Dissipelskap
God whispers to us in our pleasures, speaks to us in our conscience, but shouts in our pains: It is His megaphone to rouse a deaf world –C. S. Lewis
Dissipelskap
Die woord dissipel word gebruik om die Twaalf (die apostels), sowel as groter groepe te beskryf. John H. Armstrong gebruik die volgende definisie: ‘n Dissipel is iemand wat sy vertroue in Jesus Christus stel en voortdurend leer om: God met sy volle lewe te aanbid, deel te neem aan ‘n geloofsgemeenskap en om Christus is woord en daad te verkondig om sodoende dissipels te maak.
Alles wat ons in die lewe doen, volg ‘n proses – of ons nou ‘n koek bak of ‘n huis bou. Wyk jy af van die proses mag dit lei tot ‘n ramp. As ons dissipels wil maak, gaan ons dit nie sonder ‘n proses regkry nie. Maar hoe kry ons dit reg?
Die eerste ding waaraan mense dink is programme of gebeure. Maar programme en gebeure maak nie dissipels nie. Ons maak nie dissipels deur mense in die gemeente te verwelkom sodat ons hulle by komitees of klasse kan inskakel nie. Ons maak dissipels deur ons geloof met ander in vriendskap en gemeenskap uit te leef. Ons kan nie net stellings teen die muur opplak en dink ons gaan dissipels maak nie – ons moet as modelle optree. Miskien moet ons meer praktiese verhale hoor van mense wat dissipelskap doen en ophou praat daaroor. Miskien moet ons Bybelstudiegroepe met Bybel-doen groepe vervang.
Om dissipels te maak gaan nie oor programme en visiestellings nie. Dit gaan oor leer hoe om te leef en ons verhaal te vertel – dit is eintlik die verhaal van Christus en sy werk vir en dan in ons. Programme leer mense meer van die Christelike geloof, maar dit maak nie dissipels nie. Ons moet eers die geloof “doen” en aan ander wys hoe hulle in hierdie reis van gehoorsaamheid by ons kan aansluit.