Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Die Oppas van Skape en Bokke(1) – Hennie Stander
Toe Abraham uit -Ur vertrek het, en ‘n nomadiese lewenswyse aangeneem het, het by met al sy kleinvee getrek. In Genesis 13:2 lees ons dat Abraham ryk was aan kleinvee. Die Bedoeïen het met sy kudde van een weiveld na ‘n ander, en van een waterbron na ‘n ander, getrek. Sy lewenstyl het heeltemal verskil van die van ‘n boer wat reeds gevestig was, en daar het dikwels wrywing en spanning tussen veeboere en landbouers ontstaan. Ons lees reeds in Genesis 4:2 ev van sodanige spanning. Die antieke Hebreërs was primêr herders van skape en bokke en dit het ‘n baie belangrike kenmerk van hul lewenswyse vir omtrent die hele Ou Testamentiese era gebly. Abel was die eerste skaapherder waarvan ons hoor (Genesis 4:2), maar na horn word talle ander Bybelse persone, soos Abraham, Isak, Jakob, Jakob se seuns, ens as veeboere voorgehou (Genesis 13:7; 26:20; 30:36; 37:22).
Nadat die meeste mense die nomadiese lewenswyse laat vaar het en in dorpe en stede gaan woon het, was daar nog steeds ‘n behoefte aan herders. Die nomadiese fase wat die beginjare van die volk Israel tipeer het, is nooit heeltemal vergeet nie. Hulle het byvoorbeeld elke jaar, wanneer hulle die eerste opbrengs van hul oes na die priester moes neem, ‘n geloofsverklaring afgelê wat begin het met die woorde: “My vader was ‘n Arameër wat van plek tot plek getrek het . . .” (Deuteronomium 26:1-5).
Skape is benodig vir die verskaffing van wol, vleis en horings (laasgenoemde is as houers gebruik). Van die velle van die diere is klere gemaak. Die skrywer -van die Hebreërbrief vertel ons ook van Ou Testamentiese geloofsfigure wat in skaapveile en in bokvelle rondgeswerf het (Hebreërs 11:37). Die vleis van die diere, wat gewoonlik gekook is, en soms ook gebraai is, is nie net binne gesinsverband geëet nie, maar ook binne ‘n religieuse konteks. Volgens voorskrif moes die pasgalam oor die vuur gebraai word, met kop, pootjies, binnegoed en al (Eksodus 12:9), maar “binnegoed” het waarskynlik nie die derms ingesluit nie. Voorts het skape ook voorsien in die verskaffing van melk en hulle horings is as houers vir onder andere olie gebruik (vgl 1 Samuel 16:1; 1 Konings 1:39). Verder is ramshorings gebruik as trompette of as blaasinstrumente (Josua 6:4; Rigters 7:18-20). Soms het gesinne ‘n ooilam hans groot gemaak. Dit het dan saam met die kinders groot geword en selfs uit dieselfde beker as die huismense gedrink. Dit is juis hierdie praktyk wat agter die profeet Natan se verhaal lê (2 Samuel 12:1-7).
‘n Bedoeienvrou sorteer bokhaar buitekant haar tent
Skape en bokke
Enkele Hebreeuse woorde kan met beide skaap en met bok vertaal word, omtrent net soos ons Afrikaanse woord kleinvee, en ‘n mens kan nie altyd in elke konteks bepaal of daar na skape, bokke of na albei verwys word nie. Die melk van bokke is in die huishouding gebruik (Spreuke 27:27). ‘n Goeie bokooi het baie melk gegee (ongeveer 3,5 liter per dag). Ten minste een bok is dus by die gesin aangehou alhoewel die ander met die herder saamgegaan het. Die vleis van die bok was nou wel nie so gesog as kalfsvleis nie (vgl Lukas 15:29-30), maar dit is voedsaam en is dikwels tydens ‘n maaltyd voorgesit (Rigters 6:19) en verder is dit as ‘n offerande gebruik (Levitikus 1:10).
Bokhaar is gespin en geweef en dan is saklinne daarvan gemaak (Eksodus 35:23-26). Saklinne is weer gebruik vir tentbedekking asook vir growwe kledingstukke. Selfs die tabernakel is in ‘n tent van bokhaarmateriaal gesit (Eksodus 26:7). Verder is daar goeie leer van bokvelle gemaak. Wanneer ‘n bok doodgemaak is, is die vel dikwels skoongemaak en die hare is afgekrap. Dit is daarna met vet deurweek en vasgewerk sodat ‘n houer daarvan gemaak kon word. Hierdie houers van bokvel is gebruik vir die berging van water, wyn of melk.
In Spreuke 27:23-27 is daar ‘n beskrywing van die sekuriteit wat die kleinvee aan die eienaar gebied het. Dit was dus inderdaad die “rykdom” van die antieke mens. Dit was ook nie altyd soseer die kwaliteit van die kleinvee wat getel het nie, maar veel eerder die kwantiteit daarvan. ‘n Verlore skaap het derhalwe ‘n verlies van wol, melk en vleis impliseer, asook minder lammers vir die volgende jaar. Juis daarom het ‘n herder alles in sy vermoë gedoen om so ‘n verlore skaap weer terug te vind (Lukas 15:3-7).
‘n Bedoeien met sy skape in die woestyn van Judea
Skrywer: Prof Hennie Stander