Ek cope nie meer nie – Jan van der Watt
Ons gaan ‘n hele reeks artikels oor hierdie boek publiseer van Prof Jan.
Hierdie is die Inleiding.
Die een ou het eenmaal vir ’n ander een gevra: “Wat doen jy vir ’n lewe? Jy lewe tog, nie waar nie?”
Voel jy ook partymaal so oor die ou lewe? Jy is nou een-maal hier en om “hier” te wees is nie altyd so maklik nie. Die lewe druk en skaaf en soms voel dit vir jou of jy tussen die meule van die lewe fyngedruk gaan word. Boonop is die lewe nog onregverdig ook. Jy probeer, spook, beplan, werk, maar die dinge wil maar net nie loop soos jy beplan nie. Die lewe voel vir jou soos ’n stort: een verkeerde draai en jy is in die warm water. En dan wonder jy of jy regtig nog kans sien om te lewe, want partymaal voel dit soos een lang oorlewingstryd. Soms gaan dit beter, maar die “beter” duur nie lank genoeg nie. Net as jy dink jy het jou kop mooi opgelig, sloeg jy weer in die stof; jy cope net nie meer so lekker nie.
Maar die lewe is eintlik baie lekker. As jy kan, moet jy dit nie mis nie. Die lewe is amper soos ’n sprokie van die held wat met ’n draak moet veg. Daar kom verskriklike oomblikke wanneer dit lyk of die draak die held gaan opvreet, maar as die held die regte dinge doen, het die draak nie regtig ’n kans nie. Op die ou einde weet ons die held gaan wen. Daardie held in die avontuur van jou lewe is jyself. Jy kan wen en die lewe kan vir jou ’n avontuur wees soos vir die held in die sprokie. Glo dit maar!
Jy moet net een ding onthou: jyself skryf daardie sprokie van jou lewe. Jy is die een wat die besluite neem oor wat in jou lewe gaan gebeur. In dié boek wil ek gesels oor een van die grootste drake wat jy gaan teëkom. Ons almal loop maar in die draak vas en hy kan die lewe vir ons moeilik maak. Maar as ons ons wapens reg kies en nie sit en wag dat die draak ons opvreet terwyl ons onsself sit en jammer kry nie, sal ons wen. Die draak het egter nie net een naam nie, want hy het baie koppe. Met die volgende paar voorbeelde gaan ons probeer beskryf wat die draak aan jou kan doen.
Sarie is ’n goeie ma en die mense by die werk sê sy doen goed. Tog skrik sy in die nag wakker met ’n beklemming om haar hart. Sê nou net iets gebeur met klein Sarie terwyl sy by die werk is? Wat nou as mnr. Potgieter (haar baas) nie hou van wat sy doen nie? Wat as … ? en dan lê sy die hele nag wakker en bekommer haar oor een ding na die ander.
Kobus was nie altyd so nie, maar deesdae is hy sommer befoeterd as mense kom kuier. Eintlik is dit nog erger. As hy by die winkel instap en mense sien wat hy ken, dan loop hy sommer langs die ander gangetjie op. Hy gesels ook nie meer so lekker soos altyd nie. By die werk is sy konsentrasie net so kort soos sy humeur. Dit is of iets hom gedurig jaag. Dit is regtig nie die ou Kobus wat mens ken nie.
Anita is weer ’n regte werkesel, maar dit lyk of sy by die klagtekantoor van die lewe kamp opgeslaan het. As sy uit die menslike ras kon bedank, sou sy dit gedoen het; so klink dit as jy na haar geklaery luister. Sy kla egter dat sy net nie weet waar om die bedanking in te dien nie. Sy kla oor alles en niks is goed nie. Haar arme familie moet bontstaan, want Anita is nie sommer met enigiets tevrede nie.
Arme Piet is weer die teenoorgestelde: hy sê gedurig vir almal dat hy niks regkry nie. Hy het ’n regte “arme-ek-kry-my-jammer”-houding. Die lewe behandel hom stief, sal hy dadelik vir jou vertel. Hy kry niks reg nie en wil nie eers probeer nie. “Ag, dit help nie; ek kan nie,” is sy slagspreuk.
Al die mense veg met dieselfde draak: hulle cope nie regtig nie. Die lewe is vir hulle nie so lekker nie. Hulle voel nie hulle haal uit die lewe uit wat hulle moet nie. En dit laat hulle sleg voel. Om die waarheid te sê, dit maak hulle bang en laat hulle stres. Daarom praat die dokters dikwels van hierdie verskynsel as angs.2 Dit is soos om op ’n donker pad met jou kar te gaan staan en nie te weet wat om te doen nie. Jou broek begin bewe, jou hande begin sweet, jou hart begin vinniger klop. Dit voel vir jou of ’n groot, donker hand jou vasdruk … jy’s bang, vrekbang. En dit gebeur nie net op ’n donker pad met jou nie. Dit gebeur ook met jou in die lewe. Jou huwelik, jou werk, jou vriende, jyself of die lewe in die algemeen kan soos daardie donker hand wees wat jou vasdruk. Jy voel jy is nie meer in beheer nie en dan word jy bang. Dinge is besig om stadig maar seker uit jou hande uit te glip.
Maar daar is maniere om weer ’n greep op die lewe te kry; om weer beheer oor te neem oor jou lewe of dele van jou lewe wat besig is om vir jou weg te hardloop. Hierdie boek wil jou daarmee help met so ’n bietjie advies. Nou is advies nie soos geld nie. Advies deel baie mense vrylik uit, maar min mense vat dit. Ons gaan ook advies vrylik gee, maar tog hoop dat dit vir jou soveel sin sal maak dat jy dit sal vat.
Ons gaan nie vir jou maklike antwoorde of kitsoplossings probeer gee nie. Ons gaan in hierdie boek vir jou vertel wat daar met jou liggaam gebeur as die ou draak jou aanval en hoe jy die draak moet regsien. Ons gaan op ’n sielkundige en gods-dienstige manier vir jou probeer lei in die geveg. Dit help nie om net met een wapen te probeer veg as die Here eintlik vir jou baie wapens gegee het nie. Maar ’n mens moet ook weet hoe jou wapens werk en waarom dit so werk. Daarom gaan ons probeer om vir jou te verduidelik wáárom sekere dinge met jou gebeur, maar ons gaan net so hard probeer om vir jou te verduidelik wáárom die raad wat ons vir jou gaan gee, behoort te werk.
Kom ons gaan soek die draak van stres en die gevoel dat jy nie cope nie, en sien hom reg.
Skrywer: Prof Jan van der Watt
1 Omdat die Engelse woord “cope” – algemeen in die volksmond vir “ek kan nie meer die mas opkom nie” – nie ’n geskikte Afrikaanse vertaal- ekwivalent het nie, en omdat dit in hierdie manuskrip die kern van die bespreking vorm, word dit sonder aanhalingstekens en niekursief in die teks geïntegreer.
2 As in die eerste 5 hoofstukke van angs gepraat word, verwys ons nie na die mediese verskynsel soos beskryf word in hoofstuk 6 nie, behalwe waar anders aangedui. Angs in hierdie hoofstukke verwys na ‘n intense stres wat vir ‘n mens onhanteerbaar begin word, en jy “toegedruk” voel. Stres verwys na die gewone spanning en druk waaronder ‘n mens leef.