Dit is iets seldsaam
“The only way to learn strong faith is to endure great trials.” – George Muller
Dit is iets seldsaam
Baie jare gelede nooi ‘n aantal staatsamptenare in Den Haag vir Van Courtonne om by hulle te kom preek. Van Courtonne was ‘n baie bekende prediker aan die hof in Parys. Hy was van Nederlandse afkoms`. Van Courtonne glo dat hulle belangstelling meer sosiaal as godsdienstig was en daarom neem hy nie die uitnodiging aan nie. Hy dink die amptenare was nuuskierig – hulle was nie ywerig om die waarheid te hoor nie. Na ‘n hele aantal verdere uitnodigings aanvaar hy die uitnodiging om in die kapel van die Staatskerk te preek.
Hy daag op en hy preek oor die Etiopiër, ‘n amptenaar wat ‘n hoë pos aan die hof van die koningin beklee het (Handelinge 8). Sy preek het uit vier punte bestaan:
- ‘n Regeringsamptenaar wat die Bybel lees – iets seldsaam.
- ‘n Regeringsamptenaar wat sy onkunde erken – nog meer seldsaam.
- ‘n Regeringsamptenaar wat ‘n mindere vra om iets vir hom uit te lê – baie seldsaam.
- ‘n Regeringsamptenaar wat bekeer word – die seldsaamste ding van alles.
Hy het nooit ‘n tweede uitnodiging gekry om daar te preek nie.
Dit is nou reguit praat. Maar hy het ‘n voorbeeld gehad – Paulus. In 2 Korintiërs 11 het Paulus nou genoeg gehad van sy teenstanders. Hy veroordeel hulle in geen onsekere terme nie. Het ons nie ook soms streng teregwysing nodig nie?