Drie in die vuuroond
In the end, we will remember not the words of our enemies, but the silence of our friends.”
– Martin Luther King, Jr.
Drie in die vuuroond
In Daniël 3 lees ons van Daniël se drie vriende in die brandende oond. Koning Nebukadnesar maak ‘n enorme goue beeld. Met die inwyding van die beeld is almal daar. Hulle kry ‘n opdrag dat as hulle die geluid van musiekinstrumente hoor hulle voor die beeld moet buig en dit aanbid. Sadrag, Mesag en Abednego doen dit nie. Nebukadnesar is woedend en laat die drie kom. Op sy vraag waarom hulle nie die beeld aanbid nie, antwoord hulle: Ons het ons God vir wie ons dien. Hy het die mag om ons te red uit die brandende oond, en Hy sal ons ook red uit u mag. Selfs as Hy dit nie doen nie, moet u weet dat ons u god nie sal dien nie, die goue beeld wat u laat oprig het, nie sal aanbid nie. Is hier nie ‘n bietjie van ‘n paradoks in hulle antwoord nie? Aan die een kant is hulle seker dat God hulle sal red; aan die ander kant … as Hy dit nie doen nie.
Hulle vertroue was in God en nie in hulle beperkte verstaan van wat Hy sou doen nie. Hulle weet God is onder geen verpligting om volgens hulle beperkte wysheid op te tree nie. Hulle vertrou vir God – Hy weet beter as hulle wat moet gebeur.
Groot Bybelfigure soos Abraham, Josef en Dawid het nie altyd gekry waarvoor hulle gebid het nie. Ons vestig dikwels ons hoop op ons eie agenda en nie op God alleen nie. Ons hoor dikwels gelowiges sê: Ek weet dat God my sal red. Dit is dikwels ‘n teken van onderliggende angs en onsekerheid. Vir die drie vriende maak dit nie saak wat gebeur nie, want hulle weet dat God daardeur verheerlik sou word en hulle sal by Hom wees. God sal hulle van of deur die dood verlos. Hulle grootste vreugde was om God te verheerlik en nie om Hom te gebruik om te kry wat hulle graag wou hê nie. Daarom was hulle sonder vrees.
Toe Nebukadnesar die drie vriende van Daniël se reaksie hoor het hy wit geword van woede. Hy gee opdrag dat die oond sewe maal warmer gemaak moet word as gewoonlik. Hy laat die drie vasbind en kry sterk manne om hulle in die oond te gooi. Die oond was so warm dat die manne wat hulle moes ingooi deur die vlamme doodgebrand is.
Nebukadnesar spring verskrik op: Maar ek sien dan vier manne wat vry en ongedeerd rondbeweeg in die vuur, en die vierde lyk soos ‘n hemelwese. Hierdie vierde man trek Nebukadnesar se aandag. Die rede waarom die drie vriende in die vuur kon rondloop, is as gevolg van die vierde wese. Ons lees ook dat Hy nie saam met die ander drie by die oond uitkom nie. Nebukadnesar eer die God van die drie vriende: Hy wat sy engel gestuur het en sy dienaars gered het.
In die Ou Testament lees ons op ‘n paar plekke van die engel van God. In Eksodus 3 verskyn die Engel van die Here aan Moses uit die brandende doringbos. In Josua 5 sien Josua die leëraanvoerder van die Here. In Rigter 13 verskyn die Engel van die Here aan Manoag, die vader van Simson. Om hierdie engel te sien is soos om vir God te sien.
Jesus Christus kom as baba na die aarde toe om by ons swakke, sterflike mense te wees. Hier op aarde sterf Hy uiteindelik aan die kruis. Hy word verdoem tot ‘n pynlike dood – in ons plek. Maar anders as met Daniël se drie vriende is Hy alleen: My God, my God, waarom het U My verlaat (Markus 15:34). Jesus ly nie net saam met ons nie, maar ook vir ons.
Omdat Jesus Christus aarde toe gekom het en deur die vuur gegaan het – gestraf is vir wat Hy nie verdien het nie – kan Hy saam met my, onsuiwer mens wat dit nie verdien nie – in die vuur wees.