Die wegraping – Hermie van Zyl
Ek is nou al so deurmekaar! Die een sê die wegraping geskied vóór die verdrukking en die kerk gaan nie deur die verdrukking nie, ander sê weer die wegraping is in die middel van die verdrukking, en ander sê weer dis aan die einde van die verdrukking. Kan u my help hiermee met Bybelverse om dit te staaf asseblief?
Antwoord
Prof Hermie van Zyl antwoord:
Die vraagsteller gaan blykbaar van die veronderstelling uit dat die sogenaamde wegraping ’n voldonge feit is, ’n onteenseglike lering van die Nuwe Testament. Al waaroor sy net wonder, is presies wanneer dit sal plaasvind – vóór, tydens of ná die groot verdrukking. Daar word egter deur meer as een artikel op Bybelkennis.co.za breedvoerig verduidelik dat die wegraping alles behalwe ’n duidelike lering van die Nuwe Testament is; inteendeel, dit is eintlik ’n ondeurdagte interpretasie van ’n paar tekste wat op ’n fundamentalistiese en arbitrêre wyse saamgehark word om dan by ’n groter skema ingeskakel te word van presies hoe – ten minste volgens hierdie siening – die einde van die tyd “stap vir stap” sal verloop. Ek wil die vraagsteller dus uitnooi om hierdie artikels op Bybelkennis se webblad te lees ten einde ’n weldeurdagte en goed begronde teologiese siening te bekom oor sake soos die wegraping, die chiliasme, die groot verdrukking, die verskillende dispensasie-teorieë, die eindtyd, ens. Die mees uitvoerige artikel is dié van prof Adrio König, met die titel: http://www.bybelkennis.co.za/die-groot-geloofswoordeboek-die-eindtyd/. Dan is daar ook een deur myself geskryf, wat by http://www.bybelkennnis.co.za/eindtyd/ te vinde is. Daar is heelwat ander ook, sleutel net die soekwoord “eindtyd” in en ontdek hulle almal.
Aangesien die vraagsteller navraag doen oor watter tekste ter sprake is by ’n kwessie soos die verhouding tussen verdrukking en wegraping sal ek tog kortliks hierop ingaan. Ek wil dit egter aan die begin duidelik stel dat wat onder volg nie my eie standpunt is nie, maar dat ek dit slegs by wyse van ’n voorbeeld aanbied van hoe voorstanders van die wegraping redeneer.
Die vraagsteller is reg: Oor die presiese tydstip van die wegraping is daar ten minste drie sieninge wat deur wegraping-voorstanders gehuldig word: vóór, tydens en ná die groot verdrukking. (Bloot hierdie verskille dui al klaar daarop dat die wegraping-siening deur ernstige uitlegkundige probleme in die gesig gestaar word.) Nietemin, laat ek die voorstanders van die wegraping aan die woord stel om te illustreer hoe hulle Bybeltekste hanteer ten einde hulle standpunte te regverdig. Ek stel kortliks die drie sieninge aan die orde oor wanneer die wegraping in verhouding tot die groot verdrukking plaasvind.
Die pre-verdrukking standpunt
Hierdie standpunt sê dat die wegraping vóór die verdrukking plaasvind. Daar word byvoorbeeld na Openbaring gekyk en dan gesê dat die kerk reeds vóór die verdrukking wat in Op 6-19 beskryf word, weggeraap is. Hierdie siening word gegrond op Op 4:1 waar aan Johannes gesê word: “Kom op hierheen …”, wat dan na die wegraping sou verwys. Verder word daarop gewys dat die woord “kerk” nie in Op 4-19 voorkom nie (eers weer in Op 22:16), wat ook ’n aanduiding is daarvan dat die kerk (gelowiges) nie deel het aan die verdrukking wat in Op 6-19 beskryf word nie. Volgens hierdie standpunt is dit ondenkbaar dat Johannes wat detailopdragte aan die kerk gee in Op 1-3, in Op 4-19 heeltemal oor die kerk se bestaan op aarde sou swyg as daar nie ’n goeie rede daarvoor is nie. En die rede is dan dat die kerk weggeraap is voor die verdrukking.
(Op hierdie punt moet net die onderlinge debat tussen die wegraping-teoloë betrek word deur die standpunt van die post-verdrukking teoloë hieroor te noem. Volgens laasgenoemde teoloë is bogenoemde ’n foutiewe siening, aangesien gelowiges [die kerk] beslis in Op 6-19 genoem word en dus op aarde teenwoordig is tydens die groot verdrukking. Die woord “heiliges” (= gelowiges) kom dikwels voor, ook in uitdrukkings waar die heiliges opgeroep word om te volhard (13:10; 14:12), wat ’n duidelike aanduiding is dat gelowiges deel is van die verdrukking. En in elk geval, sê die post-verdrukking teoloë, het Op 4:1 niks met die wegraping te doen nie, maar met die visioen wat Johannes in die hemelse troonsaal gesien het.)
Tweedens, die kerk word nêrens elders in die Nuwe Testament voorberei vir ’n groot verdrukking soos in Op 6-19 beskryf word nie. Ja, vir die gewone lewensprobleme en die regte etiese optrede in hierdie situasies is daar oorvloedige opdragte, maar niks wat vir die situasie van Op 6-19 voorberei nie. Hoekom nie? Omdat die kerk nie sulke voorbereiding nodig het nie; hulle is dan reeds deur die wegraping verwyder van die aarde.
1 Tess 4:13-18 (die klassieke teks vir die wegraping) is net verstaanbaar in terme van ’n pre-verdrukking interpretasie. (Let op hoedat dit presies die teenoorgestelde is van wat die post-verdrukking standpunt sê, waarby ons later kom.) Want indien die kerk deel sou hê aan die groot verdrukking, sê die pre-verdrukking standpunt, sou mens hier opdragte en voorskrifte verwag het wat leiding gee aan die kerk met die oog op so ’n ekstreme tyd van toetsing wat voorlê. Maar niks hiervan kom voor nie, gewoon omdat Paulus geweet het dat die kerk nie deel van hierdie verdrukking sou wees nie.
Daar is ’n noue verband tussen Joh 14:1-3 en 1 Tess 4:13-18. Dit is net logies dat eersgenoemde ook van die wegraping praat, aangesien hier sprake is van ’n tyd saam met Jesus in sy hemelse wonings, soos waarvan 1 Tess 4:13-18 ook praat. En om van ’n sinvolle periode van lewe saam met Jesus in die hemel te praat, moet die wegraping voor die verdrukking plaasvind. Indien dit eers na die verdrukking gebeur, is daar nie genoeg tyd oor voor die finale koms van die Here om hierdie verblyf in die wonings wat die Here in die hemel gereed gemaak het, sinvol te benut nie.
Mid-verdrukking standpunt
Voorstanders van die mid-verdrukking standpunt is van oordeel dat die kerk net die eerste helfte van die groot verdrukking sal deurmaak. In die middel daarvan, d w s, drie en ’n half jaar na die aanvang van die verdrukking, sal die wegraping plaasvind. Die kerk word dus die ergste van die verdrukking gespaar. Hoe kom hulle daarby uit?
Hulle gaan uit van die kronologie wat volgens hulle deur 2 Tess 2:1-3 verskaf word. Hiervolgens verloop die eindgebeure soos volg: 1. die laaste afvalligheid, 2. die verskyning van die wettelose mens / die Antichris, en 3. die aanbreek van die dag van die Here. Die Antichris sal egter nie verskyn voordat “die ding wat ’n gruwel is vir God en wat verwoesting aanrig” (Matt 24:15) opgerig is nie. Die “gruwel” is ontleen aan Dan 9:27, en verwys na die afskaffing van die offers in die tempel en die oprigting van ’n ding van gruwel op die een hoek van die tempel. Dit gebeur “teen die helfte van die tydperk”. Om laasgenoemde te verstaan, moet Daniël se kronologie van sewentig tydperke wat elk uit sewe jaar bestaan (Dan 9:24), in gedagte gehou word. Die laaste sewe jaar van hierdie sewentig tydperke is dan die tyd van die groot verdrukking. Verder, die gedagte van “teen die helfte van die tydperk” van Dan 9:27 moet op sy beurt in verband gebring word met Dan 7:25, waarvolgens die heiliges verdruk sal word vir ’n “vasgestelde tyd”. In die 1933/53 Afrikaanse Vertaling lui dit: “’n tyd en tye en die helfte van ’n tyd”, wat as drie en ’n half jaar geïnterpreteer kan word. Dus, “teen die helfte van die tydperk” van Dan 9: 27 is dan drie en ’n half jaar nadat die verdrukking van sewe jaar begin het; die verdrukking van die gelowiges kom dan tot ’n einde. Die punt is: die heiliges (= die gelowiges, die kerk) sal slegs deel hê aan die eerste helfte van hierdie tyd van sewe jaar verdrukking, dan word hulle verlos. Volgens die mid-verdrukking standpunt gebeur dié verlossing op die dag van die Here (2 Tess 2:3), wat as die wegraping vertolk word.
Hulle sê verder dat die wegraping ook in Op 11:15 beskryf word, wat dan die laaste drie en ’n half jaar van die groot verdrukking inlui. Die trompet van Op 11:15 word gesien as gelyk aan die blaas van die laaste trompet in 1 Kor 15:51-52, wanneer dié wat nog lewe in ’n oogwink verander sal word (die wegraping). Verder, die mid-verdrukking standpunt betrek ook 1 Tess 5:9 waar staan dat die gelowiges nie gestraf sal word nie, maar verlos sal word. “Verlos” word dan geneem as die wegraping, en die “nie gestraf” as aanduiding dat die gelowiges nie die laaste deel van die verdrukking sal ervaar nie.
Dit is dus duidelik dat die mid-verdrukking teoloë ’n eie manier van teksinterpretasie gebruik om by die standpunt uit te kom dat die wegraping in die middel van die groot verdrukking sal plaasvind.
Post-verdrukking standpunt
Volgens hierdie standpunt sal die wegraping eers ná die groot verdrukking plaasvind. Die groot verdrukking word gewoonlik gesien as die gebeure wat in Matt 24:9 genoem word. Die Griekse woord wat hier met “mishandel” vertaal word, is na regte “verdrukking” (thlipsis). En dit kom vóór die gebeure van v10-14 waar sprake is van gelowiges wat afvallig sal word en die liefde wat sal verkoel. Volgens hierdie verse het die wegraping van gelowiges dus duidelik nog nie plaasgevind nie. Ook nie wanneer in v21 van die “groot verdrukking” gepraat word nie, wat blykbaar oor die hele wêreld sal kom. En dan word in v22 gesê dat God hierdie tyd sal verkort ter wille van die uitverkorenes. Die gelowiges is dus duidelik nog op aarde, hulle is nog nie weggeraap wanneer die groot verdrukking aanbreek nie. Dis eers ná die verdrukking dat die son sal verduister, die maan sy glans sal verloor, die sterre uit die hemel sal val en die Seun van die Mens op die wolke sal verskyn (v29-30). Laasgenoemde slaan dan op die koms van Christus met die oog op die wegraping, want in v40-41 word genoem dat sommige aanvaar (= weggeraap) sal word terwyl ander sal agterbly op die aarde. Die redenasie is dus: éérs die verdrukking, dan die wegraping.
Op sy beurt word Matt 24 gekoppel met 1 Tess 4:13-18, wat, soos reeds genoem, die klassieke teks vir die wegraping-standpunt is. Hier word gepraat van die ontslape gelowiges wat eerste sal opstaan, en dan dié wat nog op aarde lewe, en dan sal beide groepe gelowiges saam weggevoer word om die Here in die lug te ontmoet. Dit is veral die woord “weggevoer” (Grieks: harpadzō) in v17 wat die verbeelding van wegraping-teoloë aangryp. Daar staan letterlik dat hulle “opgeraap” of “weggeraap” sal word (Engels: snatched up). Wegraping-teoloë gee toe dat daar in hierdie verse niks van die verhouding tussen verdrukking en wegraping gepraat word nie. Maar dan word gesê dat die implikasie in 1 Tess 4 is dat daar geen verdrukking ná die wegraping is nie. Daar staan nie in v17 dat gelowiges ná die wegraping, van die komende verdrukking gevrywaar sal word nie, maar wel dat hulle by die Here sal wees. Verder, in 1 Tess 3:2-4 sê Paulus dat hy vir Timoteus na die Tessalonisense gestuur het om hulle te bemoedig sodat hulle nie onder die vervolginge sou begin wankel nie. Die Griekse woord wat hier met “vervolginge” vertaal word, is thlipsis, dieselfde woord wat in Matt 24 met “verdrukking” vertaal word. En aangesien hoofstuk 3 (vervolginge) vóór hoofstuk 4 (wegraping) kom, is dit duidelik dat die wegraping eers ná die verdrukking plaasvind.
Nog ’n plek waar die uitdrukking “groot verdrukking” voorkom, is Op 7:14. Hier word vertel van die groot menigte (v9) met wit klere aan wat uit die groot verdrukking kom en hulle klere gewas en wit gemaak het in die bloed van die Lam. Die post-verdrukking wegraping-teoloë verklaar dit so dat “uit die verdrukking” nie beteken dat hulle nie deel gehad het aan die verdrukking nie, maar eerder dat hulle dit deurgemaak en oorleef het. Hulle is die 144 000 wat gemerk is met God se seël (7:3). Hulle het dus nie aan die verdrukking ontsnap nie, maar hulle is verseël deur God vir beskerming terwyl hulle dit beleef het. Verder, al hierdie dinge gebeur vóór die wederkoms van Christus wat in Op 19 beskryf word. Die punt is: die wegraping vind eers ná die verdrukking plaas.
Slotsom
Uit bostaande oorsig is dit duidelik dat wegraping-teoloë op verskillende maniere met die Nuwe Testament omgaan om hulle standpunte te regverdig. Dit bevredig nie omdat (a) die wegraping in tekste ingelees word waarvoor daar geen noodsaak is nie; daar word met ’n vooropgesette idee gewerk (die wegraping) wat as sleutel gebruik word om tekste teen hulle natuurlike betekenis in te “ontsluit”; (b) daar is weinig pogings om die Bybeltekste vanuit hulle historiese en literêre kontekste te verstaan. Tekste word op ’n fundamentalistiese en lukraak manier met mekaar in verband gebring waarvoor daar geen noodsaak of regverdiging is nie. Persoonlik kan ek dus nie die wegraping-standpunt ondersteun nie. Volledige beredenering hiervan kan gevind word in die artikels waarna in die begin verwys is.
Skrywer: Prof Hermie van Zyl