Etes en kos in die Bybel (2)

Etes en kos in die Bybel (2) – Jan van der Watt

Brood was ‘n basiese bestanddeel van enige huishouding se diëet. Brood was deel van elke aandete (en selfs van ander etes gedurende die dag). Brood was nie alleen ‘kos’ nie – dit was veel meer. Dit het ook diens gedoen as ‘eetinstrument’. Daar was gewoonlik ‘n bak met sous of vleis in die middel van die tafel. Die brood is dan (soos ‘n lepel) gebruik om die sous of vleiserigheid uit die bak te skep. Daar was nie messe en vurke nie. Jesus verwys na die gebruik as Hy sê dat die een wat sy brood saam met hom in die bak druk Hom sou verraai (Matteus 26:23; Johannes 13:26). Verder is die brood ook gebruik om jou hande en vingers mee af te vee nadat jy geëet het, byna soos ‘n servet. Die stukke brood wat so gebruik is, is gewoonlik vir die honde gegooi – dit is die krummels waarna die Kanaänitiese vrou in Matteus 15:27 verwys. Die armes het die stukke oorskiet selfs kom optel en eet, soos Lukas 16:20 vertel. As Jesus dus die brood as een van die elemente van die nagmaal aanwys, beteken dit eintlik dat hy die deel waarsonder geen ete werklik ‘n ete is nie en wat altyd daar moes wees as teken aanwys.

Vroue het gewoonlik brood self gebak. Die brode was gewoonlik rond van vorm. Hulle het suurdeeg gebruik, maar die Jode het met geleentheid ook plat broodkoeke gebak om hulle aan die swaar dae in Egipte te herinner. Jesus verwys dikwels na suurdeeg, want dit is iets wat elke kind daagliks in die huis gesien het (Matteus 13:33; Markus 8:15). Die brood is gewoonlik of in keioonde, gate in die grond waarin vuur gemaak is en die as dan uitegkrap is of oor warm stene gebak – in groot dorpe was daar gewoonlik gemeenskaplike oonde waar ‘n mens jou brood kon gaan bak.

Brood is van graan soos koring of gars gemaak. Dikwels is verskillende soorte graan gemeng om broodmeel mee te maak. In gevalle is selfs boontjies of lensies in die broodmeel ingemeng (Esegiël 4:9). Graan was ‘n basies landbouproduk – die ekonomiese indeks (hoe goed of sleg dit gegaan het) is aan die beskikbaarheid van graan gemeet. Dit is selfs in die vroeë jare as ‘geld’ in die Midde-Ooste gebruik. Hongersnode is ook aan die beskikbaarheid van graan gemeet. Graan is dikwels ingevoer en as die skepe miskien sink of daar iets verkeerd loop en die graan daag nie op nie, is van ‘hongersnood’ gepraat.

Wyn was ook ‘n belangrike deel van die maaltyd, soos ons met Jesus se laaste maaltyd ook sien (Markus 14:23-25; Johannes 2:1-11). Arm mense het nie altyd wyn beskikbaar gehad nie, maar as daar wel wyn was, is dit gedrink. Die wyn is gewoonlik met water verdun (dikwels 3 eenhede water en 1 eenheid wyn). Wynmakery was nie so verfynd soos vandag nie. Hulle het die druiwe gepars, in bakke opgevang waar hulle die sap deur lappe gesuiwer het. Dan is die sap in leersakke of kleipotte gesit en in ‘n koel plek geherberg. Daar het die druiwesap dan gegis. Daarom moes ou sakke nie gebruik word nie. Die ou leersakke het sag geword en as die wyn daarin gis kon dit die sakke makliker skeur (Matteus 9:17; Markus 2:22). Goeie wyn was dan wyn wat behoorlik gegis het.

 

* Van die kosse waarvan ons in die Bybel lees:

Graan

koring 1 Sam 6:13; 2 Sam 17:28; 1 Kon 5:11; Eseg 4:9; 27:17; Op 6:6

meel Lev 2:1; 2 Sam 17:28

stampkoring Lev 2:16

sorghum Eseg 4:9

Groente

boontjies 2 Sam 17:28; Eseg 4:9

komkommers Num 11:5; Jes 1:8

knoffel Num 11:5

lensies Gen 25:34; 2 Sam 17:28; Eseg 4:9

oliywe Deut 8:8

prei Num 11:5

uie Num 11:5

wildekomkommers 2 Kon 4:39

 

Kruie en speserye

anys  Matt 23:23

kaneel Eks30:23-24; Op 18:13

koljander Eks 16:31; Num 11:7; Matt 23:23

kosbare kruie 1 Kon 10:2

kumyn Jes 28:25; Matt 23:23

kruisement Matt 23:23; Luk 11:42

mostert Matt 13:31; 17:20; Luk 17:6

wynruit Luk 11:42

sout Lev 2:13; Job 6:6

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt