Dreamcatcher – Hermie van Zyl
Pierre vra:
My vraag gaan oor die dreamcatcher. Ek weet die dreamcatcher kom van die Amerikaanse Indiane (Inheemse Amerikaners) af wat dit ophang om slegte drome te vang, veral waar kinders slaap.
Mense met wie ek al gepraat het, het ‘n negatiewe konnotasie met die dreamcatcher en voel Christene moet dit glad nie ophang nie. In ons kerk het die dekor nou ‘n dreamcatcher met die woord “hoop” in die middel daarvan aangebring. Is dit verkeerd en sondig? Maak dit nie die eerste skrefie oop vir nog meer sondige goed in die kerk nie?
Ek het nie die nodige kennis nie, en daarom voel ek ongemaklik. Hoop julle sal my kan help of dan reghelp.
Antwoord
Prof Hermie van Zyl antwoord:
Die dreamcatcher, soos oorspronklik gebruik deur Amerikaanse Indiane (deesdae Inheemse Amerikaners genoem), en soos gepopulariseer gedurende die 1970’s in die hoofstroom Amerikaanse kultuur, is ‘n twygie of takkie van ‘n wilgerboom wat in ‘n lus gevorm word en waaroor dan ‘n web of net geweef word. Dis veral bedoel om by ‘n baba se bedjie gehang te word om slegte drome op te vang. Dit sou die baba dan beskerm teen nagmerries of teen enigiets in die lug wat die baba kan kwaad aandoen.
Dit behoort duidelik te wees dat ons hier met ‘n amulet te doen het wat, vanuit Christelike oogpunt gesien, op ‘n bygelowige manier gebruik word. Want die tipiese siening en gebruik van amulette is dat hulle inherent oor magiese krag sou beskik wat mense teen kwaad of die bose kan beskerm.
Voor ons egter te hard en sinies oor hierdie vorm van beskerming oordeel, moet ons oog daarvoor hê dat bygeloof in alle godsdienste en kulture voorkom. Vir party mense het sulke bygeloof bloot interessante kuriositeitswaarde, vir ander steek daar baie meer in en hulle sal hoog en laag daarby sweer. Byvoorbeeld, waarom het vliegtuie nie ‘n nommer 13 sitplek en hotelle nie ‘n kamer 13 nie? Omdat party mense botweg weier om van sulke sitplekke en kamers gebruik te maak. Die getal 13 sou dan ongeluk bring. Sommige mense weier ook volstrek om onder ‘n leer deur te loop, en skrik hulle boeglam as ‘n swart kat hulle pad kruis of as hulle ‘n spieël breek. Dit sou dan net ongeluk voorspel. Ander hang weer ‘n perdeskoen by hulle voordeur op vir geluk, of “hou duim vas” of “klop op hout” dat iets voorspoedig sal verloop. En so kan ons voortgaan.
Nader aan ons godsdienstige oortuigings en praktyke is daar natuurlik die hele veld van simboliek wat deesdae al meer in ons kerke ‘n rol speel. Voorheen het die argitektuur en versiering van en binne kerke, veral in Protestantse kerke, baie sober daaruit gesien. Maar deesdae is dit ‘n ander saak. Op sigself genome is simboliek ‘n goeie ding. Dit maak ‘n visuele impak en stimuleer ons geloofsverbeelding; dit verbeeld en herinner ons aan geloofsrealiteite waarmee ons ons kan vereenselwig. So is die kruis seer seker die bekendste simbool in die Christendom. Nie net herinner dit ons aan die kruisdood van Christus en dat Hy daar vir ons gely en gesterf het nie, maar vir baie Christene funksioneer die kruis amper ook soos ‘n amulet; dit het magiese krag wat ons dan sou beskerm teen die bose. Kyk maar hoe baie mense dra deesdae ‘n kruis-hangertjie. Blote simbool, of dalk ook beskerming? Selfs sportmanne “slaan die kruis” as hulle op die veld gaan. Daar is inderdaad ‘n fyn lyn wat simboliek en bygeloof skei. Simboliek sit maklik oor in bygeloof.
Die Bybel is ook ryk aan simboliese gebruike, handelinge, instellings en objekte. So het ons in die Ou Testament die besnydenis, wat die besondere teken van die verbond was wat God met Israel gesluit het. Daar is selfs sprake van amulette. In Deuteronomium 6:9 word gesê dat die Israeliete God se gebooie op hulle deurkosyne (Hebreeus: mezuzot) moes skryf. Hieruit het die gebruik ontwikkel dat die Jode tot vandag toe nog ‘n klein houertjie (mezuza) met die “Luister Israel” (Deut 6:4-5) binne-in op hulle deurkosyne aanbring. En dan is daar ook die tefillin (klein leerhouertjies) wat ortodokse Jode om hulle voorkoppe en voorarms bind as gedenk- en beskermmiddels (Deut 6:8). In die Nuwe Testament het ons weer die sakramente van die doop en die nagmaal, wat kragtige geloofsimbole is om ons te herinner aan die versoeningsdood van Christus, maar wat soms ook met allerlei bygeloof omgeef is, soos dat die kind so gou moontlik gedoop moet word om te verseker dat hy/sy hemel toe gaan, of dat die gereelde gebruik van die nagmaal mens teen die bose beskerm. In later tye het Christene dikwels kort grepe uit die Ou Testament en Nuwe Testament op papirus of perkament geskryf, dit opgerol en soos amulette aan hulle persoon gedra om hulle teen ongeluk te beskerm. Die Ons Vader, gedeeltes uit die Evangelies, en Ps 91 was veral baie gewild. Dis nie veel anders as die plakkers wat ons deesdae soms op motors se buffers sien nie: “Hierdie kar word beskerm deur Ps 91.”
Met bostaande oorsig wou ek net aantoon dat amulette, simbole en bygeloof deel is van ons menswees en ook diep wortels in ons godsdienstige oortuigings en gebruike het. Dis nie as sodanig bevreemdend en verkeerd dat daar dus met simboliek in kerklike argitektuur en in die erediens gewerk sal word nie. Maar dan moet ons dit reg gebruik, sober daarmee omgaan, en altyd ondersteunend by die Woord aanwend. Dis nie bedoel om die Woord te vervang nie, maar te ondersteun. Lidmate moet ook voortdurend ingelig word oor die regte betekenis en gebruik van simbole, byvoorbeeld dat hulle nie outomaties – gedagteloos – werk nie. In teologiese taal sê ons: simbole en simboliese handelinge werk nie ex opera operato (letterlik: “deur die gewerkte werk”) nie, dit wil sê, simbole werk nie outomaties nie, maar moet altyd deur die regte disposie of ingesteldheid van die lidmaat aanvaar en ervaar word. Prakties beteken dit byvoorbeeld: die blote feit dat jy gedoop is, maak jou nie salig nie, maar of jy dit waarvoor die doop staan, naamlik die afwassing van sondes deur die bloed van Christus, deur die geloof toegeëien het. Of, die blote feit dat jy ‘n kruis-hangertjie dra, beskerm jou nie teen alle kwaad nie. So verstaan, het simboliek in die kerk ‘n besondere plek ter ondersteuning van ons geloof.
Ek verstaan egter nie wat die kerk waarna ons vraagsteller verwys, probeer doen met die insluit van die dreamcatcher as deel van hulle Christelik-kerklike simboliek nie, veral gegewe die feit dat dit as amulet uit die tradisionele heidendom kom. Ja, heidense simbole kan natuurlik verchristelik word, soos ons met die kersboom gemaak het. Dit wil lyk asof die woord “hoop” wat daaraan geheg is ‘n poging tot so ‘n verchristeliking is. Maar ek sou baie versigtig wees om sonder meer iets soos ‘n dreamcatcher, met al die konnotasies daaraan verbonde, saam met ander erkende Christelike simbole in die kerk in te voer. Dit kom vir my ‘n bietjie arbitrêr en lukraak voor. Dit kan ook verwarring skep en aanleiding gee tot onmin en verdeeldheid in die kerk, wat mens nie graag wil hê nie. Die punt is, simbole moet baie omsigtig hanteer word, juis omdat hulle so ‘n kragtige medium is. Miskien moet ons vraagsteller by die pastoor of dominee gaan uitvind wat die idee agter die dreamcatcher is. En hoe “hoop” daarby inpas.
Skrywer: Prof Hermie van Zyl