Ek cope nie meer nie: Herken lewenskrisisse – Jan van der Watt
Daar is ook verskeie ander oorsake vir die gevoel dat ’n mens nie cope nie. Bogenoemde twee redes raak almal op ’n algeme-ne manier. Maar daar is ook meer spesifieke redes wat nie noodwendig altyd van almal waar is nie.
Mense reageer nie altyd dieselfde nie
Die gevoel van angs of magteloosheid loop dikwels hand aan hand met dinge wat in jou lewe gebeur; ons kan dit ook lewenskrisisse noem. Elkeen reageer nie dieselfde op wat met hom gebeur nie. Twee persone skryf byvoorbeeld eksamen. Albei kry 60%. Die een is tevrede en die ander een is teleurgesteld en ontevrede. Tog het dieselfde ding met beide van hulle gebeur. Die verskil is hoe hulle die gebeure hanteer en daarop reageer. Of neem die persoon wat die een oggend laat is vir werk. Hy is ongeduldig by elke robot. Die volgende dag is hy betyds en dan pla geen robot hom nie. Die verskil lê nie by die robot nie, maar by hom. Die situasie en hoe jy dit hanteer, is dus belangrik en maak dat verskillende mense verskillend reageer. Kom ons kyk hoe lyk die sogenaamde lewenskrisisse. Later sal ons vra hoe en hoekom mense verskillend op lewenskrisisse reageer.
Lewenskrisisse duik oral op
Daar is baie verskillende lewenskrisisse wat ’n rol kan speel om angs te veroorsaak. Daar is kleintjies en grotes. T.H. Holmes en R.H. Ruhe het ’n tabel opgestel van tipiese lewenskrisisse en vir hulle punte gegee volgens hulle relatiewe belangrikheid. As jy meer as ’n sekere hoeveelheid punte kry, is jou kanse goed om binne twee jaar die slagoffer van oormatige stres te word en die gevoel te ontwikkel dat jy nie meer cope nie. Jy moet dus die dinge wat met jou gedurende twee jaar gebeur se punte bymekaar tel. Indien jy gedurende twee jaar byvoor-beeld 300 punte sou kry, is daar ’n 80%-kans dat jy wel ’n ernstige stresprobleem kan hê. Tussen 200 en 299 punte gee jou ’n 50%-kans en tussen 150 en 190 punte ’n 30%-kans. Soos wat ’n emmer geleidelik vol drup met water en uiteindelik oorloop, so is die mens ook. Aanvanklik kan lewenskrisisse beter hanteer word, maar indien dit te veel is, raak die emmer vol en het die persoon genoeg gehad. Dan voel hulle nie net meer dat hulle nie kan cope nie, maar kan ook ernstiger simptome van stres en angs ontwikkel. Die lewenskrisisse-puntetabel lyk so:
Gebeurtenis Punt
Afsterwe van ’n lewensmaat 100
Egskeiding 73
Huweliksverwydering 65
Tronkstraf 63
Afsterwe van ’n familielid 63
Persoonlike siekte of besering 53
Troue 50
Verloor werk 47
Huweliksprobleme 45
Aftrede 45
Ernstige siekte van familielid 44
Swangerskap 40
Seksuele probleme 39
Geboorte van ’n baba 39
Ouer persoon wat in die huis intrek 39
Bankrotskap 38
Finansiële probleme 38
Afsterwe van ’n vriend 37
Werksverandering 36
Familiestruwelinge 35
Maak skuld vir huis of kar 31
Seun of dogter verlaat huis 29
Begin by nuwe skool of universiteit 26
Huweliksmaat begin of hou op werk 23
Verhuis 20
Enige kleiner veranderinge (kerk,
sosiaal, slaap, ens.) 0-15
Vakansie 13
Kersfees 12
Hierdie is waarskynlik die belangrikste, maar beslis nie al dinge wat jou vermoë om te cope kan toets nie. Dit is insigge-wend om te kyk watter tipe probleme Holmes en Ruhe geïden-tifiseer het.
Stabiliteit van die huwelik en gesinsverhoudings
Baie van die dinge draai om die stabiliteit van die huwelik en gesinsverhoudings. Dit gaan om dinge soos egskeiding, familie-struweling of -verwydering, kinders en selfs bejaardes wat kom of gaan in die huis. Die huis behoort vir die gesinslede die gevoel van sekerheid en stabiliteit te gee. Ten minste kan die persoon daar veilig voel en homself wees. As dinge vir hom te veel word, is dit die plek waarheen hy moet kan vlug vir veiligheid en sekuriteit. Dit geld almal, maar veral kinders. As hierdie “veilige ruimte” weggeneem word, of dinge word daar onseker, ontstaan probleme. Dink net hoe ’n egskeiding kinders kan ontwortel. Om die huisgesin as plek van sekerheid en veiligheid te bedreig is om as ’t ware die tafel vir onsekerheid en stres te dek.
Stabiliteit in verhoudings
Heelwat van die sake gaan om stabiliteit in verhoudings: ’n kind moet na ’n nuwe skool toe gaan, ’n baba word gebore en nou moet daar nuwe rolle in die huisgesin in werking kom, werksomstandighede verander, en so aan. As dit verander, moet daar nuwe reëls gesoek word. Daar moet uitgevind word hoe die kinders in die nuwe skool moet maak; daar moet gereël word wie opstaan as die kind drie-uur die oggend huil, of wie nou die skottelgoed moet was. Dit bring wrywing en stres mee, veral as almal nie tevrede is met hoe dinge verloop nie.
Ernstige verliese
Ernstige verliese soos die dood het ook ’n effek. Om jou werk te verloor kan ook hier bygereken word. In die vroeë negentigerjare het ons feitlik weekliks gelees van mans, veral Afrikaans-sprekendes, wat hulle hele gesin uitmoor. Die meeste van daardie gevalle het saamgehang met mans wat nie meer kon cope nie, veral omdat hulle hulle werk verloor het. Alles het vir hulle uitsigloos geword en die lewe het sy sin verloor. Hulle kon en wou nie meer cope nie. Om iets te verloor wat vir jou belangrik en dierbaar was, is om iets te verloor wat jou lewe sin gegee het. Daardie leemte moet hanteer word, maar dit gebeur baie dat mense dit nie wil doen nie of verkeerde keuses maak om die krisis so te probeer verwerk.
Finansiële sake
Finansiële sake speel ook ’n belangrike rol. Om nie geld te hê om jou verpligtinge na te kom nie, beteken onstabiliteit en veroorsaak ’n gevoel van angs. Daar sal in lewenstandaard geval moet word, die huis of kar sal verkoop moet word, en so aan. Later word die verskillende eise so baie dat mens begin knak onder die druk. Dit is dan dat die angs jou in sy greep kry en jy begin voel “ek kan nie meer nie”.
Ontspanning
Dit is waar dat dinge soos vakansie of Kersfees ook tel onder dinge wat jou spoed kan laat verloor in die lewe. Dit is dan veronderstel om lekker tye te wees. Tog kan dit jou stres. Dink maar aan ’n vakansie. Julle kom daar aan en die man en kinders spat in alle rigtings. Die arme vrou moet alles uitpak en netjies maak. “Ek is ook mos op vakansie,” sê sy vir haarself. “Vanaand kan Piet sorg vir die kos.” Arme Piet weet nie wat hom tref nie, want hy sorg nooit vir die kos nie. Stadigaan begin die vet in die vuur land. By die huis hoef die kinders ook nie bed op te maak nie. As hulle weg skool toe is, kom Gladys dit doen. Nou moet hulle skielik self hulle klere regpak en hulle bed opmaak. “Maar dit is mos nie vakansie nie!” kla hulle vinnig. Ja-nee, moenie vakansie onderskat nie.
Dink ook aan dinge soos uitgaan na ’n vertoning toe of selfs om te gaan kuier. Eers wil die vrou nie, maar die man wil. Dan wil die man weer nie, maar die vrou wil. Wat ’n deurmekaarspul. Die klein misverstande veroorsaak uiteindelik dat die bak vol loop. Dit raak later te veel om mee te cope.
Een ding is seker, Holmes en Ruhe se lys help ons om die gevare so ’n bietjie makliker in die oë te kyk. Dit gaan veral om veranderings, of dit nou in die gesin, met geld, verhoudings of wat ook al is. Mense voel veilig as hulle bootjie rustig dobber, maar as die storms kom, ontwrig dit maar almal van ons. Die voordeel is egter dat as jy weet waar die probleme lê, kan jy dit makliker hanteer.
Skrywer: Prof Jan van der Watt