Gebedsverhoring

Gebedsverhoring – Francois Malan

Fia vra:

Wat verhinder dat ons bid? Maak gebed enige verskil in die lewe? Gebedsverhoring – hoeveel kan daaraan toegeskryf word?

Antwoord:

Prof Francois Malan antwoord:

1.  Wat verhinder dat ons bid?

Gebed is ‘n gesprek met ons hemelse Vader. In sy omsendbrief wat hy o.a. aan die Efesiërs geskryf het, sê Paulus: in ons verbondenheid met Christus Jesus en deur ons geloof in Hom kan ons met vrymoedigheid en vertroue na God gaan (Efesiërs 3:12). Vir die gemeente in Filippi sê hy: Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle vestand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus (Filippense 4:6-7).

Vir die gemeente in Tessalonika sê Paulus (1 Tessalonisense 5:16-19): die mense wat in Christus Jesus glo moet lewe ‘soos God van hulle verwag’, dat die wil van God vir ons ten slotte meer aanneemlik word as ons eie. God het deur sy Gees in ons kom woon om ons die krag te gee om te lewe soos Hy wil: naamlik in vreugde, gebed en dankbaarheid. Daarom moet ons nie ‘die Heilige Gees teenstaan nie’ (letterlik: uitblus nie; In Efesiërs 4:30 sê hy ‘En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie).

‘Wees altyd bly’, God verwag van ons om in alle omstandighede bly te wees, selfs onder vervolging soos wat die Tessalonisense gely het (1:6; 2:14) en in rou oor hulle geliefdes wat gesterf het (4:13,18). Ons vreugde is nie afhanklik van ons omstandighede nie, want ons bly voortdurend bly dat God ons aan sy Seun Jesus verbind het en so as sy kinders aangeneem het (Romeine 8:14-17).

‘Bid gedurig’. Die opdrag tot volhardende gebed kom herhaaldelik by Paulus voor (Romeine 12:12; Kolossense 4:2; Efesiërs 6:18; vgl. Jesus se opdrag in Lukas 18:1). Hiermee word gebed uitgebrei oor die hele lewe, en ons hele lewe word geleef in gebed, saam met die Gees van God wat permanent in ons kom woon het. Ons moet van Hom afhanklik word om ons te lei in alles wat ons dink en sê en doen, sodat ons in ‘n voortgaande gespreksgemeenskap met God sal lewe.

‘Wees in alle omstandighede dankbaar’ (vgl. Romeine 8:35-39), in voorspoed en teenspoed. Dank God vir alles wat oor jou pad kom en met jou gebeur. Verrig ook jou daaglikse werk met toewyding aan jou werk om ander mense daarmee te dien as jou dank aan God vir jou lewe wat Hy in sy hand hou en vir jou sorg, ook deur jou werk (vgl. 2 Tessalonisense 3:10 en Matteus 6:11 – ons moet werk en ons brood uit die hand van God vra).

Jesaja 59:2 sê: ‘Dit is julle oortredinge wat skeiding gebring het tussen julle en julle God, dit is julle sondes wat maak dat Hy Hom nie aan julle steur nie’ en dan noem hy ‘n lang lys van sondes van die Jode wat teruggekom het uit die ballingskap. Dit is dié sondes wat verhinder dat hulle bid en dat die Here hulle hoor (vgl. ook die lys in Galasiërs 5:21-22).

Wat ons verhinder om te bid is ‘n oneindige lys, alles dinge wat om ons self draai, nie om God nie: ons omstandighede: te besig om te bid in voorspoed, twyfel in teenspoed, die sorge van die lewe en die verleiding van rykdom en begeerte na allerhande dinge en besittings (Markus 4:19); ons selfgesentreerdheid, dat alles wat ons dink en doen om ons self draai: selfgenoegsaam sonder om God se versorging raak te sien of daarom te vra, vertroue op mense en nie op God nie (Psalm 146:3-5), laksheid en luiheid, ens.

As ons God liefhet met ons hele hart sal ons graag met Hom praat. As ons ons naaste liefhet soos onsself sal ons graag vir hom/haar voorbidding by die Here (Matteus 22:37-40). Ons liefdeloosheid verhinder ons om te bid.


2.  Maak gebed enige verskil in die lewe?

Jakobus 4:1-3 sê dat onderlinge stryd en rusies kom van ons selfsugtige begeertes . Ons wil dinge hê, maar kry dit nie en wil dan moord pleeg. Ons is jaloers op ander se goed en kan dit nie in die hande kry nie, en dan maak ons rusie en baklei ons. Ons kry nie omdat ons nie bid nie. En as ons bid ontvang ons nie, omdat ons verkeerd bid. Ons wil net ons selfsugtige begeertes bevredig. As ons begin bid, ook vir ons vyande (Matteus 5:43-48) verander ons wraakgedagtes, jaloesie en lus om rusie te maak en te baklei, en kan ons begin om in vrede te lewe met alle mense sover dit van ons afhang (Romeine 12:18,19).

Volgens Matteus 7:7-11 het Jesus gesê: Vra, en vir julle sal gegee word…hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie gawes gee aan dié wat dit van Hom vra?’ Jesus nooi sy volgelinge om te vertrou op die getrouheid van hulle hemelse Vader wat hulle sal versorg. Die goeie gawes sluit die daaglikse behoeftes van sy kinders in, en sluit ook die ewige seëninge van sy koninkryk in. In Lukas 11:13 word nog meer gesê: ons Vader in die hemel sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra. Dit beteken dat God self by ons sal wees in alle omstandighede om ons by te staan en te lei.

In Matteus 21:22 sê Jesus: ‘…as julle glo, sal julle alles ontvang wat julle in die gebed vra.’ Die belofte wys na die krag wat beskikbaar is vir Jesus se volgelinge om hulle roeping te vervul om vrug te dra in sy koninkryk.

In Johannes 15:7,8 sê Hy: ‘As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.’ Die mens wat Jesus se woord glo kan seker wees sy gebede word beantwoord, want sy gebede sal beheers wees deur die begeerte om God se koninkryk te dien op aarde (vgl. 14:12-14).

En in Johannes 16:23-24 ‘…Dit verseker Ek julle: Wat julle die Vader ook al in my Naam sal bid, sal Hy vir julle gee. Tot nou toe het julle nog nie in my Naam gebid nie. Bid, en julle sal ontvang, sodat julle blydskap volkome kan wees.’ ‘In my Naam’ beteken twee dinge: dit verwys na dinge wat ons vra vir sy saak en sy heerlikheid, en na die Vader wat in Jesus se Naam gee, op grond van die versoening wat Hy bewerk het en ons verhouding tot Hom. Die belofte rus op wat Jesus doen om God se reddende almag vir ons beskikbaar te maak as ons daarom vra in gebed..


3.  Gebedsverhoring – hoeveel kan daaraan toegeskryf word?

1 Joh.5:14 sê: ‘En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra. En aangesien ons weet dat Hy ons gebede verhoor as ons iets só vra, weet ons ook dat ons kry wat ons van Hom vra.’ Ons vrymoedigheid om na God te gaan spruit uit ons aktiewe verhouding van ‘n lewe saam met ons Vader. Om te vra na sy wil beteken dat ons wil omgebuig word om sy wil te doen. Gebed is nie ‘n geveg met God nie, maar ‘n reaksie wat ons wil verander om te doen wat Hy wil, nie om sy wil te verander om ons wil te doen nie (vgl. Jesus se worstelstryd met Homself in Getsemane; Matteus 26:39,42,44). Daarvoor het die Heilige Gees in ons kom woon om ons in ons swakheid, dat ons nie weet wat en hoe ons moet bid nie, by te staan. Hy pleit vir ons by God volgens die wil van God, dat ons almeer gelykvormig sal word aan die beeld van Jesus en sy selfopofferende liefde (Romeine 8:26-29).

Jakobus 5:16-18 sê dat die gebed van ‘n gelowige ‘n kragtige uitwerking het, en gebruik die voorbeeld van Elia, ‘n mens soos ons, ‘n mens wat opreg en ernstig gebid het in sy stryd teen die hemeltergende sondes van koning Agab en sy vrou Isebel (1 Konings 17:1) en dit het vir drie jaar nie gereën nie, en toe hy weer bid het die Here dit weer laat reën in die land (1 Konings 18:1,45). Maar die Here kan ook nee sê vir wat ons bid (2 Korintiërs 12:8-9). Jakobus 5:11 verwys na Job se volharding in sy lyding en waarop dit uitgeloop het, met die opmerking: Die Here is immers ryk aan barmhartigheid en ontferming.

Jesus waarsku teen gebede wat die eer van mense soek en sê: as jy bid, gaan na jou binnekamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon (Matteus 6:5-6).

 

Skrywer: Prof Francois Malan