Efesiërs (3)

Efesiërs (3) – Francois Malan

2. Die nuwe mensheid in die aardse lewe (4:1-6:20)

2.1 Eenheid, verskeidenheid, volwassenheid in die liggaam van Christus (4:1-16)

Gelowiges moet die vrede tussen Jode en nie-Jode handhaaf. Christus het dié vrede aan die kruis verwerf. God se Gees werk aan ons om die eenheid onder gelowiges te skep, sodat hulle mekaar se swakhede en mislukkings in liefde sal dra, in nederigheid, bedagsaamheid en geduld met ander. God het ons geroep om as één nuwe mensheid in gemeenskap met Christus te lewe, gegrondves op die eenheid van één God, één Here en één Gees (4:1-6).

Christus wat uit die hemel neergedaal het om mens te word, het opgevaar bo al die hemele om die heelal te vul met sy liefdesheerskappy. Hy gee verskillende genadegawes aan elke gelowige vir sy/haar bepaalde diens om die gemeente in die liefde op te bou. Hy gee verskillende dienaars om elke lid toe te rus vir sy/haar voortgaande werk. Sy kerk groei deurdat elke lid sy deel doen aan die opbou van die eenheid van die geloof in Christus, aan kennis van die Seun van God, en aan stabiele volwassenheid, wat gemeet word aan Christus as ons maatstaf. Dit word gedoen deur die waarheid in liefde te verkondig, en in alle aspekte te groei in gemeenskap met Christus. Hy is ons hoof, die bron en einddoel van die kerk se ontwikkeling. Hy bereik sy doel met die kerk deur die liefde van elke lid vir ander lede en ander mense (4:7-16).

2.2 Lewe volgens die nuwe mensheid – nie volgens die oue nie (4:17-24)

Paulus doen ‘n beroep op sy lesers, op gesag van die Here. Hulle het Christus leer ken en is onderrig in die waarheid, wat deur Jesus beliggaam word. Hulle moet hulle ou self aflê, wat hulle met sy misleidende begeertes verlei het, die nuwe self aantrek, wat volgens God se regverdigheid en heiligheid gemaak is, en God steeds toelaat om die manier, motivering en rigting van hulle denke te vernuwe.

2.3 Praktiese uitlewing van eenheid in liefde om God te behaag (4:25-5:2).

Lê al die euwels af wat die eenheid van God se volk versteur: lieg, steel, kwaadword, elke vorm van kwaad; trek die deugde aan wat die lewe van die gemeenskap bevorder: praat die waarheid, werk hard, wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, vergewe mekaar, praat opbouend, doen alles uit Christus se liefde, deur die Gees wat die liefde van God in ons werk.

2.4 Uit die duister van ongeloof tot kinders van die lig (5:3-14)

Die selfsugtige hebsug, van seksuele onsedelikheid en inhaligheid, lei tot die toorn van God en uitsluiting uit sy koninkryk. Blye danksegging aan God, deur elke optrede van kinders van die lig, erken sy vrygewigheid, ontmasker die vrugtelose dade van die duisternis en verander ongelowiges tot kinders van die lig.

2.5 Om sorgvuldig in die gemeenskap en die Christelike gesin te lewe (5:15-6:9)

Om God in dié gevalle wêreld te behaag, moet gelowiges nie dwaas wees nie, maar steeds wyslik bereken wat die wil van Christus ons Here behels, en dit doen:

  • nie dronk word van wyn en benewel deur losbandigheid nie, maar steeds ontvanklik wees om deur die Gees vervul te word,

  • meer soos Christus te word, wat mekaar met blydskap leer om Christus te loof, en God die Vader voortdurend vir alles te dank,

  •  en jou aan Christus te onderwerp, deur jou aan jou aangewese leier te onderwerp:

  1. ovroue gewilliglik aan hulle liefhebbende mans,

  1. okinders aan hulle ouers vir ‘n vol lewe,

  1. oslawe/diensknegte ywerig en heelhartig aan hulle meesters soos aan die Here wat hulle sal beloon, omdat ons in die teenwoordigheid van Christus ons hoof, verlosser en regter leef.

  1. omans word vermaan om hulle vroue lief te hê en te versorg, geheel aan hulle volle welsyn toegewy, soos Christus homself vir ons oorgegee het en vir ons sorg. Die liefdeseenheid van man en vrou openbaar Christus se liefde vir sy kerk in die wêreld.

  1. ovaders moet vriendelike en geduldige opvoeders wees, wat hulle kinders lojaliteit teenoor Christus as Here leer.

  1. omeesters word herinner dat hulle aan Christus verantwoordelik is vir hulle behandeling van hulle slawe/diensknegte.

 

Skrywer: Prof Francois Malan