Dinge wat die gemeente verdeel
What really flatters a man is that you think him worth flattering. -George Bernard Shaw
Dinge wat die gemeente verdeel
As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is (Jogannes 13:35)
Daar is seker min dinge wat tragieser is as ‘n gemeente wat verdeeld is. Ongelukkig word ons gemeentes dikwels gekenmerk deur stryery en verdeeldheid en nie deur lidmate se liefde vir mekaar nie. Wat doen ons dan? Ons blameer ander. Ons moet altyd onthou dat die saadjies van verdeeldheid klein is, maar hulle kan welig groei.
Die eerste stap is altyd om eerste na jouself te kyk en te vra: Is ek nie dalk die oorsaak van die verdeeldheid nie?
Hoe gaan ek weet of ek nie dalk die oorsaak is nie? Mark Driscoll gee vyf tekens wat ons moet oorweeg.
- Trots
Dit is ‘n lelike sonde en trotse mense is lelike mense. Trots in die gemeente lei onvermydelik tot verdeeldheid. As jy baie van jouself dink, as jy daarvan hou om jou mening te gee, as jy verwag dat mense jou altyd moet konsulteer, as jy kwaad word as mense jou nie gehoorsaam nie, dan sukkel jy in alle waarskynlikheid met trots.
- Dwaalleer
Ons is nogal geneig om ander Christene as dwaalleraars te etiketteer. Hoekom? Want hulle verskil van ons oor een of ander onbenullige besonderheidjie. Dit is nie dwaalleer nie – dit is verskille. ‘n Dwaalleraar is iemand wat die Christelike leer verwerp – hulle glo nie Jesus Christus God se Seun is nie, hulle glo nie aan die Drie-eenheid nie, hulle glo nie dat Jesus sondeloos is nie, dat Hy aan die kruis vir ons sondes gesterf het nie en dat Hy as ons Verlosser opgestaan het. Dit is noodsaaklike dinge wat ons moet glo as jy ons Christene wil wees. Daar is natuurlik nog meer as net hierdie kernelemente. As ons dwaalleer in die gemeente toelaat, sal dit die gemeente mettertyd verdeel.
- Wettisisme
Hierdie mense dink hulle kan gedurig reëls maak. Dan gebruik hulle hierdie reëls wat hulle self gemaak het as wapens om die gemeente te verdeel. In plaas daarvan dat hulle God verheerlik, verag en veroordeel hulle diegene wat nie soos hulle is nie.
- Wantroue
Wantroue in die gemeente, veral onder leiers, lei sekerlik tot verdeeldheid. Leiers het die verantwoordelikheid om betroubaar te wees (1 Timoteus 3:2; Titus 1:6). Lidmate moet hulle leiers eer en aan hulle gehoorsaam wees. Dit vereis vertroue. Leiers en lidmate se verhouding met mekaar moet op vertroue gebou wees. Die ergste ding in ‘n gemeente is wanneer jy nie jou leiers vertrou en dit met hulle uitpraat nie, maar agter hulle rug skinder. Dit vererger wantroue en verdeeldheid.
- Tradisionalisme
Tradisie op sigself is nie sleg nie, maar as ons ‘n metode bokant sy oorspronklike funksie verhef, word dit ‘n afgod wat gemeentes kan verdeel. As ons verandering van nie-Bybelse tradisies vir geen goeie rede teenstaan nie, dan sal dit verdeeldheid veroorsaak.
As Christene moet ons die eenheid van die gemeente nastreef. In Christus is ons ‘n verenigde groep mense – een liggaam, een Here, een geloof, een doop, een God en Vader (Efesiërs 4:4 – 6). Hoe streef ons hierdie eenheid na?
- Streef verandering na. Ons is deel van ‘n lewende gemeente bestaande uit lewende mense. Soos ‘n mens groei en ontwikkel moet ons ook groei en verander – ons word volwasse.
- Luister versigtig na Paulus se woorde. Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde. Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe (Efesiërs 4:2 – 3). Die sleutelwoord is beskeidenheid. ‘n Beskeie mens soek nie persoonlike wins nie. Sy grootste strewe is om vir God en sy naaste lief te hê.
As ons die twee grootste gebooie gehoorsaam – liefde vir God en liefde vir jou naaste – verdeel ons nie die gemeente nie. Inteendeel God kan ons gebruik om eenheid in die gemeente te bring.