verwerp het, gedoen, sodat ons deel van God se mense kon word.