Eenheid en Verskeidenheid in die Bybel(3) – Die Nuwe Testament
Eenheid en Verskeidenheid in die Bybel(3) – Die Nuwe Testament – Hermie van Zyl
Voorbeelde word gegee van die verskeidenheid van stemme wat in die Nuwe Testament opklink, en redes word gegee waarom hierdie verskeidenheid tog in een bundel tereg gekom het.
In die Nuwe Testament, hoewel ‘n veel korter tyd as in die Ou Testament (slegs ongeveer 50-70 jaar), het ons eweneens met verskillende stemme te make. Voorbeelde:
- Die eerste drie Evangelies (Matteus, Markus, Lukas) teken Jesus as gebore uit die menslike geslag (vergelyk die geslagsregisters van Matteus 1 en Lukas 3). Natuurlik is daar allerlei aanduidings dat sy oorsprong Goddelik is. Maar basies het ons met ‘n “lae” Christologie te doen, dit wil sê, die klem val daarop dat Jesus as egte mens voortspruit uit die menslike geslag. Maar die Johannesevangelie teken Jesus se herkoms uitdruklik as Iemand wat een met God is en dan mens word (vergelyk Johannes 1:1: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was self God“; 1:14: “Die Woord word het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid aanskou.” Hierdie soort eksplisiete formulerings omtrent Jesus se goddelike herkoms kry ons nie by die eerste drie Evangelies nie, en is wat ons noem ‘n “hoë” Christologie.
- Ander verskille tussen die Evangelies. Die blote feit van vier Evangelies is in ‘n stadium deur vyande van die kerk gebruik om die (historiese) ongeloofwaardigheid van die kerk se boodskap te probeer uitwys: Hoe kan iemand in Christus glo as daar nie eens ‘n eenstemmige verhaal oor sy aardse lewe is nie? As antwoord hierop probeer die kerk die probleem “oplos” deur die vier verhale tot een te maak. Hieruit ontstaan allerlei Evangelieharmonieë (die Diatessaron, betekenis: “een deur vier”, uit die tweede eeu is ‘n voorbeeld). Maar dit het nooit die “vierstemmige” evangelie vervang nie. Ander verskille ten opsigte van hoe Jesus uitgebeeld word: Die eerste drie Evangelies beklemtoon die lydende Seun van God (veral Markus) (dink aan die lydensworsteling in Getsemane). Maar Johannes beskryf ‘n soort “professionele” Jesus: In die Tuin van Getsemane tree Jesus Goddelik op. Hy moet die mense wat Hom gevange neem, help: As Jesus Homself aan sy arresteerders identifiseer: “Dit is Ek”, deins hulle terug, asof hulle bang is om Hom te arresteer. Jesus se kruisiging word ook deur Johannes as sy verhoging beskryf.
- By Paulus vind ons die klem dat “geloof alleen” voldoende is om iemand te red. Maar die Jakobusbrief sê: “geloof alleen” is nie genoeg nie, die dade moet bykom. Oppervlakkig bekyk, lyk dit of hulle twee verskillende maniere van redding verkondig: geloof (Paulus) en werke (Jakobus).
- Romeine 13 het ‘n ander siening van die staat as Openbaring 13. In Romeine is Paulus baie positief teenoor die Romeinse staat. Hy sien dit as die dienskneg van God in die handhawing van wet en orde. Christene moet dit daarom gehoorsaam. In Openbaring egter is die Romeinse staat nie ‘n dienskneg van God nie maar van Satan (die draak). Dit verteenwoordig vervolging en verdrukking van Christene, en sal uiteindelik deur God vernietig word.
- Vergelyk verder Paulus se siening van slawerny. In 1 Korintiërs 7:14-24 sê hy: slawe moet bly soos hulle is, hulle moenie vrylating soek nie. Efesiërs 6:5-8 en Kolossense 3:22-25 bevestig dit: Slawe, wees gehoorsaam aan julle base. Maar in Filemon is Paulus se raad aan Filemon, die slawe-eienaar: Ontvang jou verloopte slaaf, Onesimus, terug soos ‘n broer. (Die veronderstelling is dat Filemon vir Onesimus sou vrylaat omdat daar ‘n ander verhouding tussen hulle tot stand gekom het.)
Die vraag is vervolgens: Wat hou die Nuwe-Testamentiese boeke bymekaar?
- Dis slegs moedswilligheid en kwaadwilligheid wat ‘n wig probeer indryf tussen die boeke van die Nuwe Testament. Van die vroegste tyd is die kerk gelei om hierdie boeke as verskillende, maar almal geldige perspektiewe op die een God en Vader en een Here Jesus Christus te bely.
- Alle boeke fokus op die persoon van Jesus Christus, en het te make met redding in Christus. Die verskillende perspektiewe word daarom nie as opponerend en uitsluitend beleef nie, maar as aanvullend en verrykend ten opsigte van mekaar.
- Verder is die Nuwe Testament ook een met die Ou Testament. Die Ou Testament vorm die konteks van en bron waaruit die koms van Christus verstaan en geïnterpreteer word. Dis die rede waarom die Ou Testament deel is van die Christelike Bybel. Die kerk het van die begin af gesê: Die God van die Ou Testament is dieselfde Een wat Hom ook in Christus geopenbaar het. Die God van Abraham, Isak en Jakob is ook die God en Vader van Jesus Christus. Daarom dat Ou en Nuwe Testament sáám in een boek gebind is.
Outeur: Prof Hermie Van Zyl