Filippi

Filippi – Coen Slabber

Ons gaan voort met ons beskrywing van belangrike stede wat Paulus besoek het en waarin hy gemeentes gestig het. Vandag kyk ons na Filippi.

In Troas sien Paulus in die nag in ʼn gesig ʼn Masedoniese man wat by hom staan en smeek: Kom oor na Masedonië toe en help ons (Handelinge 16:9). Hy vaar van Troas na Samotrake en Neapolis en vandaar gaan hy na Filippi. Dit was in die jaar 49 of 50. In hierdie stad het ons ʼn paar dae gebly (16:12). Hierdie gemeente was die eerste gemeente op Europese bodem. Lukas se vertelling van Paulus se besoek fokus op drie persone: Lidia, ʼn Griekse slavin met ʼn waarsêersgees en ʼn Romeinse tronkbewaarder.

As Paulus ʼn plek soek om die evangelie te verkondig, doen hy dit uit ʼn strategiese hoek. Hy soek altyd ʼn groot of belangrike stad uit. ʼn Tweede vereiste was dat die stad ʼn sleutelrol in die omgewing moes gespeel het. Lukas beskryf Filippi as ʼn belangrike stad in daardie deel van Masedonië (16:12). Selfs vandag nog is baie van hierdie stede wat Paulus gekies het belangrike pad- en spoorwegaansluitings.

Filippi voldoen aan Paulus se vereistes. Daar was veral drie aansprake wat Filippi kon maak:

(1)    In die omgewing was daar goud- en silwermyne. Hierdie myne was sedert die tyd van die Fenisiërs ontgin. In Paulus se tyd word hulle nie meer aktief ontgin nie, maar hulle het gesorg dat Filippi ʼn belangrike handelsentrum in die antieke wêreld was.

(2)    Die stad is gestig deur en vernoem na Filippus II, die vader van Aleksander die Grote. Dit is geleë op dieselfde plek as die antieke stad Krënides (dit beteken die putte of fonteine). Filippus stig die stad in 368 vC, want dit was op ʼn baie strategiese plek geleë. Dit was geleë langs die Via Egnatia wat Filippi aan Neapolis (dien as Filippi se hawe) verbind het. Na die weste verbind hierdie hoofweg Filippi en Tessalonika.  Daar is ʼn reeks heuwels wat Europa van Asië, die Ooste van die Weste skei. By Filippi was daar ʼn pas deur hierdie heuwels. Die stad het die pad tussen Europa en Asië beheer, want reisigers moes deur hierdie pas gaan. Geen wonder dat een van die geskiedkundigste veldslae hier plaasgevind het nie – dit is hier waar Antonius vir Brutus en Cassius verslaan het –  ʼn beslissende veldslag wat die toekoms van die Romeinse Ryk bepaal het.

(3)    Filippi was ʼn Romeinse provinsie. Romeinse provinsies was nie provinsies soos ons dit ken nie – ʼn buitepos van die beskawing in onontwikkelde dele van die wêreld nie. Romeinse kolonies was militêr belangrik. Soldate wat hulle diensplig voltooi en Romeinse burgerskap verkry het, is deur Rome uitgestuur om hulle by hierdie strategiese padverbindings te vestig. Gewoonlik is hulle in groepe van 300 soldate met hulle vroue en kinders uitgestuur. Hierdie kolonies was die fokuspunte van die Romeinse padsisteem – ʼn padsisteem spesiaal so beplan dat militêre versterkings baie maklik van die een provinsie na die ander gestuur kan word. Hulle was dus baie belangrik vir die behoud van vrede in die Ryk. Aanvanklik het ons kolonies slegs in Italië gekry, maar mettertyd kom hulle verspreid oor die hele Romeinse Ryk voor. Later is die titel kolonie aan enige stad wat deur die regering vir getroue diens vereer is, toegeken. Kolonies was vrygestel van belasting en die Romeinse wet het gegeld.

Hierdie kolonies was in werklikheid klein stukkies van Rome. Hulle trots op hulle Romeinse burgerskap was hulle uitstaande kenmerk. Die taal, kleredrag, gebruike en seremonies was dié van Rome. Hulle sou nie daarvan droom om deel te word van die mense van hulle omgewing nie. Luister net na Paulus en Silas se aanklaers in Filippi: Hierdie mense is Jode wat moeilikheid maak in ons stad. Hulle wil vir ons gebruike leer wat ons as Romeine nie kan aanvaar of navolg nie (Handelinge 16:20 – 21). ʼn Romeinse burger het nooit vergeet dat hy ʼn Romein is nie. [Ons vergeet so maklik dat ons Christene is.] Nêrens was mense trotser op hulle Romeinse burgerskap as juis hier in die kolonies nie.

Filippi was nie ʼn groot stad nie. Dit is omring deur groot landerye. Die inwoners was ʼn mengsel van veteraan soldate, Grieke, Masedoniërs en vreemdelinge. Die Via Egnatia het dwarsdeur die stad geloop. Langs die hoofpad kry ons die forum – die handel- en regeringsentrum. Daar was verskeie tempels en twee gemeenskaplike baddens. Die stadsmure en ʼn indrukwekkende teater dateer uit die tyd van Aleksander die Grote.

In meeste stede van destyds was daar ʼn groot aantal kultiese praktyke beoefen – so ook in Filippi. Soos ʼn mens sou verwag van ʼn Romeinse kolonie, was die keiserkultus belangrik. Die tempels by die forum was aan Augustus, Livia, Claudius en Rome gewy. Ons moet onthou dat die keisers destyds verantwoordelik was vir die handhawing van vrede, die administrasie van die reg, bystand in tye van swaarkry (byvoorbeeld hongersnood). Hulle het dus die funksies verrig wat mense destyds van gode verwag het.

Daar was ook tempels vir die tradisionele Griekse gode (Zeus, Apollo, Artemis, ens.). Die Filippense het selfs kultusse uit die Ooste (soos die Egiptiese kultusse van Isis en Osiris) verwelkom.

Was daar ʼn Joodse gemeenskap in Filippi? As ons Lukas se beskrywing in Handelinge 16 lees, kry ons die indruk dat Paulus-hulle die eerste paar dae gesoek het na ʼn sinagoge – sonder sukses. Lukas sê dat hulle tot die sabbatdag gewag het en toe na ʼn rivier buite die stadspoorte gegaan het – omdat ons gedink het daar sou ʼn Joodse bidplek wees. Hierdie sogenaamde proseuche was ʼn Joodse bymekaarkomplek (nie noodwendig ʼn gebou nie) vir gebede op die Sabbat en vir onderrig in die tora. Die rivier is waarskynlik vir rituele reiniging gebruik.

Na so ʼn nederige begin, is dit verbasend dat Paulus met soveel blydskap vir hulle kon bid:

Ek dank my God elke keer as ek aan julle dink. In al my gebede bid ek altyd met blydskap vir julle almal, omdat julle van die eerste dag af tot nou toe saamgewerk het aan die verkondiging van die evangelie (Filippense 1:3 – 5).

Outeur: Dr Coen Slabber