Die wet se relevansie vir vandag – Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

Janus vra:

Help my asb met die volgende vraag wat ‘n baie goeie vriend vir my vra: “Beteken die nuwe verbond dat die gebooie van Eksodus 20 en Deuteronomium 5, en nog ander, afgeskaf is?”

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die kort antwoord op die vraag hierbo is “nee”; die nuwe verbond beteken hoegenaamd nie dat die Tien Gebooie afgeskaf is nie. Inteendeel. Maar kom ek brei hierop uit.

Die rede hoekom baie Christene dink dat die Tien Gebooie nie meer geld vir hulle wat deel het aan die nuwe verbond in Christus nie, is ‘n verkeerde verstaan van Paulus. Soos ons weet het Paulus gesê dat die wet jou nie kan red nie, slegs geloof in Christus. God spreek ons vry van ons sonde, nie omdat ons so getrou die wet onderhou nie, maar slegs omdat ons in Christus glo. “Glo” beteken dat ons nie op ons eie vermoë staatmaak om ons verhouding met God reg te stel nie, maar dat ons slegs op Christus vertrou (vgl Rom 1:17; 3:20-26). Hy is die enigste Een wat ons in ‘n nuwe verhouding met God kan stel. Nie net was Hy sonder sonde nie (Heb 4:15; 7:26-28), maar Hy het ook ons sonde op Hom geneem en in ons plek die straf op ons sonde gedra. Daarom kan ons vry uitgaan; ons word vrygespreek van God se oordeel oor die sonde, en ons leef in ‘n nuwe verhouding met God, ook die nuwe verbond genoem.

Dit was egter nooit Paulus se bedoeling om te sê dat die wet – die Tien Gebooie – en al die goeie dade wat daaruit voortvloei, nie meer geld nie en dat ons nou maar kan leef soos ons wil. Daar was reeds mense in Paulus se tyd wat hierdie absurde idee gehad het dat ons nou maar kan voortsondig, want God vergewe mos ons sonde; hoe meer ons sondig, hoe groter is God se genade oor ons (Rom 6:1). Maar dan wy Paulus ‘n hele hoofstuk daaraan om hierdie onsinnige gedagte die nek in te slaan. Om in Christus te glo, sê hy, beteken dat jy in sy dood gedoop is. Jy is dus dood vir die sonde. Meer nog, jy het ook saam met Hom opgestaan uit die dood; jy is dus lewend vir God, jy is nou in staat om nie meer in die sonde voort te ploeter nie, maar ‘n nuwe lewe deur die krag van die Gees van God te leef. (Lees gerus die hele Romeine 6 om self te beleef hoe Paulus hierdie gedagte uitwerk.)

Maar, sou iemand kon vra, wat het die wet – die Tien Gebooie – met die nuwe lewe in Christus te doen? Is hierdie nuwe lewe dan nie iets wat deur die Heilige Gees in jou geskep word, met die gevolg dat jy nie meer die Tien Gebooie nodig het nie? Nee, Paulus het niks teen die wet nie. Inteendeel, die wet is heilig en goed en reg, sê hy (Rom 7:12); dit was en is steeds die uitdrukking van God se wil vir ‘n goeie, regte en God welgevallige lewe. Trouens, wanneer hy in Romeine 6 die nuwe lewe in Christus uitspel, dan is dit deurspek met die begrip “geregtigheid”, wat vanuit die Ou Testament verstaan moet word en beteken dat iemand volgens die wil van God, soos uitgedruk in die Tien Gebooie, sal lewe (vgl Rom 6:13,16,18-20; kyk 1933/53-Afrikaanse Vertaling; en Nuwe Testament en Psalms: ‘n Direkte vertaling [2014]). Verder verwys Paulus dikwels na die goeie werke/dade wat ons moet doen, soos in Efesiërs 2:10 (vgl ook Rom 13:3; 2 Kor 9:8; 2 Tess 2:17). Dit is moeilik om te dink dat Paulus iets anders in gedagte gehad het as die goeie werke wat voortvloei uit die Tien Gebooie. Wanneer Paulus ook sy etiese voorskrifte gee van hoe mense moet lewe om God te behaag, dan kom dit op niks anders neer nie as ‘n uitleg en toepassing van die Tien Gebooie in mense se lewe (bv 1 Tess 4:1-12). Dis verder interessant dat Paulus die vrug van die Gees in Galasiërs 5:22 in verband bring met die wet as hy sê dat hierdie vrug nie teen die wet is nie; met ander woorde, dit is uitdrukking van die wet/wil van God.

Kyk ons ‘n bietjie wyer na die Nuwe Testament is dit bekend dat in ‘n boek soos die Brief van Jakobus goeie dade of wetswerke ‘n baie sterk rol speel, in so ‘n mate dat Jakobus sê ‘n mens nie deur die geloof alleen regverdig verklaar word nie, maar deur dade (Jak 2:24). Hiermee is Jakobus nie in stryd met Paulus nie, maar wys hy ‘n bepaalde soort geloof af, naamlik ‘n geloof wat nie die bewys lewer dat dit ware geloof is nie. Geloof sonder goeie dade is nie regtig geloof nie en kan jou dus nie red nie, sê Jakobus. Geloof in Christus impliseer altyd die goeie dade wat daarmee gepaard gaan. En met goeie dade word natuurlik die wet van God bedoel.

Waarom Paulus so geweldig klem gelê het op die geloof alleen wat red, was omdat die gehoor met wie hy te doen gehad het sy Joodse volksgenote was wat van die wet en goeie werke ‘n sisteem van prestasie gemaak het om jouself vlekkeloos vir God aan te bied (m a w jy bewerk self jou saligheid), en te maak asof jy beter is as ander mense wat nie by jou standaarde kan kom nie. Nee, het hy gesê, die wet is nie in staat om jou te red nie, vanweë die erns van ons sonde (Rom 7:13-16). Ons kan slegs in die regte verhouding met God kom as ons Hom volledig vertrou, dat Hy genadig is en sonde vergewe. En dit het Hy gedoen in Christus. Maar dan, hierdie vertroue of geloof moet goeie dade tot gevolg hê; dit was vir Paulus so vanselfsprekend dat hy nie eens altyd die moeite gedoen het om dit uit te spel nie. ‘n Brief soos Jakobus het dit egter wel uitgespel.

En so het die Christelike kerk deur die eeue altyd die permanente waarde van die wet onderskryf en gehandhaaf. Die genade van God, en geloof in Christus, maak nie die wet oorbodig nie, maar bring dit weer terug as ‘n weg van lewe, ‘n manier om te wys dat jy dankbaar is vir jou verlossing. Want einde ten laaste is daar gaan ander manier waarop ons kan demonstreer dat ons deel is van God se verlossing nie. Die wet is immers die grondwet van die lewe; so het God dit van die begin af bedoel. Daarom het Christelike teoloë drie gebruike van die wet geïdentifiseer. Eerstens leer ons daaruit ons sonde ken. Ons sal nie weet wat sonde is as die wet dit nie vir ons uitspel nie (“jy moet …; jy mag nie …”). En so funksioneer die wet indirek ook as ‘n wegwyser na Christus toe (vgl Gal 3:24). As ons in die wet ontdek wat en hoe groot ons sonde is, lei dit ons na Christus toe waar ons verlossing kan vind. Maar tweedens, wanneer ons die verlossing in Christus aanvaar het, ontdek ons dieselfde wet weer as uitdrukking van God se wil vir ‘n goeie lewe, en aanvaar ons die Tien Gebooie as God se huisreëls, as ‘n manier om ons dankbaarheid vir ons verlossing uit te druk. Die wet is die goeie dade waarvan Paulus praat, die dade wat God vir ons voorberei het waardeur ons Hom kan behaag, die vrug van die Gees. En derdens is die wet ook die grondslag vir ‘n goed funksionerende samelewing, maak nie saak of dit Christelik is of nie. ‘n Samelewing of staat wat nie die beginsels van die Tien Gebooie handhaaf nie, sal gou in chaos en anargie verval. Die Tien Gebooie is immers ‘n universele wet wat nie net vir Christene geld nie, maar algemene beginsels bevat vir sinvolle bestaan en voortbestaan, ongeag die spesifieke geloofsoortuigings van ‘n gemeenskap.

Bogenoemde uiteensetting het spesifiek oor die Tien Gebooie gehandel. Natuurlik is daar afgeleide verordeninge, bepalings en seremoniële wette in die Ou Testament wat spesifiek vir die destydse Joodse samelewing gegeld het wat ons nie meer vandag handhaaf nie. Hierdie wette geld nie meer vir die Christene van die nuwe verbond nie (bv oor die besnydenis, die inrigting van die tempel, die offerandes, ens).

Skrywer: Prof Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

You may also like...