Ek cope nie meer nie: Wat ek met die lewe doen – Jan van der Watt

Ek maak my eise te hoog

Elkeen van ons het ’n stel waardes in ons kop, oftewel, ons het ’n lewens- en wêreldbeskouing. Dit is dinge wat vir ons belangrik is. As ons iets moet doen, wend ons ons intuïtief na daardie waardes in ons kop en vind uit wat dit sê. Daarvolgens reageer ons dan.

Die interessante is dat hierdie “stel waardes” ons éie is. Jy het dit gemaak – al was dit miskien onder die druk van jou ouers of onderwysers – en jy kan dit verander. Dit is wat jy vir jouself wysmaak wat jy wil hê en hoe jy wil leef. Dit is die eise wat jy aan jouself stel.

Nou kan dit gebeur dat jy die eise aan jouself te hoog stel. Jy wil te veel hê, te goed presteer, te veel doen. Neem jou ge­sin: jy wil die ideale gesin hê, in alle geval soos jy dit sien. Daar­om moet jou man in die tuin werk én alles kan regmaak wat breek of net nie reg lyk nie. Intussen het jou man tien dui­me. Hy kan bitter min regmaak en wat hy probeer regmaak, kan daarna maar weggegooi word. Hoe meer hy probeer, hoe meer kritiseer jy. Jy het jou eise gestel en hy moet daaraan voldoen, buig of bars. Die arme man probeer ook nie eers met die vrou argumenteer nie, want as hy dalk wen, is hy regtig in die moeilikheid. Hy luister maar en probeer maar weer, want hy weet dat geen vrou nog haar man geskiet het terwyl hy skottelgoed was nie.

Haar kinders moet ook die beste wees. Alles wat sy nie op skool kon regkry nie, moet hulle nou doen. As hulle dit nie regkry nie, is daar groot ongelukkigheid. Die eise wat gestel is, is nie nagekom nie. Spanning begin soos spinnerakke in elke hoek van die huis vassit  … En hoekom? Die vrou het on­­­-rea­­listiese eise en reëls gestel. As sy haar eise meer realisties gemaak het, sou die prentjie heeltemal anders gelyk het. Dan sou haar man en kinders miskien makliker aan haar verwagtings kon voldoen. Dan sou daar minder stres gewees het en sou almal makliker gecope het.

Ons dra dus dikwels self skuld vir die feit dat ons so swaar cope. Ons stel onrealistiese eise aan onsself. Ons koop ’n huis of kar wat net te duur is. Ons is net te hardkoppig om toe te gee dat ons dinge van ons man of vrou of kinders verwag wat nie haalbaar is nie.

Om so agter drome aan te hardloop is mos nou om moei­likheid te soek. Jy maak dit net swaar vir jouself, want dit is jy wat gaan sukkel om te cope. Die ironie van die saak is dat daardie klein bietjies waardeur ons die eise te hoog stel en wat ons uiteindelik breek, gewoonlik so min is dat mense dit nie eers sal agterkom nie. Wie gaan die verskil agter­kom as jy ’n huis met twee badkamers en ’n gastetoilet het (wat net te duur was) in plaas van ’n huis sonder daardie ekstra toilet? Gaan mense regtig dink jy is soveel beter as jy ’n klas hoër Mercedes ry of die Corolla koop met die outomatiese ruite? Wie gaan vreeslik omgee dat jou kind met groot stres en moeite 68% in plaas van 64% gekry het, behalwe jy en hy? Dis julle wat die spit moet afbyt en ’n mens kan tereg vra: “Waarvoor?”

Met hierdie voorbeelde wil ek slegs ïllustreer dat daardie ekstra eise wat ons aan onsself stel en wat uiteindelik ons rug breek, dikwels onbelangrik en eintlik irrelevant is. Dit bou net stres op en maak dit vir ons al hoe moeiliker om te cope. Ons moet dit net besef. Ons moet ons waardes, daardie dinge wat vir ons belangrik is en vir ons sin maak, mooi opweeg en net dit oorhou wat regtig die moeite werd is.

Ek praat myself in ’n gat in

Iets wat ’n mens nie altyd besef nie, is dat jy gedurig besig is om met jouself in jou kop te praat, al is dit net in kort sinne of uitroepe soos “ag nee”, “sjoe” of so iets. As iets met jou gebeur, “vertel” jy jouself wat jy daarvan dink en wat gebeur het. Ons noem dit selfgesprek. In ’n sekere sin werk dit soos brein­spoeling. Of wat jy dink nou reg of verkeerd is, jy glo jouself en jy reageer op grond van dit wat jy glo. Nou hang alles af van hoe jy met jouself praat. Jy kan die goeie of die slegte uit ’n saak haal en jouself dan daarvan oortuig. Neem die volgende voorbeeld: Die ou oom lê op sterwe. Hy roep sy vrou nader. Met sy mond teen haar oor fluister hy met sy laaste bietjie asem: “Sarie, jy was by my deur die groot depressie, nè?”

“Ja, ou man,” sê sy.

“Sarie, jy was saam met my deur die vreeslike droogte op die plaas, nè?”

 “Ja, ou man,” sê sy.

“Sarie, en nou is jy hier by my doodsbed ook, nè?”

“Ja, ou man,” sê sy.

“Maar dan lyk dit mos vir my of jý die een is wat al die ongeluk vir my bring,” sê hy.

Nou ja, dis hoe die oom dit sien. ’n Mens sou beslis ander afleidings ook kon maak, afhangende van hoe jy oor die saak dink.

Ongelukkig is dit so dat die meeste van ons eerder geneig is om negatief te dink as positief. Negatiewe denke en nega­tiewe selfgesprek lei natuurlik tot sterk emosies. As ek dink dinge loop verkeerd, begin my hart klaar klop en voel ek klaar angstig en bang, want ek glo en vertrou myself mos. Party mense bekommer hulle ook oor alles. Hulle geliefde woorde is: “Sê nou net … ?” of “Wat as … ?” Vir party mense is die lewe te swaar; die pad te lank en die opdraandes te steil.

Hierdie soort selfgesprek kan natuurlik vernietigend wees. Jy kan jouself die hele tyd wysmaak dat jy nie cope nie en dit dan nog glo ook. Die werklikheid mag heeltemal anders wees, maar jy wil dit nie glo nie. Al een wat te blameer is vir hierdie gat waarin jy jouself praat en die moeite wat jy het om kop bo water te hou, is jyself. Dit is eintlik jou eie skuld as jy voel jy cope nie. Meer daaroor in ’n latere hoofstuk.

Ek verloor belang in die lewe

Waar kom die skilpad sonder bene? Nêrens nie. En hoe tref ’n mens die kol as jy nie ’n kol het nie? ’n Mens kan gou belangstelling in die lewe verloor as jy nie ’n doel het nie. Dan is jy regtig soos ’n skilpad sonder bene. Jou doel hoef nie te wees om die president van Suid-Afrika te word nie. ’n Doel is nie net ’n doel omdat dit ’n gróót doel is nie. ’n Mens kan ook vir jouself eenvoudige mikpunte stel. Dit is net so goed en belangrik.

Daar is die verhaal van die mense wat in ’n nuwe omgewing ingetrek het. Op ’n dag klop ’n arm man aan die deur. Hy ver­koop groente. Die mense wou hom so gou moontlik weg hê en koop toe maar sommer ’n bossie wortels. Die volgende week is die man weer daar. So met verloop van tyd het die mense aan die arm ou man gewoond begin raak. Hulle sien toe die toestand van sy skoene en besluit om vir hom sommer twee goeie pare te gee wat net onder in die kas lê. Sonder om te weet wat in die plastieksak is, is die ou man die volgende keer daar weg.

Tot hulle verbasing kom die ou man toe weer die volgende week met sy ou skoene daar aan. Nuuskierig begin hulle hom oor die skoene uitvra. Hy vertel toe: “Baie dankie vir die skoene. Ek kon dit goed gebruik. Ek het dit vir mense gegee wat dit nodiger as ek gehad het.”

Die mense kon hulle ore nie glo nie, ook nie oor wat hulle daarna gehoor het nie. Die ou man vertel hulle toe dat hy groente verkoop om arm mense (of laat ek sê, nóg armer mense as hy) in sy omgewing aan die lewe te hou. Juis dit het hom ook aan die lewe gehou. Dit het hom iets gegee om voor op te staan in die oggend. Neem dit nou van hom weg en jy het iemand wat in sy eie armoede sal vergaan.

Dikwels gebeur dit dat mense stadig in hulleself doodgaan sonder dat hulle dit besef. Die huisvrou sit by die huis en het eintlik alles wat sy wil hê. As sy in die oggend opstaan, is al wat sy het om na uit te sien die paar opdragte wat sy vir haar huishulp moet gee. Om te koop en in die tuin te sit en koffie drink is ook nie meer lekker nie. Hierdie rigtingloosheid laat ’n gevoel van sinloosheid oor so ’n persoon toesak. Depressie klop aan die deur en emosies raak so sensitief soos oop senuwees. Die geringste ding wat verkeerd loop, lyk soos ’n berg, want watter ander opwinding is daar in die dag?

Doelloosheid sorg vir ongelukkige en onvergenoegde mense wat voel die lewe gaan by hulle verby. Eintlik is dit hulle wat soos die skilpad die lewe by hulle laat verby­gaan. 

Om saam te vat

Die gevoel dat jy nie kan cope nie en dat jy onseker en bang  voel, kom veral uit drie hoofstrome en kan so voorgestel word:

Wie ek is

(oorerwing en persoonlikheid)

Wat ek geword het

(opvoeding en kinderdae)    

Wat ek nou met my lewe maak

(my eise, keuses en selfgesprek)

Dié faktore werk saam en by verskillende mense het verskil-lende faktore ’n verskillende invloed. Dit gaan dus om ’n kom­bi­nasie van faktore wat eintlik by elke mens uniek is. Maar uiteindelik is dit hierdie dinge wat jou laat cope of nie.

Ek wil nie cope nie: onderhouding van angs

Dit is tog eienaardig hoe mense die oorsake van hulle probleme kan ken, maar niks daaraan doen of wil doen nie. Dit is ook ’n kenmerk van iemand wat nie cope nie. Hoe meer hy sukkel, hoe banger word hy en hoe banger hy word, hoe meer sukkel hy. Dit is ’n bose kringloop. Hulle het amper die houding van die dronkie wat vir die ander een sê: “Sjoe, die bier is darem sleg.”

“Ja,” kom die antwoord, “ek kan amper nie wag om genoeg te hê nie.”

Soms weet mense wat die probleem is, maar hulle wil niks daaraan doen nie. Hulle gaan maar op die ou paaie aan. Daardie mense het net hulleself te blameer. Hulle onderhou hulle eie vrese en angs. As argitek van hulle eie lewe “beplan” hulle hulle eie vrese en sorg vir die gevoel dat hulle nie cope nie. Dit hoef nie so te wees nie. Hulle kan ’n verskil aan hulle lewe maak as hulle maar net wil.

In hierdie hoofstuk het ons dus gesien wat alles veroorsaak dat ’n mens die gevoel kan kry dat jy nie cope nie en dalk regtig nie cope nie. Daar is heelwat redes wat saam die monster vorm wat jou lewe vir jou moeilik wil maak en wil sorg dat jy die lewe nie moet geniet nie. As jy jou vyand ken, kan jy vir hom ore aansit. In ’n latere hoofstuk gaan ons sien hoe dit gedoen kan word. Maar eers moet ons kyk wat angs en die gevoel dat ons nie cope nie fisiek aan ons doen.

 

1. Skrifaanhalings uit Die Boodskap (met Psalms en Spreuke) tweede uitgawe, eerste druk, 1999, tensy anders vermeld.

2.  Die vorm hy/sy, hom/haar word nie afwisselend gebruik nie. Ter wille van goeie styl word voorkeur gegee aan hy/hom/sy as generiese term met ’n neutrale betekenis.