Die wêreld sal hulle haat (vervolg)
Die wêreld sal hulle haat (vervolg) – Francois Malan
16:1 Jesus se doel met die bekendmaking van ‘hierdie dinge’ in 15:18-27 is dat hulle nie sal ophou om te glo wat die waarheid is, en verlei word om wat vals is te glo nie (verlei – die letterlike betekenis van skandalizomai is om in ‘n wip gevang te word, of om te laat struikel oor ‘n struikelblok, vgl. Mark.14:27; 6:61). Die Heilige Gees word juis aan hulle gegee om te volhard in die geloof in Jesus.
16:2 Vervolging en lyding is deel van die lewe wat Jesus vir sy volgelinge voorhou, veral van die kant van die Jode, in die eerste tydperk van die kerk. Die Jode het reeds vroeër besluit dat as iemand openlik verklaar dat Jesus die Christus is, hy uit die sinagoge geban sal word (Joh.9:22,34). Soos Jesus se uur van lyding en dood gekom het (12:27; 31:31), so sal die dissipels se uur ook kom dat elkeen wat hulle doodmaak sal dink dat hy ‘n diens (latreia is ‘n godsdienstige seremonie/ritus) aan God aanbied (prosferoo – soos ‘n offerande aanbied om God se eer te herstel). So is Stefanus later deur die Jode gestenig terwyl hy Jesus aanbid (Hand.7:55-58), en is Paulus vir dood uit Listre gesleep (Hand.14:19). Die Jode het Jesus skuldig gevind aan godslastering (Mat.26:66) en daarom moes Hy dood volgens die bevele wat die Here aan Moses gegee het (Lev.24:14-16,23; die Hebreeuse woord vir lastering qilleel beteken om iemand sy krag te ontneem. In die Midde-Ooste is geglo dat jy iemand met ‘n magiese formule deurboor en kragteloos kan maak). Soos Jesus gely het, sal sy volgelinge ook ly en vervolg word (Hand.6:11-14 blasfemia vir die Jode van die Bybelse tye was lastering van God beskou as iets wat die wese van God beskadig/wond). Daarom beskou hulle die doodmaak van ‘n volgeling van Jesus as ‘n offer wat die skade herstel/daarvoor vergoed, God se eer herstel.
16:3 Soos die wêreld in 15:21 God nie in Jesus wil herken nie, het die ongelowige Jode hulle hart en verstand gesluit vir die Vader en die Seun, wat deur Jesus aan hulle geopenbaar is. Daarom staan hulle skuldig voor God. As gevolg van hulle valse godsbegrip vervolg hulle ook Jesus se volgelinge fanaties, en dink hulle dat hulle God op die wyse dien.
16:4 Jesus berei hulle voor vir hulle uur/tyd van verwerping en vervolging deur die wêreld en veral deur hulle mede-Jode. En as dit gebeur en hulle onthou dat Jesus dit gesê het, sal hulle nog sekerder wees van Jesus se goddelike kennis van die toekoms, sterker in die geloof staan en geestelik weerbaar wees om die aanvalle te weerstaan, en nie afvallig te word nie.
Jesus vertrek om sy werk deur die Heilige Gees voort te sit (16:4b-7)
16:4b ‘Hierdie dinge’ verwys na 16:1,4a en die vervolging wat vir die dissipels voorlê nadat Jesus weg is. Daarmee lei Jesus die aankondiging in dat Hy weggaan.
16:5 Die stelling van Jesus, dat nie een van hulle vra waarheen Hy gaan nie, is vreemd, ná die vrae van Petrus (13:36) en Tomas (14:5) in die eerste afskeidsgesprek (hoofstukke 13-14). Die tweede afskeidsgesprek (hoofstukke 15-16) was waarskynlik eers ‘n afsonderlike stuk wat hier ingevoeg is. Die situasie is ook ‘n bietjie anders as in hoofstukke 13-14, want Jesus sê ‘Nou gaan Ek na Hom toe wat My gestuur het’ – die tyd vir sy vertrek na die Vader het aangebreek. Die punt van 16:5 is egter dat die dissipels so ontsteld is oor hulle verlies as Jesus weggaan (meer as oor die lyding wat vir hulle voorlê), dat hulle nie dink aan sy heerlikheid by die Vader en wat Hy in die Vaderhuis vir hulle gaan doen nie (14:2,28).
16:6 Al is sy weggaan daarop gerig dat hulle blydskap volkome kan word deurdat Hy die Vader se opdragte uitvoer in die liefde van die Vader vir die wêreld (15:11), is hulle harte vervul met droefheid, die droefheid van afskeid en dat hulle alleen agter gelaat word sonder Jesus. As hulle sou dink aan wat Jesus by die Vader vir hulle gaan doen, sou hulle hartseer en twyfel tot ruste gekom het.
16:7 Voordat Jesus die volle verlossing van ons sonde bewerk het en die saligheid dat ons verhouding tot God reggestel is deur sy kruisdood en opstanding, kan die Heilige Gees dit nog nie kom toepas in die lewe van elkeen wat Hy tot geloof in Jesus sal lei nie. Die Heilige Gees moet ons juis kom oortuig van die betekenis van Jesus se dood en opstanding. Die Gees van die Lewe bring die vernuwing van die mens en die skepping, deur die reddende heerskappy van God se liefde toe te pas, wat deur die Middelaar van die verlossing, Seun van God en Seun van die mens, bewerk is. Die Vader gee die Gees (14:16), soos die Vader die Seun gegee het (3:16), en die Seun stuur die Gees (16:7; 15:26), wat van die Vader af uitgaan (15:26). So is die Vader en die Seun en die Gees betrokke by die goddelike sending in die wêreld. Daarom is Jesus se weggaan vir die wêreld en veral vir sy volgelinge ‘tot hulle voordeel’ (Kajafas het ook vir die Jode die raad gegee dat dit ‘tot hulle voordeel’ is dat een man vir die volk sterwe, Joh.18:14).
Skrywer: Prof Francois Malan