DIE WIL VAN GOD VIR DIE WÊRELD EN VIR JOU Hoofstuk 2 (2) – Dionne Craffort

image_pdfimage_print

Skepping en evolusie.

  Die teorieë wat hierbo genoem is, laat die vraag ontstaan hoe lang tydperke van evolusie met die skeppingswerk van God versoen kan word. Dit bring vanself die vraag na die verhouding van evolusionisme tot kreasionisme na vore.

  In die ideologie van kreasionisme word meesal aanvaar dat God alles in ses dae van 24 uur geskape het so ongeveer ses duisend jaar gelede. Dit berus op ‘n letterlike verstaan van die skeppingsverhale in Genesis 1 en 2 en van die Bybel se geslagsregisters vanaf Adam tot by Christus. Die sonvloedverhaal word dan as verklaring gebruik om te verduidelik waarom bepaalde gesteentes en gebeentes miljoene jare oud lyk, terwyl hulle in werklikheid veel  jonger is.

  In die ideologie van evolusionisme word op voetspoor van Darwin aanvaar dat alle dinge oor ‘n tydperk van biljoene jare vanself tot stand gekom het deur natuurlike prosesse. Natuurlike kragte soos wedywering binne en buite bepaalde spesies, klimaatsveranderinge, oorlewing van die bes aangepaste spesies en genetiese spronge deur mutasies het die prosesse aangedryf. Dit is nie nodig om die idée van ‘n Skeppergod daarby in te bring nie.

  ‘n Derde ideologie is die van teistiese evolusionisme [God skep deur evolusionêre ontwikkeling oor biljoene jare]. Hier is nie net natuurlike dryfkragte aan die werk nie, maar aan God word ook ‘n plek toegeken. Hier word dikwels ‘n godsbekouing gevind wat God gelykstel met die natuurkragte [panteïsme]. Hy kan ook ‘n Opperwese wees wat verhewe is bo die natuur maar dan in kritieke tye ingryp in die natuur. In momente soos die oerknal,vorming van sterrestelsels,oorsprong van lewe en ontstaan van die mens is daar ‘n ingryping van die Opperwese in die gang van die natuur.

  Nie een van bogenoemde teorië is in werklikheid versoenbaar met die Bybel as Woord van God nie.  Die letterlike aanvaarding van Genesis 1 tot 3 maak van die Bybel ‘n handboek in fisika en biologie wat dit nie bedoel is om te wees nie. Dit draai ‘n blinde oog vir die bevindinge van verskeie wetenskappe rakende die ouderdom van die skepping en die aarde. Dit neem nie die getuienis van fossiele rakende die oeroue bestaan van lewe in die see en op land in ag nie. Uit genesis 1 en 2 kan ons nie die hoe en wanneer van die skepping aflei nie, aangesien dit nie die bedoeling van die verhale is om dit uit te spel nie. Dit is immers ‘n loflied wat die grootheid en almag van God besing. As mens aanvaar dat God-drie-enig alles geskep het, sluit dit nie uit dat ons baie van ander wetenskappe kan leer oor hoe dit plaasgevind het nie.

  Die ideologie van evolusionisme is vir Christene totaal onaanvaarbaar indien dit God by voorbaat uitsluit uit die ontwikkelingsprosesse. Dit skryf aan die natuur byna goddelike skeppingseienskappe toe wat dit in werklikheid nie kan hê nie. Dit maak van toeval byna ‘n god wat alles moet verklaar. Die geloof in die outomatiese ontstaan van alle dinge soos byvoorbeeld sterrestelsels, lewe op aarde en die ontstaan van die mens, verg ‘n blinde geloof  wat nog minder op bewyse gegrond is as die geloof in ‘n Skeppergod.

  Teïstiese evolusionisme probeer erkenning gee aan ‘n godheid maar dit is meesal nie die God van die Bybel nie. Volgens die Skrif gryp God nie maar net van tyd tot tyd in in die prosesse van die natuur nie, maar hou sy hand voortdurend  aan sy skepping. God drie-enig skep voortdurend deur sy Woord en onderhou voortdurend deur sy Gees die ganse skepping op ‘n wyse wat nie vir ons rasioneel verklaarbaar is nie. Die skepping bly ‘n wonder en laat hom nie eenvoudig deur evolusionêre prosesse verklaar nie. Daarvoor is daar nog veels te veel geheimenisse wat ons nie logies kan verklaar nie. Op ‘n misterieuse wyse is God deurgaans by die skepping betrokke al het dit dan ook oor biljoene jare gebeur. Dat God deur sy Woord skep, neem ook nie weg dat Hy natuurwette en –prosesse kon gebruik om sy uiteindelike doel met die skepping te bereik nie. Trouens, God is steeds aan die werk en stuur die skepping doelbewus na sy uiteindelike voleinding. As God se hand nie voortdurend in die skepping teenwoordig is nie, sou dit al lankal in totale chaos verval het. Aan die mens as God se verteenwoordiger is ‘n besondere plek toegeken om mee te werk aan die onderhouding van die skepping. Vandat die mens sy verskyning gemaak het ,het God ‘n medewerker in die proses wat ‘n geweldige verantwoordelikheid op hom lê.

  Die teologie moet deurgaans kennis neem van die bevindinge van die wetenskap want dit getuig vir die gelowige steeds meer oor die almag en alwysheid van God. Teologie en Wetenskap staan dus nie vyandig teenoor mekaar nie,maar kan mekaar aanvul op voorwaarde dat deurgaans erns gemaak word met God se selfopenbaring in die Bybel. Ware wetenskap kan God nie by voorbaat uitskakel uit sy teorieë nie. Ware teologie, aan die ander kant, kan nie blind wees vir die bevindinge van die wetenskap nie. Dit vul juis kennis aan op terreine waarop die teologie nie ‘n mandaat het om op te beweeg nie.

  Ten einde wetenskap en teologie met mekaar te versoen, word soms teruggeval op panteïsme [ wat God wil vasvang in die sigbare werklikheid]  of panenteïsme wat die transendensie van God wel aanvaar, maar Hom baie nou verbind met die prosesse van die natuur en die geskiedenis. Die God van die Bybel is egter nie net die stukrag in evolusie of ‘n energie wat alles in balans hou nie. Hy is ook nie net die kode anderkant die oerknal nie. Hy is ‘n Persoon wat sy persoonlikheid sigbaar laat word het in Jesus Christus en wat sy krag in die skepping sigbaar maak deur die werking van die Heilige Gees. Ons kan God Drie-enig dus nooit inruil vir ‘n natuurkrag wat vir ons die misterie van die skepping moet help verklaar nie. 

 

Die skepping bedorwe en weer vernuwe

  Net so groot soos die misterie van die skepping, is ook die misterie van die sondeval wat gelei het tot die bedorwenheid  en bebrokenheid van alles op aarde. Nadat God geskep het, was alles goed in sy oë. Die tragedie is egter dat die mens wat vir God geskape is, deur sy eie wilsdaad afvallig van God geword het.Deur hierdie daad het die mens ‘n verskriklike duisternis oor homself gebring. Dit kom na vore in sy verdorwenheid, opstand teen God, geneigdheid tot die kwade  en ‘n neiging om af te wyk van die wil van God. Die verdorwenheid van die mens het egter ook deurgewerk tot  ‘n gebrokenheid in die natuur. In plek van die bewaring van die natuur, dra die verdorwe mens nou by tot die vernietiging van die natuur. As gevolg van die sondeval beleef die mens nou die aarde nie meer as ‘n paradys nie, maar as vyandig en gebroke.Dit word ‘n plek van swaarkry en lyding. Natuurrampe en siektes laat die mens hunker na ‘n nuwe skepping waarin voorspoed vrede en vreugde sou heers. Dit is asof daar by die hele skepping ‘n versugting is na venuwing en verlossing.

  Die vraag is hoe mens die oorsprong van die sondige staat van die mens moet verstaan? Die verhaal in Genesis 3  wil hierdie sondige staat van die mens verduidelik en verklaar. Dit wil vir ons sê dat die mens deur ongehoorsaamheid sy vehouding met God verbreek het en daardeur die paradystoestand van gemeenskap met God verruil het vir ‘n toestand van verwydering van God.

  Die vraag is of Genesis 3 verwys na ‘n oorspronklike sondelose, volmaakte en onsterflike staat van die mens?  Dit is nie noodwendig die bedoeling van die verhaal nie. Die verhaal wil sê dat die mens geskape is met al die kwaliteite om in ‘n noue verhouding met God te kan lewe. Die mens het egter sy kwaliteite en vryheid misbruik en in opstand en ongehoorsaamheid teenoor God veval.Die verwydering van God af, het uitgeloop op afgodery en selfgemaakte godsdiens. Dit lei ook tot verwydering tussen mense onderling en loop uit op sonde, misdaad en geweld wat soos ‘n veldbrand versprei.

  Daar is al baie boeke geskryf oor hoe die sondeval verstaan moet word. Die presiese aard van die mens se ongehoorsaamheid is nie aan ons bekend nie.  Die eet van die vrugte van die verbode boom is slegs ‘n teken en metafoor van die mens se ongehoorsaamheid. Dit verklaar vir ons die sondige staat van die mens en waarom hy nie binne die wil van God wil leef nie.

  ‘n Mens sou kon sê dat die aanvanklike sondeloosheid van die mens met sy “onskuld” te doen het. Toe die mens nog geen kennis van God en sy wil gehad het nie, kon hy geen skuld hê nie. Oor baie eeue het die “mens”  geen kennis van God gehad nie. Hy moes eers ‘n selfbewussyn ontwikkel voordat hy ‘n Godsbewussyn kon ontwikkel. God het dus die mens op sy lang pad van Menswording gebring tot op die punt van bevatlikheid dat God Homself en sy wil aan die mens kon openbaar.Genesis begin dus op ‘n punt waar God met die mens in gesprek tree. Dit was die begin van ware menswees – van ‘n skepsel met ‘n bepaalde verantwoordelikheid teenoor sy Skepper.

  Die verblyf in die paradys is die simbool van ‘n tyd toe die mens in ‘n bepaalde verhouding met God getree het. Die religieuse mens het bewus geword van’n God wat op sy lewe beslag lê. Dit was die gevolg van God se selfopenbaring aan die mens. Soos God se latere spreke tot Abraham, het God op ‘n vroeër stadium sy wil aan die mens bekend gemaak. So word die mens bewus van sy Skepper  en van sy verantwoordelikhede as skepsel.

  Wat Genesis vir ons wil sê is dat hierdie paradystoestand nie vir altyd geduur het nie. Die mens het sy vehouding met God nie as ‘n kleinood bewaar nie. Hy verbreek dit met die tragiese gevolge van die verlies van die paradystoestand. Hy gaan ‘n donker tydperk in van verwydering van God en verval in selfliefde en selfhandhawing Dit is die ongehoorsaamheid van die mens.  Hy verruil sy verhouding met God vir ‘n toestand weg van God af en verloor so sy vemoë om die wil van God te doen. Hierdie gevalle mens begin om sy eie religieë te skep wat die plek van die ware God moes inneem. Uit hierdie toestand van duisternis en ongehoorsaamheid moes God die mens kom red: van ongehoorsaamheid tot gehoorsaamheid; van onkunde tot kennis van God; van selfsug tot selfopoffering. Dit sou ‘n lang pad van God se bemoeienis met die mens kos tot en met die koms van Jesus Christus na hierdie wêreld.

Skrywer: Prof Dionne Craffort

image_pdfimage_print

You may also like...