DIE WIL VAN GOD VIR DIE WÊRELD EN VIR JOU Hoofstuk 1 (5) – Dionne Craffort

God se openbaring deur die profete.

Moses kan beskou word as die eerster van die Ou Testamentiese profete deur wie God sy wil duidelik aan Israel bekendgemaak het.Na hom kom ‘n lang ry van profete wat uitverkore werktuie was om God se openbaring bekend te maak.Hulle was besondere knegte van die Here wat sy woord ontvang het en aan hulle volksgenote oorgedra het. Daar was ook valse profete wat hulle eie woorde as woorde van God aangebied het. Die ware profete was bewus van ‘n regstreekse inwerking van God , van ‘n inspraak wat hulle herken het as ‘n boodskap van God.. Die profeet kon van sy opdrag om die woord van God bekend te maak nie loskom nie, want dit het soos ‘n vuur in hom gebrand [Jer. 20:9 ]. Dit het alles te doen gehad met die inwerking vam die Gees van God soos blyk uit Sag.7:12 en Jes. 59:21. Met die valse profete was dit anders. Hulle het woorde gespreek wat nie die gevolg was van God se inspraak deur sy Gees nie [Jer. 14:14v.]. Die ware profete was gedring om God se woord te spreek. ” Die Here God doen niks as Hy nie sy besluit bekend gemaak het aan sy dienaars die profete nie………. Die Here God het gepraat, wie sal nie as profeet optree nie”.[Amos 3:7-8]. Ook priesters kon soos profete as boodskappers van God optree  [Mal. 2:7].

   Die profete bestraf die volk wanneer hulle afwyk van die wet van Moses, roep hulle op tot berou en bekering en kondig God se oordeel aan as hulle sou volhard in ongehoorsaamheid. Jeremia sê : “Ek sal alles wat die Here aan julle wil sê, aan julle oordra. Ek sal niks vir julle wegsteek nie” [Jer. 42:4].

   Die hele  Ou Testament gaan uit van die veronderstelling dat God Hom nie onbetuig gelaat het aan sy volk nie. Hy maak aan hulle bekend die pad waarop hulle moet wandel; Hy vra hulle om trou te bewys en om gehoorsaam en bedagsaam te lewe voor God [Miga 6:8]. Su woord is volmaak en gee lewe en wysheid [Ps. 19:8-10].

   By die latere profete kom twee belangrike elemente in die openbaring by. Die eerste is dat God se heilswil nie net aan Israel geopenbaar is nie,maar dat dit ook aan die nasies bekend gemaak moet word. Die tweede is dat God se teenwoordigheid en sy verlossende werking op ‘n besondere wyse gekoppel word aan die koms van die Messias wat ‘n uitverkore Kneg van die Here sou wees.

 

 Reeds in die Psalms kry ons telkens  die gedagte dat God se heilsdade deur die toedoen  van Israel  moes bekend word aan die nasies. In Ps 98:2 lees ons:: “Die Here het sy oorwinning  bekend gemaak, aan die nasies het Hy sy reddingsdade geopenbaar.

Aan die huis van Israel het Hy sy liefde en sy trou herbevestig; die hele wêreld  het gesien dat ons God die oorwinning behaal het.” Psalm 67 bevat die bede dat die redding wat in Israel verskyn het oor die hele wêreld bekend mag raak sodat al die nasies die reddende krag van die Here sal sien en Hom sal loof. Al die nasies behoort immers aan die Here {Ps. 22 :8 } Hulle staan onder sy oordeel vanweë hulle oortredinge maar hulle moet ook sy reddingsdade leer ken omdat Hy genadig is.

 In  Jes 25 word die regering van die Here van die leërskare op die berg Sion in Jerusalem beskryf waar Hy sy heerlikheid sigbaar maak. Sy volk het Hy verlos van verdrukking en nou berei die oorwinnende Koning ‘n feesmaal voor op die berg Sion vir al die volke.[25:6]. Die maal is ook bedoel vir al die nasies wat die Here as Koning erken. Die verlossingswerk van God vir die nasies word duidelik. Die sluier wat al die volke omsluier word weggeneem. Dit sien waarskynlik op die rousluier waarmee ‘n lydende mensdom in rou hulle aangesigte bedek in droefheid. God neem die sluier weg en vee al die trane af sodat ‘n lydende mensdom weer vreugde in Hom kan vind, [25:7]. God vernietig ook die omhulsel waarmee al die nasies bedek is. Die omhulsel van  geestelike  blindheid en van gebrek aan kennis van God word oopgebreek. Nou kan ook die nasies kennis van God en sy verlossing verkry.

Ook die profeet Esegiël voorspel  die dag wanneer die nasies Jahwe as die Almagtige sal leer ken en erken dat Hy alleen God is. “Ek sal my heilige Naam laat ken onder my volk Israel; ………….en die ander nasies sal besef dat Ek die Here is, die Heilige van

 Israel” [Eseg. 39:7] ‘Ek sal my voor die oë  van al die nasies laat ken as die groot en heilige God,en hulle sal besef  dat ek die Here is” { Eseg. 38:23 }

  Die tweede element wat na vore kom by die latere profete is die Messiasverwagting. Die swaarkry en verdrukking in die ballingskap het die volk ernstig laat verlang na ‘n verlosser. Die profete bring aan hulle die boodskap dat so ‘n verlosser op pad is en hy sal die Messias genoem word.

  Reeds aan Moses het die Here beloof dat ‘n profeet na vore sou kom wat sy wil aan die volk sou bekend maak. “Ek sal ‘n profeet vir hulle na vore laat kom,een van hulle volksgenote. Hy sal soos jy wees. Ek sal my woorde in sy mond  gee en hy sal vir sy volksgenote alles sê wat Ek hom bevel.”[Deut 18:18]. Hierdie woorde is vervul deur die lang ry ware profete wat God aan sy volk geskenk het. En tog was daar by Israel deur die eeue ‘n verlange na dié groot profeet wat soos Moses direk God se woorde aan die volk sou kon oordra. Hierdie verlange het in die tyd van die ballingskap al sterker geword.

  By die latere profete word telkens verwys na die koning wat sou kom en op die troon van Dawid sou sit. Hy sal sy volk regverdig regeer en blywende vrede bring. Sy heerskappy sal uitkring  en eindelik ook die nasies insluit wat nie tot Israel behoort nie.

  In Jesaja 9 word die koning se heerskappy beeldryk beskryf. “Die volk wat in donkerte geleef het, het ‘n groot lig gesien,oor die wat in die donker land was, het ‘n lig geskyn……………. Vir ons is ‘n Seun gebore, aan ons is ‘n Seun gegee; Hy sal heers en Hy sal genome word: Wonderbare Raadsman,Magtige God, Ewige Vader, Vredevors. Sy heerskappy sal uitbrei en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring.”[Jes. 9:1-6]. Al word hier dalk na ‘n kontemporêre koning verwys, word hy gesien as die prototipe van ‘n ewige Koning en met woorde beskryf wat nie op ‘n gewone koning van toepassing kan wees nie.Hy simboliseer die verwagting na ‘n koning wat vir altyd in geregtigheid sou regeer en vrede en voorspoed sou bring.[ Verg. Ook Jer. 23:5 en 6].

  In Jesaja 11 word verder uitgewy oor die nakomeling van Isai wat sou kom. “Die Gees van die Here sal op hom rus: die Gees wat wysheid en insig gee,die Gees wat kennis verleen en eerbied vir die Here.[11:2 ]. Hy sal regverdig regeer en barmhartigheid bewys aan noodlydendes. In sy koninkryk sal die aarde vol wees van die kennis van die Here  [11:9]. Selfs die nasies sal na hom vra [11:10]. Dit alles sou gebeur wanneer die vrederyk van die Messias aanbreek.

  In Duetero-Jesaja vind ons die sogenaamde Knegliedere waarin die werk en karakter van die Kneg van die Here beskryf word.[ Jes.42:1-7; 49:1-7; 50:4-11; 52:13 – 53:12].Soms word die kneg kollektief gesien as die volk Israel[49:3], maar elders as ‘n toekomstige persoon van wie in terme gepraat word wat bo die gewoon menslike verhewe is.Ons moet aanvaar dat met die Kneg die Messias bedoel word wie se vrederyk nog moes kom. God se Gees rus op Hom en Hy sal God se wil aan die nasies bekendmaak [42:1] en God se wil op aarde vestig [42:3-4]. Die Here het aan Hom die opdrag gegee om ‘n lig vir die nasies te wees sodat die verlossing wat Hy bewerk, die eindes van die aarde kan bereik [49:5-7]. Hy sou uiteindelik ook moes ly ter wille van die sonde van mense. “Oor ons oortredinge is Hy deurboor, oor ons sonde is Hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom”. [53:5].

  In Miga 5:1-3 word verwys na ‘n regeerder wat uit Betlehem-Efrata sou kom en wie se oorsprong in die gryse verlede lê. Na Jerusalem sal die nasies stroom, na die huis van die Here sodat hulle sy wil kan leer. “Want uit Sion kom die openbaring, uit Jerusalem die Woord van die Here. [Miga 4:2].

  Na die ballingskap het die laaste profete Haggai,Sagaria en Maleagi opgetree en toe het die stem van die profete stil geword. Nou sou God nie meer deur die profete spreek nie,maar deur hulle woorde wat op skrif gestel is. Wat die mense van die Ou- Testament moes weet , is opgeteken in die Wet en die Profete.God se wil is duidelik aan hulle geopenbaar.

Skrywer: Prof dionne Craffort