Gebed en profetiese kritiek

 

If God only used perfect people, nothing would get done. God wil use anybody, if you’re available – Rick Warren

 

Gebed en profetiese kritiek

In 1973 skryf Henri J. M.Nouwen ‘n kort boekie oor gebed: With Open Hands. Hierdie boekie was so gewild dat hy dit in 1995 en 2006 moes hersien. Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie boekie spandeer.

 

Soos jou gebedslewe verdiep kry jy nie net ‘n groter insig in jouself en jou naaste nie, maar jy ontwikkel ook ‘n beter aanvoeling vir die pols van die lewe. As jy waarlik bid, sal jy kritiese vrae vra oor die probleme van die wêreld. Jy besef dat bekering nie net vir jou en jou naaste belangrik is nie, maar vir die hele wêreld. Dit vereis ‘n profetiese getuienis wat dit waag om te kritiseer.

 

Ons besef die wêreld moet verander; ons besef geen verandering is moontlik sonder optrede nie. Die vraag is: Hoe?

 

Die frustrasie wat so baie mense laat protesteer en demonstreer of in dwelms laat ontvlug is ‘n teken van diepliggende ontevredenheid met die wêreld waarin ons leef. Party mense agiteer vir vryheid en geregtigheid; ander onttrek hulle uit hierdie chaotiese wêreld en sy instellings. Maak nie saak wat ons doen nie die gegriefdheid bly – al word dit onderdruk al word dit deur ‘n gesindheid van passiewe ongeërgdheid onderdruk. Maar daar bly diep binne ons ‘n verlange na ‘n ander wêreld.

 

Vandag se visie van ‘n nuwe wêreld kry dikwels vorm buite die Christelike denke en tradisie. Jy is ‘n Christen as jy vooruit kyk na ‘n nuwe wêreld, solank as wat jy kritiese vrae vra ook die samelewing waarbinne jy leef, en solank jy die bekering van jouself en die wêreld beklemtoon. Jy is ‘n Christen as jy erken dat jy ‘n rol in hierdie nuwe koninkryk te speel het.

 

Dit is moeilik om mense wat stilstaan in die lewe te aanvaar – wat hulle vreugde put uit klein plesiertjies. Jy weet verseker dat iets beter en iets groter op pad is. As Christen glo jy dat hierdie wêreld sal verbygaan en dat ‘n nuwe wêreld gebore moet word. Nooit gaan jy die stadium bereik waar daar niks meer is om te doen nie.

 

Die Christengetuie is ‘n kritiese getuie, want die Christen bely dat die Here weer sal kom en alles nuut sal maak. Die Christelike lewe vereis radikale veranderings. Die Christen as profeet moet die status quo uitdaag; hy is toegewy aan die stryd vir ‘n beter toekoms.

 

Wat is die kenmerke van ‘n ware profeet? Kritiese profete is mense wat ander aantrek deur hulle innerlike krag. Almal wat met hulle in aanraking kom, kry die indruk dat hulle hulle krag van ‘n verborge bron kry. ‘n Innerlike vryheid vloei uit hulle uit. Hulle word geraak deur wat om hulle gebeur, maar laat nie toe dat dit hulle neerdruk nie. Hulle luister aandagtig en praat met gesag. Hulle is nie onsensitief oor dit wat ander motiveer nie, maar evalueer wat hulle sien in die lig van hulle eie visie. Hulle weet wat werklik van die uiterste belang is. Tog behou hulle ‘n innerlike vryheid in die lig van hulle visie.

 

Mense word aangetrek en afgestoot deur hierdie kritiese profete. Hulle word gesien as ‘n bedreiging. Die manier waarop hulle praat en leef daag die waardes waarop baie mense hulle lewens gebou het uit. Maar ons besef ook dat die werklikheid waarbinne hulle leef die werklikheid is waarna ons verlang. Maar dit eis te veel van ons. Ons wil die kalmte en orde behou. Ons begin deur hulle boodskap te ontken. Dan volg verbale aanvalle en selfs die dood. Maar selfs die dood kan nie hulle roeping ontwrig nie – al wat gebeur is dat ander kritiese profete na vore tree.

 

Gebed beteken ons breek deur die sluier van ons bestaan en ons word deur ‘n visie gelei. Ons besef dit is nie ons wat die mag het om hierdie nuwe skepping ‘n moontlikheid te maak nie. Dit is ‘n geestelike krag wat aan ons gegee is en wat ons in staat stel om in die wêreld, maar nie van die wêreld te wees nie. Die persoon wat bid, kyk met deernis na die wêreld. As ons bid, is ons nooit tevrede met die wêreld soos dit tans is nie.

 

As jy bid open jy jouself vir die invloed van die God wat Homself as Liefde geopenbaar het. Nou wieg jy nie heen en weer as gevolg van al die verskillende menings, idees en gevoelens wat deur jou vloei nie. Jy het ‘n middelpunt vir jou lewe gekry.

 

Gebed beteken ek moet bereid wees om van my sekerhede te vergeet en verder te beweeg. Jy maak jouself kwesbaar, maar jy word vry om die wêreld te sien soos hy werklik is. Jy het geen behoefte om jouself te verdedig nie. Maar dit vereis moed. Jy begin wonder of alles nou die moeite werd is. Maar moed is ook ‘n gawe van God waarvoor jy kan bid.

Vraag: Hoe kan ek my roeping om die wêreld in die Naam van Jesus te vernuwe, uitleef?