Ek moet die wedloop voltooi

We become what we worship – G. K. Beale

Ek moet die wedloop voltooi

Die son is besig om onder te gaan in Meksikostad. Nog ‘n dag van die Olimpiese Spele is verby. Die toeskouers is op pad huis toe na ‘n dag van atletiek. ‘n Uur vantevore is die medaljes vir die maraton uitgedeel. Skielik hoor die mense die sirenes van polisievoertuie. ‘n Eensame man draf-loop die stadion binne. John Steven Acquari was die laaste deelnemer. Hy kom van Tanzanië.

Vroeg in die wedloop het hy geval en sy dyspier beseer. Sy bene was vol skaafplekke en bloed; hy kry krampe. Die skare groei vinnig aan en moedig hom aan om klaar te maak. Hulle klap hande en skreeu toe hy oor die wenstreep gaan en inmekaar val – uitgeput. Na hy so ‘n bietjie herstel het, vra ‘n joernalis vir hom die vraag op almal se lippe: “Jy was ernstig beseer. Hoekom het jy nie net ophou hardloop nie?”

 

Acquari antwoord met gevoel: “My land het my nie 7000 myl gestuur om die wedloop te begin nie, maar om dit klaar te maak.” Vasberadenheid en volharding. Wat sou jy gedoen het? Onttrek het? Aangehou het? Meeste van ons weet wat ons graag sou wou gedoen het, maar ons weet nie seker nie.

Wat van my verlossing? Is ek seker ek sal nie onttrek nie? Gelukkig leer die Bybel my dat ek my nie hoef te bekommer nie. Ek is veral ook daarvan oortuig dat God wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom (Filippense 1:6). Ons is vol vertroue dat ons sal volhard en eendag by Jesus Christus sal wees, maar hierdie vertroue berus nie op my ondervinding of my baanrekord nie. My vertroue berus volledig op die wete dat Jesus die krag het om my te verlos. Ek weet op wie ek vertrou, en ek is daarvan oortuig dat Hy magtig is om wat Hy aan my toevertrou het, tot op die dag wat Hy weer kom, in stand te hou (2 Timoteus 1:12)