Dualisme en Nasionalisme
Every saint has a past, and every sinner a future… – Oscar Wilde
Dualisme en Nasionalisme
C. Christopher Smith en John Pattison het onlangs ‘n boek, Slow Church, geskryf wat besig is om baie aandag te geniet. Ek gaan ‘n aantal blogs aan hierdie boek spandeer.
Seker die oudste fragmentering in ons lewens is dualisme – liggaam en siel. Godsdiens het baie min invloed op die menings oor omgewingsbeleid, maar ons liggame is belangrik. Dualisme is wanneer ons ‘n vals onderskeiding tussen ons geloof en die res van ons lewens maak. Sondag woon ons die erediens by, maar ons geloof speel geen rol in die res van ons lewens nie.
Ons neem ons besluite los van ons mense en ons plek. Min van ons het ‘n gemeenskap wat vir ons kan help met ons moeilike besluite.
Almal kompartementaliseer hulle lewens. Isoleer ons vermaak ons van ander – soos die neiging met baie elektroniese toestelle is? Wat is die sosiale en ekologiese koste van ons vermaak – elektrisiteit, brandstof, ens? As God besig is om die hele skepping te versoen, beweeg ons op gevaarlike terrein as ons sekere gebiede van ons lewens afsonder.
Nasionalisme lei dikwels tot die demonisering van ander nasies. Die oortuiging dat in Christus die hele mensdom en die skepping versoen het, laat geen ruimte vir nasionalisme nie. Geloof in nasionalisme is ‘n kortpad om God nie te vertrou dat Hy sy sending van versoening sal uitvoer nie. Dit is ook ‘n kortpad om ons roeping om vredemakers te wees, te ignoreer. Nie alleen is God besig om die hele mensdom te versoen nie, maar in hierdie proses staan die kerk sentraal. Ons tree dus op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons ‘n beroep op julle doen. Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het (2 Kor 5:20). Die gesant/ambassadeur staan tegnies op die soewereine grondgebied van sy land waar hy ook al staan. Ons is ambassadeurs van die koninkryk van God met ‘n soewereine mandaat wat dikwels met die kultuur bots. Ons trou is nie aan ‘n land nie, maar aan ‘n persoon: Jesus Christus.
Nasionalisme wat een nasie oor ander verheerlik is ‘n vorm van afgodery en nie verenigbaar met die Christelike geloof nie. Ons roeping is om vredemakers te wees wat getuig van God se versoening in Christus – beginnende in ons eie besondere plek.