Ek cope nie meer nie: Veroorsaak spanning allerhande siektes? – Jan van der Watt

Soms hoor ons dat iemand sê ’n persoon het so ’n groot skok gehad dat hy dood is aan ’n hartaanval. Kan iets ’n normale, gesonde persoon só skok dat hy sommer doodgaan? Dit is seker moontlik, maar gebeur nie sommer nie. Alhoewel die gevoel dat jy nie cope nie met die vrees en spanning wat daarmee saamgaan sekere siektesimptome veroorsaak – soos hier-bo beskryf – sal dit selde ’n ernstige toestand veroorsaak. Dit is ’n ander storie indien die persoon reeds ’n onderliggende pro­bleem het. As ’n persoon se kroonslagare reeds verstop is, en hy het reeds hartprobleme, kan die bykomende effek van span­ning en stres egter wel ernstige gevolge hê. As jou hart swak is en jy kry erge emosionele stres, kan dit lei tot ’n hart­aanval. Daar is egter sekere siektetoestande waarin angs wel ’n rol speel om dit te vererger.

Hartaanvalle

Spanning of stres sal nie maak dat jou are skielik verstop en jy sommer ’n hartaanval kry nie. Indien jy egter ’n onderliggende probleem het, kan oormatige stres of angs help om die hartaanval aan die gang te sit. Mense met hartprobleme moet dus liewers situasies vermy wat hulle stres. Hulle moet maak soos daardie lui persoon wat sodra hy die gevoel kry dat hy moet gaan oefen, eers gaan lê tot die gevoel verbygaan. Moenie onnodig moeilikheid soek nie. Indien die hartspier verswak is, kan die bykomende vrystelling van adre­na­lien, wat met spanningsituasies saamgaan, jou hart­probleem vererger.

Hipertensie

Spanning en stres veroorsaak ’n spesifieke soort hoë bloeddruk. Dit is meer ’n reaktiewe hoë bloeddruk waar die bloeddruk met tye fluktueer en rondspring. In die oggend mag die bloed­druk hoog wees, in die middag is dit normaal en in die aand is dit laag. Hierdie soort hoë bloeddruk is nie presies dieselfde as die standhoudende hoë bloeddruk wat ons andersins ken nie. In gevalle waar die bloeddruk so rondspring as gevolg van span­ning is die behandeling anders. Die spanning moet verlig word en dan sal die bloeddruk ook stabiliseer. In ’n persoon wat egter normaalweg met hoë bloeddruk sukkel, kan oormatige spanning daartoe lei dat die bloeddruk buite beheer raak. Waar die bloeddruk eers goed onder beheer was op medi­kasie, raak dit nou buite beheer. So ’n persoon moet gaan vir verdere mediese behandeling.

Asma

Spanning en angs help asma-aanvalle aan. ’n Mens begin met tye kwaai hoes, voel benoud en die bors fluit. In ’n persoon wat geneig is tot asma is daar verskillende snellerfaktore. Hy mag asma kry omdat hy verkeerde dinge inasem, verkeerde medi­kasie gebruik, verkeerde dinge eet of ’n virusinfeksie het. Span­­ning kan ook ’n belangrike faktor wees om ’n asma-aanval te ontlok.

Migraine

Migraine is ’n verblindende hoofpyn wat mense van tyd tot tyd kry. Dit klop so in jou kop en kom meestal aan die een kant van jou kop voor. Klassieke migraine is waar jy eers flikkerings voor jou oë kry en daarna kom die hoofpyn. In baie gevalle kry jy nie waarskuwing nie. As jy jou kom kry, is die hoofpyn daar. Jy voel ook sommer naar, en braak. Spanning, onsekerheid, geïrriteerdheid en emosionele onstabiliteit kan bydra tot migraine-aanvalle.

Prikkelbare kolon

’n Baie algemene dermtoestand is die prikkelbare kolon. In ge­wone taal praat ons van ’n sensitiewe maag. Indien ’n mens met die probleem wakker word, passeer hy ’n paar los stoel­gange, maar sy maag gee die res van die dag nie rus nie. Dit bly kramperig, voel opgeswel en dit voel of die derm nie goed ge­le­dig kan word nie. Onopgeloste spanning en stres speel ’n groot rol. As iemand met dié pro­bleem sukkel en onder stres kom, kan spanning die probleem hande laat uitruk. Dan moet daar­die persoon ’n dokter gaan sien.

Suikersiekte

Suikersiekte word ook beïnvloed deur spanning en angs. Soos ons hierbo gelees het, is daar sekere hormonale versteurings wat met spanning gepaardgaan. Daar word meer kortisol en adre­nalien vrygestel wat ’n mens se suikervlak beïnvloed. Span­ning beïnvloed ook ’n mens se eetgewoontes: sommige mense kan nie ophou eet en peusel nie, en ander verloor weer alle be­lang­­stelling in kos. Die vrystelling van die hormone en die ver­­­­andering in jou eetgewoontes lei dikwels daartoe dat die bloed­­suiker buite beheer raak en te hoog word. Dan moet die be­han­­d­eling van die suikersiekte aangepas word, byvoorbeeld dat die insuliendosis verhoog word.

Verslawende middels

 Alkoholisme en dwelmmisbruik ontwikkel dikwels by mense wat gespanne is en voel hulle verloor beheer. Hulle gebruik dwelm­middels en alkohol om hulle tydelik te help cope, of so dink hulle. Drank en dwelms is natuurlik nie ’n mens se vriend nie. Die verslawing vererger net jou stres en later verloor jy regtig beheer oor jou hele lewe.

Ja-nee, spanning en die gevoel dat ’n mens nie cope nie, is heel­­wat erger as ’n verkoue. Dit kan jou lewe heeltemal om­dop. Dit kan jou fisiek siek maak, jou geestelik laat struikel, jou sosiaal jou vriende kos en jou prestasie by die werk be­ïn­vloed. Dit kan jou gesinslewe deurmekaarkrap en jou van ’n mens in ’n humeurige klaagpot verander. Dit is reg­tig iets wat soos ’n seekat sy arms oral kan insteek en jou wurg.

Maar dit hóéf nie so te wees nie. Jy kan iets daaraan doen. Jy kan daardie seekat se lang arms een vir een loswikkel totdat hy geen mag meer oor jou het nie.

Of in terme van die voor­beeld van die sprokie van jou en die draak wat ek in die be­gin van die boek genoem het: die draak lyk gevaarlik en voel miskien vir jou onoorwinlik. Maar jý is die een wat die ver­­skil kan maak. Jy moet jou swaard optel en begin terugveg. Onthou, jou beste helpende hand sit aan die einde van jou eie arm.

Skrywer:  Prof Jan van der Watt