Drome – Hermie van Zyl

Celesté vra:

Ek wou net weet of dit verkeerd is om ‘n droom op te soek in ‘n droom-woordeboek genaamd “Hoor God Droom-woordeboek”. Dit is geskryf deur Martin van der Merwe.

Ek leen die boek by my suster as ek ‘n droom het wat nie lekker was nie. Ek droom eintlik nie snaakse goed nie en eintlik droom ek nie veel nie. Maar die afgelope tyd droom ek baie van tornado’s. Ek weet nie of daar ‘n boodskap daarin is nie. Wanneer ek van die tornado’s droom is dit vreeslik erg, maar ek en wie ook al in my droom is, kom ongeskend daarvan af, maar daar is vreeslik verwoesting om ons.

 

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Daar is twee kante aan drome. Enersyds is dit onteenseglik so dat drome en visioene ‘n besondere plek inneem in die Bybel. Op belangrike momente in die heilsgeskiedenis het God sy wil aan sekere mense bekendgemaak deur drome en gesigte. Dink aan die volgende: Abraham, die vader van die gelowiges, het meer as een keer in ‘n gesig opdragte van die Here ontvang (Gen 12:7; 15:1). Jakob het op pad na sy oom Laban in ‘n droom ‘n leer gesien wat tot aan die hemel reik; hy het toe van die Here ‘n herhaling van die belofte ontvang wat aan Abraham gemaak is (Gen 28:11-22). Josef was bekend as ‘n dromer en ‘n uitlêer van drome (Gen 37:1-11; 41), drome wat almal waar geword het. Moses het in die visioen van die brandende doringbos sy opdrag ontvang om die Israeliete uit Egipte te lei (Eks 3:14). Die profete in die Ou Testament het ook deur middel van drome en visioene die wil van die Here ontvang: Jesaja het in ‘n visioen die Here gesien (Jes 6); so ook Esegiël (Eseg 1:1) en Amos (1:1), om nie meer te noem nie. Daniël was ook bekend as ‘n uitlêer van drome (Dan 1:17). Ook in die Nuwe Testament word vertel van drome en gesigte. So ontvang Josef in twee afsonderlike drome die opdrag van God om Maria as sy vrou te neem, en om na Egipte te vlug (Matt 1:20; 2:13). Petrus sien ‘n gesig oor die insluiting van alle nasies in die volk van God (Hand 10:10-16). En Paulus ontmoet die verheerlikte Here Jesus in ‘n gesig op pad na Damaskus (Hand 9:3-6). Die hele Openbaringboek is ook gebaseer op ‘n gesig wat Johannes op die eiland Patmos gehad het (Op 1:9-11). En so sal mens talle ander voorbeelde kan noem.

Terloops, dit is nie altyd moontlik om skerp te onderskei tussen drome en gesigte nie. Soms word spesifiek gesê dat die Here in ‘n droom, dit wil sê, terwyl die persoon geslaap het, iets aan iemand bekend gemaak het (soos in die geval van Josef, Jesus se aardse vader). Ander kere lyk dit meer soos ‘n geestesverrukking of gesig helder oordag terwyl die persoon besig was met sy dagtaak of op reis was (soos in Paulus se geval). Hoe dit ook al sy, droom of gesig, die gemene deler is altyd dat dit telkens die bekendmaking van ‘n spesifieke opdrag of openbaring van God was wat plaasgevind het. Verder is dit ook opmerklik dat hierdie drome en gesigte nie maar sommer oor enige beuselagtigheid gaan nie, maar altyd verband hou met groot wendinge in die heilsgeskiedenis – God wat nuwe gebeure aankondig van hoe Hy sy kinders gaan verlos.

Vanuit bogenoemde oorsig kan mens sê dat daar ‘n verborge dimensie is aan die werklikheid wat God soms vir besondere geroepenes open om sy wil bekend te maak, tot voordeel van sy kinders en tot verheerliking van sy Naam. En die manier waarop Hy dit soms doen, is deur drome en visioene. Of dit hier gaan oor ‘n besondere soort persoonlikheid – mense wat byvoorbeeld sensitief is vir God se teenwoordigheid in die wêreld – en of laasgenoemde hoegenaamd ‘n rol speel, is moeilik om te sê. Wat mens wel in die algemeen kan sê, is dat mense wat ná aan God leef dikwels die ervaring het van God se teenwoordigheid op besondere maniere – noem dit drome, visioene, geestesverrukking, of wat ook al. Feit van die saak is egter dat hierdie manier van kommunikasie volledig in God se hande is en dat mense dit nie kan manipuleer deur middel van bepaalde tegnieke of deur doelbewus “vroom” te leef nie. As daar sulke vorme van kommunikasie plaasvind, is dit volledig afhanklik van God, sonder dat dit gesoek of afgebid kan word. God alleen beskik daaroor. Mens moet dus ernstige bedenkinge hê oor enige vorm van geforseerdheid as dit oor drome en visioene gaan. Sodra dit in hierdie rigting neig, bring dit onmiddellik die egtheid van die visioene in die gedrang. Want God laat Hom nie manipuleer nie. Hy alleen besluit in sy vrymag met wie, wanneer en hoe Hy op “besondere” maniere wil kommunikeer. Mens moet dus katvoet loop vir bedrog op hierdie terrein.

Daar is dus ook ‘n ander kant van drome – die misleidende aard daarvan. Uit die sielkunde weet ons dat drome (en nagmerries!) in die meeste gevalle gewoon uit ons onderbewuste opkom. Dis die manier hoe ons breine die daaglikse gebeure en ervarings verwerk. En meesal is daar geen betekenis in hierdie drome nie, behalwe dat dit die “boodskap” oordra dat ons miskien nie te veel moet eet voordat ons gaan slaap nie. Of as dieselfde droom herhaaldelik voorkom, is daar miskien in die onderbewuste ‘n onverwerkte vrees, begeerte of ideaal wat op dié manier manifesteer. Weer eens het dit geen ander betekenis nie as dat ons miskien moet probeer vasstel wat die onderliggende saak is wat dan verder rasioneel hanteer moet word.

Ek sal dus baie versigtig wees vir iets soos ‘n droom-woordeboek. Want dit veronderstel dat elke droom ‘n dieper (geestelike) betekenis het, iets wat die gemiddelde droom, kragtens hulle aard, juis nie het nie. Mens kan dus werklik op ‘n vrugtelose soektog geplaas word wat gewoon tydmors is. Probeer eerder met wysheid lewe, wysheid wat uit die Woord van God en die alledaagse lewe geput word. Ons moenie dat ons lewe deur sinnelose drome beheer word nie. Ons moet ook nie in die sieklike begeerte verval dat God op ‘n direkte manier aan ons sy wil moet oordra terwyl dit al die tyd in sy geopenbaarde wil – die Bybel – bekend is nie. Dan is ons juis ongehoorsaam. Dink aan die gelykenis van die ryk man en Lasarus (Luk 16). Toe albei hierdie mense hulle in die doderyk bevind, wou die ryk man hê dat iemand uit die dode sy broers gaan waarsku (waarskynlik in ‘n droom of gesig) sodat hulle nie ook in daardie plek van pyniging kom nie. Toe sê Abraham vir hom dat hulle Moses en die profete het (die Bybel) – as hulle hierna nie luister nie, sal hulle ook nie luister nie al kom iemand uit die dood (in ‘n gesig of droom) hulle waarsku. Die punt is, normaalweg kan drome ons nie méér meedeel as wat ons reeds weet vanuit die Woord van God nie.

Iets soos ‘n droom-woordeboek stry ook teen die gedagte dat drome baie spesifiek is tot iemand se persoonlike belewenisse en gedagtewêreld. Hoe kan mens in ‘n algemene woordeboek oor drome iets gaan oplees uit iemand anders se ervaringswêreld wat op my situasie van toepassing kan wees? So asof daar bepaalde drome is wat oor en oor by mense voorkom en wat dan ‘n soort generiese betekenis vir almal het wat dit droom. En selfs al is daar sulke “algemene” drome, gaan hulle nie noodwendig dieselfde betekenis vir my inhou nie, indien mens hoegenaamd betekenis aan sulke drome moet heg.

Verder, mense wat met drome te koop loop, laat mens ook dink aan die vals profete waarvan Jeremia praat (Jer 23:25-32). Hy waarsku die volk teen sogenaamde profete wat daarop aanspraak maak dat God met hulle in drome gepraat het. Maar dan sê die Here dat Hy geen opdragte aan hulle gegee het nie en dat hulle besig is om die volk met hulle leuens te mislei. Mense wat beweer dat hulle ander se drome kan uitlê, kan in bepaalde gevalle met vals profete vergelyk word. Hulle gee voor om iets te wees wat hulle nie is nie, en hulle mislei mense.

Om te veel betekenis in drome te lees, hou dus beslis gevaar in. Maar daarmee wil ek nie beweer dat God nie by geleentheid en in besondere gevalle deur middel van ‘n droom ons aan iets wil herinner nie. Dit kan wees dat iets al lankal by ons spook en dat ons eintlik alreeds die antwoord het (gesonde verstand, of goeie raad van ander), maar dit om een of ander rede nie wil erken of daarvolgens handel nie. En dan kan dit gebeur dat ons onderbewuste dit wat nog vaag by ons is, “uitsorteer” en daar deur ‘n droom helderheid oor ‘n saak kom. Maar hierdie soort van helderheid sal nie in stryd wees met wat ons reeds weet vanuit die Woord van God, of wat ons eintlik reeds oor sekerheid gehad het maar nie vir onsself wou erken nie. God het baie maniere om ons te herinner aan sy wil, maar uiteindelik sal dit in ooreenstemming wees met sy bekende Woord in die Bybel. Want laasgenoemde is die norm vir ons lewe, nie drome waarvan ons die betekenis nie eens ken nie of wat ons moet gaan oplees in ‘n droom-woordeboek, en waarvan ons dan nog steeds nie seker is of dit nou regtig sy wil vir my is nie.

Ons moet ook in gedagte hou dat dit nie om dowe neute is dat ons so dikwels van drome en gesigte in die Bybel lees nie. Die Bybel is die opgetekende wil van God wat oor honderde jare in die lewe van sy kinders gestalte aangeneem het. En omdat die kanon (die Bybel) toe nog in wording was, het God dit van tyd tot tyd nodig gevind om op ‘n direkte manier met bepaalde figure te kommunikeer. Maar sedert die Bybel tot stand gekom het, hét ons nou die volle openbaring van God se wil. Ons glo daarom aan die genoegsaamheid van die Bybel. Dit beteken dat daar genoeg in die Bybel oor die wil van God bekend gemaak is sodat sy kinders getroos kan lewe en sterwe. Ons het nie meer spesiale openbarings nodig om God se wil te probeer agterkom nie. Hoe meer ons onsself ingrawe in sy Woord, dit bestudeer, oordink, daaroor bid en dit uitleef, hoe minder behoefte sal ons hê aan allerlei kortpaaie, soos drome en gesigte.

 Skrywer:  Prof Hermie van Zyl