Engele in die Bybel (6)

Engele in die Bybel (6)

Die groot krisis

Die jaar 598 voor Christus. In die eerste hoofstuk vertel Esegiël hoe die Here hom tot profeet geroep het.

Hy sê self dat die hemel vir hom oopgegaan het toe hy al dié gesigte gesien het (Esegiël 1:1). As ‘n mens lees wat hy alles gesien het, kan jy nie anders as om met hom saam te stem nie. Die hemele het inderdaad vir hom oopgegaan! In die eerste deel van hierdie hoofstuk beskryf hy eers die vier gerubs wat hy gesien het. Vroeër het ons reeds gesien dat die Bybelskrywers aan gerubs as hemelse wesens wat half mens en half dier was, gedink het. In Esegiël kry ‘n mens ‘n baie meer breedvoerige beskrywing (Esegiël 1: 5-14):

Daaruit het vier wesens te voorskyn gekom. Hulle het ‘n mensvormige voorkoms gehad, maar elkeen het vier gesigte en vier vlerke gehad. Hulle bene was reguit en hulle voete was soos beeskloue en het geblink soos koper wat opgevryf is. Onder hulle vlerke aan elk van die vier kante van elkeen was daar mensehande. Al vier wesens het gesigte en vlerke gehad. Die een se vlerke het aan die een langs hom s’n geraak. Die wesens het nie van koers verander wanneer hulle beweeg nie. Elkeen het reg vooruit beweeg. Elkeen het vier gesigte gehad. Die vorms van hulle gesigte was so: voor dié van ‘n mens, regs dié van ‘n leeu, links dié van ‘n bul, en agter dié van ‘n arend. Elke wese het dus vier gesigte gehad. Sy twee boonste vlerke was oopgesprei en het aan dié van die wesens weerskante geraak; met die twee ander vlerke het hy sy lyf bedek. Die wesens het reg vooruit beweeg in die rigting waarin die Gees dit wou, en hulle het nie van koers verander wanneer hulle beweeg nie. Die vorm van hierdie wesens, hulle voorkoms, was soos die van gloeiende kole vuur; hulle was net soos die vlamme wat heen en weer tussen hulle beweeg het. Die vuur het helder geskyn en blitse het uit die vuur geskiet.

Hoekom gebruik Esegiël so baie tyd om die vier gerubs te beskryf? Die groot saak waaroor dit gaan, is God se majesteit en grootsheid. Hierdie ontsaglike monsteragtige wesens is eintlik net God se troondraers! As dít is hoe God se troondraers lyk, moet Hy mos nog baie groter en indrukwekkender wees. Vir Esegiël is die beskrywing van die gerubs eintlik net die aanloop om uit te kom by die beskrywing van God se troon. Verder-aan in dieselfde hoofstuk vertel hy wat hy op die gewelf bokant die gerubs se koppe – daar waar God se troon was – gesien het. As hy dan probeer om dit te beskryf, is dit asof sy woorde hom in die steek laat. Hy waag nie eers om te sê dat dit God self is wat hy daar bokant die gewelf gesien het nie. Hy sê net dat dit iets soos die magtige verskyning van die Here was, as’t ware net die weerkaatsing van die heerlikheid van die Here. Geen wonder nie dat hy dadelik platgeval het toe ‘n stem van daarbo af met hom gepraat het nie!

‘n Mens moet ook probeer om hierdie beskrywing van die gerubs deur die oë van die Jode daar in Babilonië te lees. By al die tempels en paleise was daar reuse afbeeldings en groot beelde van die vier beskermgode van die Babiloniërs. In dié afbeeldings het die god Marduk gewoonlik ‘n gesig soos ‘n bul gehad; Nergal, die god van die onderwêreld, ‘n gesig soos ‘n leeu; Ninib, die god van oorlog, ‘n gesig soos ‘n arend; en Nabu, die groot aankondiger, ‘n gesig soos ‘n mens. Dit is presies dieselfde vier soorte gesigte wat in Esegiël se beskrywing hierbo voorkom! Vir die Jode in Babilonië moes dit ‘n groot gerusstelling wees. Dit is nie die sogenaamde gode van die Babiloniërs waarvan hulle orals rondom hulle afbeeldings gesien het wat in beheer van die geskiedenis is nie. God se troon was nog ver bokant hierdie wesens verhewe. Dit is Hy alleen wat in beheer van die lot van die volkere – ook die Jode s’n – was!

In Sagaria se eerste visioen (Sagaria 1:7-17) sien hy hemelse perderuiters. Hy noem hulle “mans”, maar hulle is eintlik engele wat in diens is van die Here se hemelse weermag. Hulle leier word “die engel van die Here” genoem. Sagaria vertel dan hoe die hemelse perderuiters kom terugrapporteer. Hulle sê dat hulle die hele wêreld deurkruis het en dat alles stil en rustig is. Daarop vra die engel van die Here vir die Here hoe lank dit nog sal duur voordat die Here hom weer oor Jerusalem sal ontferm, want sewentig jaar is al verby. Dan lees ‘n mens (Sagaria 1:13-16):

Die Here het die engel vriendelik geantwoord en hom bemoedig. Daarna sê die engel vir my: “Roep en sê: So sê die Here die Almagtige: Ek is hartstogtelik begaan oor Jerusalem, oor Sion… Ek gaan My weer oor Jerusalem ontferm: my tempel gaan herbou word, sê die Here die Almagtige, Jerusalem sal opnuut as stad uitgelê word.”

In hierdie visioen sê Sagaria op ‘n aangrypende wyse dat daar absoluut geen twyfel kan wees oor wie werklik in beheer van die geskiedenis is nie. Op die oog af mag dit miskien lyk of dit die groot en magtige koning Darius is wat in beheer van die geskiedenis is en wat met sy groot mag vrede oor die destydse wêreld gebring het. Dit mag miskien ook lyk of dit aan sy goedheid te danke is dat die Jode weer terug kan gaan na Jerusalem en weer die tempel kan opbou. In hierdie visioen sê Sagaria dat die Jode dieper as dit moet kyk. Bokant die magtige koning Darius is dit die Here die Almagtige wat in beheer is. Sy hemelse weermag “patrolleer” die ganse wêreld. Hulle rapporteer terug dat wêreld stil en rustig is. Dit mag miskien lyk of dit Darius is wat die vrede oor die wêreld gebring het, maar eintlik is dit die Here wat hom gebruik het om dit te doen. Die Here se eintlike plan was om vrede en kalmte oor die wêreld te bring sodat Hy weer sy volk kon terugneem na Jerusalem toe. Hy doen dit omdat Hy die Almagtige is.

 

Skrywer: Prof Francois Tolmie