DIE WÊRELD SAL NOOIT WEER DIESELFDE WEES NIE – Waarom was Kersfees vir die vroeë Christene nie so belangrik as wat dit vir ons is nie? – Jan van der Watt

Ons weet ook dat die vroeë Christene nie kersfees (met ander woorde, die geboorte van Jesus) gevier het nie. Dit het eers baie later (hier in die vierde eeu) gebruik geword.

Waarom was Kersfees vir die vroeë Christene nie so belangrik as wat dit vir ons is nie?

  1. In die antieke tyd (die tyd van Jesus) het mense nie die datums van geboortes aangeteken nie. Hulle het in die eerste plek nie behoorlike kalenders gehad nie. (Daarom weet ons nie presies wanneer Jesus gebore is nie – hy is beslis nie op 25 Desember gebore nie; ons vier maar net sy geboorte dan). In die tweede plek het mense nie verjaardae gevier nie en in die derde plek het hulle nie geweet of die baba belangrik gaan wees of nie – waarom dan sy geboortedag onthou as jy nie weet of dit belangrik gaan wees of nie.
  2. Die lewe en veral die dood van iemand was eerder belangrik. Hoe jy gesterf het, het eintlik alles gesê van hoe dapper en belangrik jy was. Die sterfdae van belangrike persone is dus onthou. (Ons weet Jesus is gedurende die paasfees dood). Mense het dus baie meer in die sterfdag as in die geboortedag ingelees. Dit was so met die meeste van die belangrike persone in daardie tyd.
  3. As die geboorteverhaal van so belangrike persoon dan geskryf is, is dit altyd in die lig van sy latere lewe geskryf. Jy sal nooit in so verhaal ‘n pap babatjie kry wat met rooi wangetjies met sy beentjies in die lug skop nie. Nee, in die geboorteverhale lê die merke van die persoon se latere lewe reeds baie duidelik, of so is die verhale geskryf. Die rede was omdat die vertellers wou beklemtoon dat die persoon wat gesterf het dieselfde is as die kind wat gebore is – toe hy gebore is, het hy reeds hierdie karaktertrekke gehad.
  • Dink na oor dit wat jy van die geboorteverhale weet in die lig van bogenoemde gegewens. Lees Matteus 1:18-2:23 en kyk of jy “tekens van Jesus se latere lewe” in die verhaal kry.

………………………………………………………………………………………………………………………………..

………………………………………………………………………………………………………………………………..

1.2) ‘n Storie begin soos ‘n telefoonboek??

Lees Matt 1:1-17 (of sover dit vir jou interessant bly). Matteus skryf die belangrikste verhaal in sy lewe, maar hy begin dit soos ‘n telefoongids. Dit is nou nie die manier waarop jy mense gaan aanmoedig om opgewonde verder te lees nie… of is dit? Wel, dit is, as jy weet hoe om dit te lees en wat Matteus daarmee wou sê.

  • Skryf die dinge wat vir jou die opvallendste is in hierdie genealogie (soos die geslagsregister ook genoem word) neer.

………………………………………………………………………………………………………………………………..

………………………………………………………………………………………………………………………………..

Geslagsregisters was vir die antieke mense baie belangrik. Waarom? Omdat hulle geglo het dat die bloed wat in jou are vloei jou karakter direk bepaal. Jy word met sekere eienskappe gebore. As jy dus weet uit watter “bloedlyn” of geslag iemand gebore is, sal jy sommer ook baie weet oor sy persoonlikheid en wat jy van hom of haar kan verwag. Deur Jesus se geslagte op te noem, gee vir die leser ‘n aanduiding wat van Jesus verwag kan word. Wie is Hy? Lees die geslagsregister en jy sal ‘n groot deel van die antwoord kry.

  • Kyk nou weer vinnig na jou antwoorde op die vorige vraag en skryf vir jouself neer wat jy uit die geslagsregister van Jesus oor Hom as persoon kan leer.

……………………………………………………………………………………………………………………………….

……………………………………………………………………………………………………………………………….

Kom ons kyk na ‘n paar lesse wat ons uit die geslagsregister van Jesus oor Hom kan leer:

 

Lesse oor die geslagsregister van Jesus

Voorkoms in Matt

Ou Testament verwysings

Betekenis

1:1 – Die geslagsregister van Jesus Christus, die Seun van Dawid, die seun van Abraham:

Abraham – baie plekke: lees Gen 15:6; 17:7.

Dawid – baie plekke: lees 1 Sam 13:14.

Abraham, die vriend van God genoem, is die een wat God uitgekies het as die beginpunt van sy volk en met wie Hy ‘n verbond gesluit het.

Dawid, die man na God se hart, is die beste koning van die volk.

1:17 – Altesaam was daar dus veertien geslagte van Abraham af tot by Dawid, veertien van Dawid af tot by die Babiloniese ballingskap en veertien van die Babiloniese ballingskap af tot by Christus

 

Veertien… veetien… veertien. As ons presies gaan tel is dit nie presies reg nie, maar dit is nie die punt nie. Die punt is dat alles ordelik verloop het tot by Jesus se geboorte. God se plan word presies uitgevoer, want Hy is in beheer.

Veral die vrouename in die geslagsregister is merkwaardig:

1:3 Serag by Tamar

Lees Tamar se verhaal in Gen 38

Tamar, skoondogter van Juda (wat die geslag van Abraham moes voortsit en seker maak die beloftes van ‘n groot nageslag wat God aan Abraham gemaak het, gaan realiseer) het nie ‘n kind by Juda se seun gehad nie. Toe sy sien dat daar kanse is dat die geslagslyn gaan doodloop het sy haar as prostituut opgemaak en by Juda, haar skoonpa geslaap. So is ‘n kind verwek wat gesorg het dat die geslagslyn aanloop. Sy het nie aan haarself gedink nie en haarself verneder ter wille van die saak van God. Klink dit na Jesus?

1:5 Boas by Ragab

Lees Ragab se verhaal in Jos 2 en 6

Ragab het die ware God geglo en was hom gehoorsaam, soveel so dat sy haar eie lewe gewaag deur die verkenners van Israel te help. Sy het God eerste gestel, bo haarself.

1:5 Obed by Rut

Lees Rut se verhaal in die boek Rut

Rut het alles gelos wat sy gehad het en saam met Orpa, haar skoonma, na ‘n vreemde land gegaan. Haar opoffering en toewyding staan voorop.

1:16 Jakob was die vader van Josef, die man van Maria uit wie gebore is Jesus wat Christus genoem word.

 

Josef word ook in die geslagsregister opgeneem, nie as fisiese vader nie (kyk mooi hoe word dit gestel), maar as regtelike vader (deur adopsie). Mense kon dus destyds kinders as hulle eie erken sonder dat die kind spesifiek uit die pa gebore is. “Op die boeke” sou Josef se naam dus verskyn as sy regtelike pa (hoewel nie fisiese nie).

Wat kan ons dus hieruit leer?

Dit gaan oor die vraag wie Jesus is. Dit is eintlik wonderlik hoe die geslagsregister vir ons ‘n prentjie van Jesus teken. Hy staan in die lyn van die grootste koning van Israel, Dawid (so Hy self is koning), van die een waar alles begin het en aan wie God trou gesweer het, naamlik Abraham. Hy is waarlik mens, wat sonde verstaan, soos Tamar en Ragab bewys, maar wat tog aan God getrou sal bly, al gebeur wat. Miskien kan jy nog hierop uitbrei.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt