Die vreugde en vrede van die HERE se ewige verbond (55:1-13) – Francois Malan
In hierdie verse maak die digter-profeet ‘n skerp kontras tussen die ou lewe onder Babilon se gesag en die nuwe aanbod van lewe saam met die HERE.
55:1 Waarskynlik klink die vers soos ‘n straatverkoper wat sy ware adverteer. Aan verbygangers word gratis water, gratis wyn en gratis melk aangebied. Dit staan teenoor die Babiloniese ryk se duur, onbevredigende kos wat teensinnig aangebied was. Israel word uitgenooi om die Here se vrye alternatiewe voedsel te kies. Die tema van die gedig is die lewenswyse onder Babel wat tot die dood lei teenoor en die lewenswyse onder die Here wat ‘n vreugdevolle tuiskoms en lewe aanbied.
55:2 Die aanbod van die gratis voedsel van die Here se bevryding word vergelyk met die duur sogenaamde brood wat Babel aanbied, waarvoor Israel hulle afsloof sonder bevrediging, sonder enigiets van waarde as beloning. Daarteenoor roep die Here hulle om te luister na sy uitnodiging na gratis goeie ryk voedsel wat bevredig.
55:3 Die beeld van brood gaan oor in die beeld van die Here se ewige verbond. ‘Neig julle oor en kom na My toe, luister en julle siel/self sal lewe. Ek sal met julle die ewige verbond van my liefde vir Dawid sluit, ‘n betroubare reëling!’ Hierdie verbond word gratis aangebied sonder voorwaarde. Anders as Moses se verbond wat met die gehoorsaming van wette verbind is, is die Here se verbond met Dawid op die Here se onwankelbare liefde vir Dawid gegrond. Daardie verbond word nou aangebied aan almal wat wil luister en na die Here toe kom.
55:4-5 Die skaapwagtertjie vir wie Samuel as koning moes salf (1 Sam 16:11-13) moes later vlug vir sy lewe totdat hy as koning sy volk kon lei, hulle verenig, en van Israel ‘n getuie vir die Here onder die nasies gemaak het. So word Israel nou uit die ballingskap geroep om vir die nasies ‘n getuie van die Here se liefdesverbond te word, deur hulle wonderbaarlike uitredding en ‘n lewe wat in ere herstel is saam met die HERE, die altyd teenwoordige EK is, as die Heilige van Israel (aan Israel toegewy), want Hy het jou verheerlik – daarom sal die nasies na Israel toe hardloop om die Here te leer ken as hulle sien hoe Israel in vrede met mekaar lewe onder die seënende hand van die Here. Daarom is vers 1 se uitnodiging aan almal wat dors is, nie tot Israel beperk nie, maar word tot al die nasies gerig.
55:6 Die oproep tot Israel is oop vir enigiemand: ‘soek die Here terwyl Hy Hom laat vind; roep Hom aan terwyl Hy naby is.’ Kom met Hom tot ‘n vergelyk in sy liefdesverbond wat Hy aanbied, reageer op sy uitnodiging om na Hom toe te kom, vertrou op Hom vir ‘n ander soort toekoms. Die gratis aanbod van die Here is alles uit sy genade. Al wat Hy vra is dat die mens na Hom toe terugkom. Dit is die diepste doel en betekenis van die terugkeer uit die ballingskap.
55:7 ‘n Spesifieke groep het besondere aanmoediging nodig om Babel te verlaat. Hulle lewenswyse en hulle oortuigings staan in die pad van terugkeer na die Here en Jerusalem toe. Hulle het so diep in die kultuur van Babel ingesak dat hulle die Here se aankondigings en uitnodigings teenstaan. Die Here se aanbod bly egter staan. As hulle omdraai na die Here ons God toe en die nuwe soort lewe wat Hy aanbied, sal Hy hulle in liefde ontvang en sy vergiffenis nog groter maak om hulle in te sluit. Dié vers is ‘n klassieke uitdrukking van die Here se oop uitnodiging aan die mense wat volhard in hulle eie denke en lewenswyse weg van die Here af en weier om dit agter te laat.
55:8-9 Die Here se gedagtes en planne staan reg teenoor die mense van vers 7 se gedagtes en planne. Die Here se planne vir Israel se toekoms en roeping is nie ‘n weerklank van die mens se begeertes en planne nie, maar is onafhanklik van die mens se begeertes en gewoontes, van hoër orde as die mens s’n, met ‘n ewige hemelse doel (in 52:7 word dit uitgespel as die pad van vrede). Toe die Here Abraham geroep het om te gaan waarheen Hy hom sou lei (Gen 12:1; 800 km. vér na Kanaän toe), moes Abraham in geloof die Here se radikale belofte en oproep tot ‘n nuwe lewe onder die Here se leiding aanvaar, en sy ou lewe as maan-aanbidder prysgee.
55:10-11 Die krag van God word gesien in die reën en sneeu wat lewe, groei en ‘n toekoms bring op die aarde. Die reën en sneeu voed die aarde, die skepping word in stand gehou, en die voedselkring word onderhou. So is die woord van die Here se belofte en opdrag (40:8). Dit is nie leë woorde nie, maar ‘n krag in die lewe van mense en volke, en gee sekerheid. Vir Israel in ballingskap het dit ‘n nuwe toekoms en lewe gebring, teenoor die geld wat hulle afweeg vir dit wat geen brood is nie en nie kan versadig nie (55:2), teenoor diegene in Israel wat op hulle eie banale gedagtes en lewenswyse vertrou (55:8).
55:12-13 Die uitkoms vir Israel in ballingskap is ‘n vreugdevolle tuiskoms. Anders as die uittog uit Egipte is hierdie tweede uittog nie in vrees of haas nie, maar in vreugde en vrede (sjalom welwese en kalmte);’n triomftog van Jode op pad huis toe, met die Here vooraan wat juig oor sy volk se terugkoms agter Hom aan. Die liriese slot van die ballingskapsgedig beskrywe die tog asof dit reeds aan die gebeur is. Israel is op pad onder ‘n nuwe regeerder na ‘n wonderlike nuwe toekoms.
Die prosessie word hier voorgestel as ‘n sigbare kosmiese gebeure. In 40:5 is reeds verwag dat alle mense getuies sal wees van die wonderlike terugtog van Israel. Die digter sien alles en alle skepsels vergader langs die hoofweg, selfs heuwels en berge en bome kom kyk na die wonderlike gesig wat ‘n nuwe begin vir die hele skepping voorspel. Dit is ook ‘n bewys van ‘n beslissende neerlaag vir geweld, vernietiging en tirannie, wat die bosse kaal gestroop het en die skepping permanent beskadig het. Onder die Here se beskermende regering sal mens en dier en skepping veilig wees.
Dorings en distels in die wildernis (God se straf op die sonde van die mens, Gen 3:18; Jes 5:6; 7:23-25; 32:12-13) is nie meer nodig nie. In die plek van hierdie tekens van nietigheid en negatiwiteit kom nou tekens van groei en lewe en prag – sipresse en mirtebome as tekens van God se nuwe heerskappy waarin sy liefde regeer.
Skrywer: Prof Francois Malan