Engele in die Bybel (10)
Engele in die Bybel (10)
Jesus is baie belangriker as die engele
Een van die ander skrywers in die Nuwe Testament wat ook heelwat oor die engele praat, is die skrywer van die Brief aan die Hebreërs.
(Ongelukkig weet ons nie meer vandag wie dit was nie.) In die eerste twee hoofstukke tref hy byvoorbeeld ‘n vergelyking tussen Jesus en die engele. Elke keer is die resultaat dieselfde: Jesus is baie groter as die engele. Hy is nie maar net ‘n (groter) hemelwese as wat hulle is nie. Hy is in ‘n totaal ander klas as hulle. Hy is een met God, en daarom is Hy self ook God.
Beskermengele?
In Matteus 18:10 staan daar:
Julle moet nooit een van hierdie kleintjies minag nie, want ek verseker julle dat hulle engele in die hemel gedurigdeur by my hemelse Vader is.
Om hierdie gedeelte te verstaan, moet ‘n mens onthou dat die meeste Jode in daardie tyd vas geglo het dat sekere engele spesiaal die werk gehad het om mense of selfs ‘n hele volk te beskerm. Alhoewel hierdie gedagte redelik algemeen was in die tyd toe die Nuwe Testament geskryf is, kom dit nie baie in die Bybel voor nie. Daar is maar net twee ander plekke in die Bybel waar ‘n mens dieselfde soort gedagte baie duidelik kan sien.
In die boek Daniël word vertel dat Daniël ‘n visioen gesien het. In dié visioen het ‘n “man” na hom toe gekom en gesê dat die engel van die Persiese Ryk hom vir een en twintig dae lank gekeer het sodat hy nie na Daniël kon kom nie. Gelukkig het Migael, die engel wat Joodse volk beskerm, hom te hulp gekom (Daniël 10:13). Nadat die man sy boodskap vir Daniël gegee het, is hy weer daar weg om met die hulp van Migael teen die engel van Persië en daarna teen die engel van Griekeland te gaan veg (Daniël 10:20-21). Hier kry ons baie duidelik die gedagte dat elke volk ‘n beskermengel het, maar dat die beskermengel van die Joodse volk sterker is as die van die ander volkere. Soos ons reeds vroeër gesien het, is die boek Daniël op ‘n baie laat stadium geskryf – eintlik in die tydperk tussen die Ou en die Nuwe Testament. Dit is juis in hierdie tyd dat die nuwe gedagtes oor beskermengele in die Jodedom ontstaan het.
Die ander voorbeeld kom uit die boek Handelinge. Hierdie keer gaan dit nie oor ‘n engel wat aan ‘n spesifieke volk gekoppel is nie, maar oor die gedagte dat elke mens ‘n spesifieke beskermengel het wat as’t ware sy “dubbelganger” is en net soos hy lyk en optree. In Handelinge 12 word vir ons vertel dat Petrus in die tronk was. Die Christene het ernstig gebid dat hy vrygelaat sou word. Toe dit uiteindelik gebeur en hy daar by die huis aankom waar hulle besig was om te bid, het hy aan die deur geklop. Die diensmeisie, Rhodé, het by die voordeur gaan hoor wie dit is. Toe sy vir Petrus buite die deur hoor roep, was sy so bly dat sy nie eers die deur oopgemaak het nie, maar dadelik teruggehardloop het om vir die ander te sê dat Petrus voor die deur is. Hulle het haar nie geglo nie en vir haar gesê sy is mal. Toe sy aanhou dat dit wel Petrus is wat sy gehoor het, het hulle vir haar gesê dat dit dan seker maar sy engel is wat sy gehoor het (Handelinge 12:15. Die Nuwe Afrikaanse Vertaling gebruik die woord “gees”, maar in die Grieks staan daar “engel”.) Soos die ander mense van hulle tyd het hulle blykbaar ook geglo dat elke mens ‘n spesifieke engel het en dat dit Petrus se engel was wat voor die deur gestaan het. Dit is egter belangrik om raak te sien dat Lukas (die skrywer van Handelinge) nie sê dat hierdie siening van hulle reg of verkeerd was nie. Die punt wat hy wil beklemtoon, is dat hierdie groep Christene gebid het dat Petrus vrygelaat moes word, maar dat hulle dit self nie kon glo toe dit wel gebeur nie. Selfs al was hy fisies daar voor hulle deur, het hulle nogtans nie geglo dat hy vrygelaat is nie en het hulle dit op ‘n ander manier probeer verstaan.
As ‘n mens ‘n bietjie dieper ingaan op die voorbeeld uit Matteus se evangelie hierbo, is dit belangrik om raak te sien dat hy praat van “hulle” (oftewel die “kleintjies”) se engele. Die agtergrond vir dit wat Matteus hier sê, is die algemene Joodse gedagtes dat mense beskermengele het. Die eintlike punt waaroor dit gaan, is dat sy gemeente nie die “kleintjies” moet minag nie. Die “kleintjies” waarvan hy hier praat, is nie – soos wat ‘n mens dalk met die eerste aanhoor sou dink nie – klein kindertjies nie, maar wel die “minder belangrike” gemeentelede. Blykbaar was daar in Matteus se gemeente die probleem dat sommige gemeentelede neergesien het op die ander wat in hulle oë minder belangrik was. In hierdie vers wil Matteus juis vir hierdie “belangrike” gemeentelede aan die verstand bring dat God heeltemal anders oor die saak dink. Vir Hom is daar nie onderskeid tussen minder en meer belangrike gemeentelede nie. Om hierdie waarheid uit te druk, sê Matteus dat die “kleintjies” in die gemeente vir God so belangrik is dat Hy van sy engele aan hulle toegesê het – nie sommer enige engele nie, maar juis van die engele wat in sy direkte teenwoordigheid is. Volgens die Joodse gedagtes was die engele wat in God se direkte teenwoordigheid is, van die heel belangrikste engele.
Skrywer: Prof Francois Tolmie